Besluit dalk gou gemaak oor Gerco van Deventer

‘n Skermgreep uit die video wat Gerco van Deventer Saterdag opgeneem het. (Video: Verskaf)

Gerco van Deventer, ʼn Suid-Afrikaner wat in Mali vir ʼn losprys as gyselaar gehou word, se gevangenemers is besig om ʼn finale besluit te neem vir sy onvoorwaardelike vrylating.

Mohamed Yehia Dicko, die Suid-Afrikaanse noodlenigingsgroep Gift of the Givers se gyselaarsonderhandelaar in Mali, het pas dié bevestiging ontvang.

Dr. Imtiaz Sooliman, voorsitter en stigter van Gift of the Givers, sê Yehia het die landelike gebiede in die noorde van Mali deurkruis en die organisasie se hoofonderhandelaar ontmoet. Hy het Yehia op sy beurt aan verskeie ander bemiddelaars verbind en ʼn gesprek namens die organisasie met JNIM (al-Kaïda in Mali) versoek.

“Yehia is tans in die woestyn in Mali en gaan van dorp na dorp om met stamleiers en ouderlinge te gesels om ondersteuning te werf om die ontvoerders op ʼn positiewe manier te beïnvloed.”

Gift of the Givers het in Ramadan (die maand van genade) ʼn versoek aan al-Kaïda gerig vir die onvoorwaardelike vrylating van Van Deventer, met ander woorde dat geen losprys vir hom betaal word nie.

“Al-Kaïda het in daardie stadium, in die middel van April, bevestig dat hulle ons briewe, foto’s, video’s en die persoonlike versoek van Shereen van Deventer en haar seun ontvang het. Onder normale omstandighede, en uit vorige ervaring, sal ʼn antwoord binne 72 uur gestuur word indien die aanbod verwerp word. Twee maande het al verstryk sedert Ramadan en die terugvoer wat ons op verskeie geleenthede ontvang het, is dat hulle moontlikhede ondersoek.”

Mali-staatsveiligheid het intussen sy volle samewerking aan Gift of the Givers aangebied en het die Suid-Afrikaanse staatsveiligheid versoek om ʼn amptelike brief te stuur om hul bystand te versoek in Van Deventer se saak.

Gerco van Deventer en sy vrou, Shereen. (Foto: Facebook)

“Dit is deel van die diplomatieke proses. Gift of the Givers het ons staatsveiligheid ʼn paar dae gelede in kennis gestel met die korrekte naam en kontaknommer binne Mali-staatsveiligheid. Ons het ʼn bykomende versoek om goedhartigheid gestuur aan die ontvoerders en hulle gevra om die versoek in ʼn gunstige lig te beskou ter ere van die dae van Hajj (pelgrimstog) wat binnekort plaasvind. Ons wag in geloof en gebed vir ʼn positiewe uitslag vir ʼn gesinsman wat al vyf jaar en sewe maande in aanhouding is.”

Van Deventer, ’n ervare Suid-Afrikaanse paramedikus wat voorheen onder meer in Afghanistan gewerk het, is sedert November 2017 in aanhouding nadat hy destyds vir werk na Libië gereis het en op die eerste dag van sy nuwe werk as gyselaar geneem is.

Maroela Media het vroeër berig oor ‘n videoboodskap wat vrygestel is waarin Van Deventer pleit vir enige moontlike hulp of optrede wat tot sy vrylating sal lei. Hy het gesê dat hy geen kennis dra van waar sy familie is óf hoe dit met hulle gaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sonblom ·

Ek hoop en bid vir ‘n positiewe besluit vir hierdie man se vrylating.

Bre ·

Daar is iets aangaande hierdie dr wat my altyd onrustig maak. Weet, weet ek nie hoekom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.