Besluit verwelkom om Hlophe, Motata uit amp te verwyder

Afgetrede regter Nkola Motata. (Foto: Neil Baynes/Judges Matter)

Die organisasie Freedom under Law (FUL) het ʼn besluit van die parlement verwelkom om regters John Hlophe en Nkola Motata uit die amp te onthef.

Elf regters van die Konstitusionele Hof het in 2008 al klagte teen Hlophe ingedien en beweer dat hy onbehoorlik in ʼn saak wat met oudpres. Jacob Zuma verband gehou het, ingemeng het. Die Regterlike Dienskommissie (RDK) het aanvanklik die klagte verwerp, maar ná regstappe deur FUL is die besluit omgekeer.

Ná regsprosesse wat jare lank geduur het, is ʼn regterlike gedragstribunaal in 2018 byeengeroep en in 2021 het die tribunaal aanbeveel dat Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap, uit sy amp verwyder word. In 2022 het die volle RDK dié besluit bekragtig en die saak na die parlement verwys. ʼn Volbank regters het ook Hlophe se aansoek om die besluit ter syde te laat stel, van die hand gewys.

Motata is op sy beurt aan dronkbestuur skuldig bevind ná ʼn voorval in 2007. In 2010 is sy appèlaansoek teen die skuldigbevinding van die hand gewys. Twee klagte is teen Motata ingedien; dit het verband gehou met die gebruik van rassistiese taalgebruik op die toneel, asook die voer van ʼn verdedigingstrategie wat hy geweet het nie die waarheid is nie, sê FUL.

Die Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

In 2018, ná etlike vertragings, het ʼn regterlike gedragstribunaal die klagte gehandhaaf en aanbeveel dat Motata uit sy amp verwyder word. Die RDK het dié besluit omgekeer en tot die gevolgtrekking gekom dat daar nie aan die standaard vir growwe wangedrag voldoen is nie. Verlede jaar is hierdie besluit ná regstappe deur FUL weer omgekeer.

“Albei regters het probeer keer dat hulle aanspreeklik gehou word vir growwe wangedrag deur talle hofgedinge sonder meriete van stapel te stuur,” sê FUL.

Die Grondwet bepaal egter dat, nadat die RDK ʼn regter aan growwe wangedrag skuldig bevind het, die parlement ʼn resolusie moet aanvaar – met ʼn tweederdemeerderheid – om die regter uit die amp te verwyder. Die president moet dan die regter formeel uit die amp verwyder.

Die parlement het Woensdag dié resolusie aanvaar.

“Die uitslag van die stemming in die Nasionale Vergadering is ʼn hartseer oomblik vir die regbank; dit is die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat regters weens wangedrag uit die amp verwyder word,” sê FUL.

“Dit verteenwoordig ʼn belangrike stap in die versekering van regterlike aanspreeklikheid, gegewe die aard van die wangedrag waaraan albei regters hulle skuldig gemaak het.

“Dit is noodsaaklik om die integriteit van die regbank te beskerm, asook vir openbare vertroue in ons regters, dat daar ernstige en sinvolle sanksies teen regters ingestel word wat ernstige oortredings van wangedrag begaan.”

FUL sê hoewel die proses veel langer geduur het as wat dit moet en verskeie problematiese kwessies in die proses om regters aanspreeklik te hou uitgelig is, die finale besluit wel verwelkom word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kokerboom ·

Motata: 17 JAAR
Hlope : 16 JAAR
Wonderlike effektiewe regstelsel!!!!!(Sinies)
Hoes belastingbetaler!!!

Danie ·

Is dit nie n bietjie te laat.Die vertroue in regstelsel al lankal in sy glory.Dit vat die staat 10 tot 15 jaar om op te tree dan sit hulle in elk geval met n vet pensioen.

Marthinus Johannes ·

Lyk vir my daar moet n paar koppe binne die DRK ook rol. Te veel van hulle wat die twee goedgesind was en gehelp het.

Bolandse Nooi ·

My hene ………… wonderwerke GEBEUR darem in ‘n verkiesingsjaar!!!! Na onderskeidelik 16 en 17 jaar, word dié twee regters UITEINDELIK geskors (seker met ‘n goue handdruk en lewenslange “voordele”). Die R350.00 TERS-voordele, waarvoor daar duidelik gesê is, NIE geld is NIE, word voortgesit vir nóg 1 jaar, al het meeste besighede redelik herstel van COVid-19 en gaan sommiges weer redelik goed aan. Maar boeta, hulle káp die mense wat meer as R8000.00/maand verdien met belasting om die kort-invordering van belasting op die 2022/2023 boekjaar te delg …

Jacobus ·

So Motata het vir 17 jaar sy volle salaris en byvoordele gekry terwyl hy by die huis gesit het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.