Beste, duurste plekke vir ʼn vakansiehuis

Dié woonstelle in Clifton kan enigiets tussen R20 miljoen en R200 miljoen kos. (Foto: Seeff)

Die eiendomsgroep Seeff sê die aanvraag na huise in Wes-Kaapse kusdorpe het die afgelope twee jaar die hoogte in geskiet. Kopers het enigiets van tussen R2 miljoen en R60 miljoen vir ʼn eiendom hier opgedok.

Dit is skynbaar ook nie net mense wat na die Wes-Kaap semigreer wat op soek is na eiendom nie. “Daar is ook ʼn groot behoefte vir mense wat in ekonomiese sentrums soos Gauteng wil bly, om ʼn tweede eiendom as vakansiehuis of belegging te hê,” sê Seeff se agente.

Ook kusdorpe in die Oos-Kaap het ʼn toename in aanvraag na eiendom beleef, waar eiendomspryse dikwels effens meer bekostigbaar as in die Wes-Kaap is.

Só lyk Seeff se lys van die beste (en duurste) plekke om ʼn huisie by die see te besit.

Clifton en Kampsbaai

Altesaam 24 eiendomme van meer as R20 miljoen elk is die afgelope jaar in Kampsbaai verkoop, teenoor 16 eiendomme in dié prysklas in 2022.

In totaal is R701 miljoen vanjaar vir dié eiendomme betaal.

Volgens Ross Levin, ʼn Kaapse eiendomsagent, is Kampsbaai en Clifton twee van die gewildste plekke vir ryk kopers om vakansiehuise aan te skaf. ʼn Huis sal jou hier gemiddel R50 miljoen kos en ʼn woonstel R22 miljoen.

Volgens hom lê die aantrekkingskrag van dié bestemmings in die pragtige natuurskoon en blouvlagstrande. “Kopers belê nie net hier in die gehalte lewenstyl nie. Hierdie gebied het van die beste groei in eiendomswaarde die afgelope dekade getoon en lok ook internasionale kopers, hoofsaaklik van Brittanje en Duitsland.”

Plettenbergbaai

Die uitsig by The Plettenberg-hotel. (Foto: Clifford Roberts)

Huise in Plettenbergbaai het die afgelope jaar vir van R17 miljoen tot R33 miljoen verkoop. Dit is die meeste wat vir huise buite die Atlantiese Kusstreek betaal is. Volgens Alet Ollemans, eiendomsagent in hierdie area, is die heerlike klimaat en kosmopolitiese leefstyl veral aanloklik. In Plettenbergbaai kan beleggers nog wegkom met R1,4 miljoen vir ʼn woonstel, maar luukse eenhede sal jou van R6,5 miljoen tot R12 miljoen uit die sak jaag. Huise kos van R2 miljoen tot R4 miljoen, maar luukse wonings kan soveel as R60 miljoen kos.

Knysna

Huise in Knysna se Thesen-eiland het die afgelope jare soos soetkoek verkoop, sê Ollemans. Huise hier kos van R5 miljoen tot R15 miljoen. Ander gewilde areas is die Brenton-gebiede, Simola- en Pezula-landgoedere en die nabygeleë Sedgefield.

Langebaan en Yzerfontein aan die Weskus

Hierdie dorpies se trefafstand van Kaapstad en pragtige vakansiehuise maak dit baie gewild by vakansiegangers en AirBnB-kliënte. Huise met ʼn see-uitsig in Langebaan het die afgelope jaar vir tussen R8 miljoen en R9 miljoen verkoop. Van hierdie huise is vir presies dieselfde bedrag as waarvoor dit in die mark was, verkoop. “Dit wys hoe gewild hierdie gebied is,” sê Seeff se agente hier.

Volgens die agente Michelle Livingstone-Louw and Nelia Retief is Yzerfontein veral gewild by dié kopers wat ʼn stiller lewenstyl wil handhaaf, aangesien hier min winkels en restaurante is. Van die huise hier is die afgelope jaar vir tussen R6 miljoen en R7 miljoen verkoop.

Pringlebaai en Rooiels in Overberg/Overstrand

Dié dorpies is tussen die natuurlike fynbos van die Kogelberg-biosfeer geleë en huisves ʼn verskeidenheid diere, voëls en seelewe. Verskeie huise in Pringlebaai is die afgelope jaar vir tussen R3 miljoen en R5 miljoen verkoop, maar huise van omtrent R2 miljoen is nog beskikbaar. In Rooiels sal jy gemiddeld R3,6 miljoen vir ʼn eiendom betaal.

Jeffreysbaai en St. Francisbaai in die Oos-Kaap

Hierdie dorpies is bekend as gunstelinge vir branderplankryers. Volgens Seeff bied dié dorpe baie toeganklike eiendomspryse van R2 miljoen tot R8 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.