Bergfietsryers wys hul Epic-staal

Die Cape Epic en natuurskoon loop hand aan hand. Foto: Twitter via Cape Epic.

Die Absa Cape Epic is beslis een van die hoogtepunte op die internasionale bergfietskalender en deelnemers kom van heinde en verre om hul fietstrapstaal in die Kaap te wys.

Die tweede skof van die moordende bergfietsavontuur het vanoggend by die Lourensford-wynlandgoed begin en 123 km verder in Greyton geëindig.

Die Switserse duo van Nino Schurter en Lars Forster was eerste by die eindpunt, gevolg deur Suid-Afrika se Matthew Beers en Christopher Blevins (VSA) van die Toyota NinetyOne Specialized-span.

Pieter du Toit – wat verlede jaar saam met Phillip Buys die rooi trui vir die beste span uit Afrika gedra het – het die skof in die tiende plek voltooi.

In die vroue-afdeling het Robyn de Groot en Frankryk se Pauline Ferrand-Prévot die skof gewen.

Die 39-jarige De Groot het destyds as ’n padfietsryer Suid-Afrika by die Statebondspele in Indië en die Olimpiese Spele in Londen verteenwoordig.

Sy het in 2013 haar padfiets vir ’n bergfiets verruil en terstond die nasionale kampioenskap gewen, terwyl sy in 2017 die Cape Epic in die derde plek voltooi het.

Sy vorm ’n gedugte span met Ferrand-Prévot en hulle het ook in die voorloper tot die eerste skof die septer geswaai.

Die Franse deelnemer word wyd en syd as die wêreld se voorste fietsryer beskou: Sy spog met ’n spul wêreldtitels en ’n Cape Epic-podiumplek is ongetwyfeld in haar visier.

Nodeloos om te sê geniet De Groot dit om saam met die internasionale ster te trap.

“Ek het nie geweet waarvoor ek myself inlaat nie en ek moes spook om by Pauline te bly. Dit was egter ’n ongelooflike sessie. Ek het baie gedraf ter voorbereiding en ek voel baie beter as met vorige Epic-wedrenne,” het sy ná die voorloop wedren gesê.

  • Uitslae van Skof II:

Mans:

  1. Scott-Sram: Nino Schurter (Switserland) en Lars Forster (Switserland).
  2. Toyota NinetyOne Specialized: Matthew Beers (Suid-Afrika) en Christopher Blevins (VSA).
  3. Buff-Megamo: Hans Becking (Nederland) en José Dias (Portugal).
  4. Canyon Northwave MTB: Andreas Seewald (Duitsland) en Martin Stosek (Tsjeggiese Republiek).
  5. Speed Company Racing: Georg Egger (Duitsland) en Lukas Baum (Duitsland).

(Suid-Afrika se Pieter du Toit en Marco Joubert van die Imbuko-span het in die tiende plek klaargemaak).

Vroue:

  1. BMC MTB Racing: Pauline Ferrand-Prévot (Frankryk) en Robyn de Groot (Suid-Afrika).
  2. NinetyOne Songo Spesialized: Haley Batten (VSA) en Sofia Villafane (Argentinië).
  3. Symbtech ZA: Arlane Lüthi (Switserland) en Amy Wakefield (Suid-Afrika).
  4. Faces Rola: Candice Lill (Suid-Afrika) en Mariske Strauss (Suid-Afrika).
  5. Private Client Holdings: Mari Rabie (Suid-Afrika) en Hayley Preen (Suid-Afrika).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.