Besetters verlaat Pta-gesondheidskantoor ná hofbevel

Die hooggeregshof in Pretoria. (Foto: Twitter)

Die hooggeregshof in Pretoria het ’n interdik toegestaan teen ’n groep betogers wat die Tshwane-distriksgesondheidsdienste se kantoor in die Pretoria-middestad byna twee weke lank onwettig beset het. Die besetters het die gebou Saterdag uiteindelik verlaat.

Luidens ʼn verklaring Sondag deur die Gautengse departement van gesondheid, het die betogers aangedring om in die distrik aangestel te word. Hulle volgehoue besetting van die gebou het ook ʼn groot ontwrigting in die lewering van gesondheidsdienste veroorsaak, en personeel moes die afgelope twee weke by ander fasiliteite in die distrik aanmeld.

Die onwettige besetting is by die polisie aangemeld, maar ondanks verskeie besoeke aan die perseel kon die polisie nie daarin slaag om van die besetters ontslae te raak nie.

Die departement het hom gevolglik tot die hof gewend om ʼn interdik te bekom wat Vrydag deur die hof toegestaan is. Ingevolge die interdik moes die besetters die gebou onmiddellik verlaat en ophou om werknemers te intimideer of toegang tot hul werkplek te verhinder.

Die departement sê hy het voorheen ʼn grootskaalse raadplegende proses onderneem waarby kontrakpersoneel, unies en die provinsiale tesourier betrokke was. Dié proses het tot die permanente aanstelling van 8 619 gemeenskapsgesondheidswerkers gelei, wat voorheen net op kontrak aangestel was.

Die proses is in Julie 2020 afgehandel.

“Ons het agtergekom dat sedert die aanstellings (ná ʼn verifiëringsproses) gemaak is, het die departement versoeke begin ontvang van mense wat aanvoer dat hulle in een of ander stadium as gemeenskapsgesondheidswerkers gewerk het,” het departement Sondag gesê.

“Die departement spreek sy waardering uit teenoor die distrikswerkers vir hul geduld gedurende hierdie moeilike tyd. Ons wil hulle verseker dat hul veiligheid ʼn prioriteit bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank John ·

Hulle moet by die government gaan stike tot die vir hulle werk gee

Mieke ·

Eintlik tragies dat mense wat wil werk in SA eenvoudig geen werk kan kry nie. Daar is so baie wat net ‘n werk wil hê en daarteenoor sit mens met ontevrede werkers wat staak en toi- toi vir meer salaris (wat reeds ‘n vet salaris verdien)

Niklaas ·

Dis eintlik ‘n skande dat ons SAP wat altyd so voortreflik take kon uitvoer , nou nie die vermoëns het om paar besetters hardhandig te verwyder nie. Moet die spulletjie besetters dan pleitend en smekend benader word ? Gebruik Tazers of Traangas !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.