‘Beseerde gans’ toe eintlik ʼn verestoffer

(Foto: SPCA Midrand/Facebook)

ʼn Besorgde motoris in Midrand het gedink sy doen wat enige ander diereliefhebber sou doen as hulle ʼn dier in nood aantref – ontbied die Dierebeskermingsvereniging (DBV).

Min wetend dat die “beseerde gans” aan die kant van die pad al die tyd ʼn verestoffer was.

Die DBV in Midrand sê een van sy inspekteurs, Theo Mokgatle, het ʼn week gelede ʼn oproep ontvang oor ʼn beseerde gans wat aan die kant van die pad gewaar is.

“Hy het na die betrokke plek gegaan, maar kon geen gans in sig sien nie,” lui dié DBV-tak se Facebook-plasing.

“Terwyl hy op soek na die gans rondgery het, het hy ʼn paar vere in die pad gesien en stilgehou. Hy was egter vir ʼn oomblik uit die veld geslaan.”

(Foto: SPCA Midrand/Facebook)

Mokgatle het ʼn verestoffer in die pad gekry, en die besorgde motoris teruggebel om haar oor sy bevindinge in kennis te stel.

“Sy het bevestig dat sy wel ʼn gans aan die kant van die pad gesien het.”

Die inspekteur het sy soektog voortgesit, maar op die ou end geen gans gewaar nie.

“Die ontwykende gans bly steeds onopgespoor, maar ons [by die DBV] kon nie help om ʼn bietjie oor die inspekteur se vonds te giggel nie.”

Dit is onbekend of die verestoffer dalk vir ʼn gans aangesien is en of ʼn gans werklik aan die kant van die pad was, maar ondertussen self sy weg gevind het.

Die DBV het nogtans die motoris bedank vir haar besorgdheid oor ʼn beseerde dier en gesê sy span sal altyd op gevalle reageer waar ʼn dier in nood verkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.