Bell Pottinger voor dissiplinêre verhoor geroep

Die DA het Dinsdag bevestig dat die omstrede Britse skakelmaatskappy Bell Pottinger in Augustus voor ʼn dissiplinêre verhoor moet verskyn om te antwoord op dié party se klagtes dat die maatskappy rassespanning in Suid-Afrika aangewakker het.

Phumzile van Damme, die DA se skaduminister van kommunikasie, het die Openbare Betrekkinge en Kommunikasievereniging (PRCA), die bedryfsliggaam wat dié Britse industrie reguleer, se besluit om die dissiplinêre verhoor in te stel om die gedrag van die maatskappy te ondersoek, verwelkom.

Die verhoor sal volgens beplanning op Vrydag 18 Augustus in Londen begin. Beide die DA en Bell Pottinger moet nou binne tien werksdae ʼn opsomming van hul vertoë en afskrifte van dokumente wat as bewyse moet dien aan die PRCA verskaf vir hersiening.

Intussen het verskeie burgerlike organisasies aangedui dat hulle ook graag voorleggings vir die verhoor sal wil doen. Die Helen Suzman Stigting, Section 27 en Save SA het versoek om deel van die ondersoek na die maatskappy se werksaamhede te wees om te verseker dat hul optrede in ʼn Suid-Afrikaanse konteks beskou word.

Bell Pottinger het vroeër die maand om verskoning gevra ná dit uit die #GuptaLeaks-ondersoeke geblyk het dat die beeldpoetser ʼn anti-wit mediaveldtog gedryf het. Die maatskappy het onder meer ook die mite rondom “witmonopoliekapitaal” geskep. Verder het dit ook uitgekom dat hulle glo gehelp het om ANC-politici se toesprake te skryf waarin daar verwys is na die moontlikheid van ʼn komende burgeroorlog.

James Henderson, die uitvoerende hoof van Bell Pottinger, het op 6 Julie ʼn amptelike verskoning uitgereik ná die DA ʼn klag teen die maatskappy se werksaamhede by die PRCA gelê het. Bell Pottinger het self ook ʼn prokureursfirma aangestel om die Gupta-rekening en die werk wat hulle vir die familie se sakeondernemings in Suid-Afrika gedoen het, volledig te hersien.

Henderson het verder gesê hul maatskappy het hul rekening met die Guptas se Oakbay Investments gekanselleer, terwyl ʼn vennoot en twee werknemers geskors is sodat hul presiese rol in die gebeure bepaal kan word.

“Ons het dadelik opgetree nadat ons in kennis gestel is dat Bell Pottinger mislei is en dat daar werk gedoen is wat buite die kern van ons etiese beleid val,” het Henderson gesê.

Die verskoning het egter ʼn storm ontketen waarin verskeie Suid-Afrikaners dit as net nog ʼn beeldpoetsaksie van die maatskappy afgemaak het. Verskeie politieke partye, soos die VF Plus en die SAKP het ook die maatskappy se verskoning verwerp.

“Bell Pottinger het ʼn propagandaveldtog namens die Guptas en die Zumas geskep en gedryf. Dit het haat en verdeeldheid gesaai in ʼn land wat daagliks steeds sukkel om sy eie pynlike verlede te verwerk.

“Die DA verwelkom die verhoor, want dit is ons plig om op te staan teen  diegene wat Suid-Afrika wil verdeel. Ons sal ook verder gaan om te eis dat Bell Pottinger alle inligting rondom die Gupta-rekening openbaar moet maak, en sal sorg dat die geld wat die maatskappy uit die rekening gemaak het, weer aan Suid-Afrika terugbetaal word.

“Ons sien daarna uit om ons vertoë tydens die verhoor te lewer sodat ons kan verseker Bell Pottinger word vir hul optrede aanspreeklik gehou,” het Van Damme gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Frankie ·

As ek ‘n Suid Afrikaner in London en omgewing was, sal ek ‘n skare mede SAners bymekaar kry om elk ‘n kruis te dra vir elke slagoffer van die gruwelike plaas moorde.

Wit kruise vir elke moord, groot kruise vir die volwasennes en kleiner kruise vir die kinder – en baba slagoffers.

‘n Rooi kruis vir elke verkragting met die ouderdom van die slagoffer op die kruis geskryf.

Klein pers kruise vir elke troeteldier wat vermoor is.

Ek sal baniere maak wat verduidelik waarvoor die wit, rooi en pers kruise staan.

Ek sal plakate maak met fotos van die slagoffers se gruwelike beserings.

Ek sal enorme baniere maak met al die speilsifieke plaas aanval statistieke…moorde , verkragtings, mans, vrouens, kinders, bejaardes, waneer slagoffers gemartel is asook hoe hulle gemartel is. DROWNED IN BOILING WATER. BURNT WITH HOT IRON. BOUND WITH RAZOR WIRE….ENS ENS ENS.

Ook waneer geliefde troeteldiere voor hulle gesinne gemartel is.

Dis tyd dat Bell Pottinger gekonfronteer word met die direkte resultate van die rasse haat wat hulle aangeblaas het.

En dis tyd dat die wêreld in grafiese detail gekonfronteer word met wat hier in SA aan die gebeur is.

Frankie ·

Is daar iemand is SA met kontakte in in London wat so ‘n optog sal kan reël vir die 18de Augustus?

Magda ·

Stem 100% saam – en hoop die Guptas word verban uit SA en die ander skuldiges wat SA burgers is word vervolg en kry die straf wat hulle verdien.
DANKIE DA EN AL DIE ANDER PARTYE WAT SAAM STAAN DAT DIE KORRUPSIE EN STAATSKAPING GESTOP WORD,

Eish ·

Maggies, dit is absoluut n wonderlike gevoel om sulke terugvoer te kan ontvang waar op n klagte gereageer word met n volskaalse ondersoek en verhoor! So n teenpool met die hordes klagtes wat hier by die SAPS ingedien word deur Burgerregte groepe en politici en eenvoudig nooit weer n woord van gehoor word nie.

Pierre ·

Al word die Zuptas uit SA veban kan hulle nog steeds hulle belange en staats kaping uit n ander land bedryf. Ek se laat hulle bly en maak al hulle besighede toe en raak van hulle lakeie ontslae. Hulle moet brandarm daar uitloop en iewers in n 2 slaapkamer wooneenhied krepeer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.