Beskerm geloofsvryheid van dié wat huwelike voltrek – FOR SA

Die departement van binnelandse sake het onlangs ʼn nuwe huwelikswetsontwerp vir openbare kommentaar bekend gestel. (Foto: pixabay)

Die organisasie Freedom of Religion South Africa (FOR SA) bly bekommerd dat die konsepwet oor huwelike steeds nie ʼn artikel bevat wat die geloofsvryheid van godsdienstige huweliksbevestigers uitdruklik beskerm nie.

Die departement van binnelandse sake het onlangs ʼn nuwe huwelikswetsontwerp vir openbare kommentaar bekend gestel. Die wetsontwerp is ʼn poging om Suid-Afrika se gefragmenteerde huwelikswetgewing te laat strook en om dié geloofshuwelike wat nie wetlik deur bestaande wetgewing beskerm word nie, ook te erken.

Die wetsontwerp is die gevolg van ʼn omvattende proses van openbare deelname en mense het tot 31 Augustus om hul kommentaar daaroor in te dien.

Michael Swain, uitvoerende direkteur van FOR SA, sê die organisasie is oor die algemeen tevrede dat die wetsontwerp die uitkomste van die witskrif weerspieël.

“Ons bly nietemin bekommerd dat die wetsontwerp nie ʼn artikel bevat wat die geloofsvryheid van godsdienstige huweliksbevestigers uitdruklik beskerm nie. Dit is nodig om te verseker dat hulle nie gedwing kan word om enige huwelik te voltrek wat strydig is met hul geloofsoortuigings of dié van die geloofsorganisasie waaraan hul behoort nie,” sê Swain.

FOR SA vra ook vir groter duidelikheid sodat geloofsleiers nie onbedoeld gekriminaliseer word omdat hulle slegs die “geloofskomponent” van ʼn huwelik voltrek nie.

Die wetsontwerp verbreed ook die omvang van wie ʼn huweliksbeampte kan wees en laat enigiemand in ʼn verantwoordelike posisie binne ʼn organisasie toe om aansoek te doen om só ʼn beampte te word.

Huweliksbeamptes sal voortaan dus nie net meer beperk word tot die staat se huweliksbeamptes (soos amptenare van die departement van binnelandse sake) nie, maar kan ook geloofsleiers wees wat aansoek gedoen het vir en huwelikslisensies het.

“FOR SA glo dit gaan beter voldoen aan die diverse behoeftes van ʼn diverse samelewing soos Suid-Afrika waar alle maatskaplike groepe nou hul eie huweliksbeamptes kan hê wat verhoudings kan voltrek wat strook met hul waardestelsels, terwyl dit ook wetgewing oor huwelike nakom,” sê Swain.

Om kommentaar te lewer op die wetsontwerp, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

HPJ ·

En al die DA nie hieroor kla nie LBTQ is n hoeksteen vsn hulle beleid

Truman Burbank ·

Waarom moet die geloof aldan nie van die huweliks beampte hoegenaamd in bespreking wees.

Delia ·

Want as jy glo dat huwelike van dieselfde geslag sonde is dan is dit ter sprake

Johann ·

Dis omdat leefstyl keuses en “regte” afgedwing word as die norm vir SA se samelewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.