Bestuurskole betoog by lisensiekantore  

Betogers meen die eNatis-stelsel is net nóg ʼn geldmaakskema. (Foto: Verskaf)

Bestuurskole se betogings teen die regering se eNatis-stelsel het verskeie lisensiekantore in Gauteng Donderdag tot stilstand geruk.

Die Nasionale Bestuurskoolvereniging van Suid-Afrika het in ʼn kennisgewing aangedui dat hy vir die “opskorting” van dié nasionale elektroniese administrasiestelsel vir verkeersinligting betoog.

Die departement van vervoer het die eNatis-stelsel in 2007 in werking gestel.

Ná byna 15 jaar lyk dit egter of daar steeds baie gebreke en ongerymdhede met die stelsel is. Die Openbare Beskermer (OB) is in September verlede jaar versoek om ondersoek na wanbestuur en korrupsie in dié verband in te stel.

Betogers meen die eNatis-stelsel is net nóg ʼn geldmaakskema. (Foto: Verskaf)

Luidens plakkate wat sommige betogers Donderdag rondgeswaai het, is die “mislukte stelsel” niks anders as ʼn “geldmaakskema” nie.

Die vereniging het motoriste en lede van die publiek aangeraai om op 24 en 25 Februarie weg te bly van lisensiekantore.

Lindela Mashigo, woordvoerder vir die Tshwane-metroraad, het Donderdag gesê dat die betogings tot diensonderbrekings by verskeie lisensiekantore in die provinsie gelei het.

In Tshwane is lisensiekantore in Bronkhorstspruit, Centurion, Rayton en Waltloo deur die betogings beïnvloed. Mashigo sê die ingange van die lisensiekantore in Germiston aan die Oos-Rand en Krugersdorp aan die Wes-Rand word ook deur bestuurskole versper.

Betogers meen die eNatis-stelsel is net nóg ʼn geldmaakskema. (Foto: Verskaf)

Die lisensiekantoor in Waltloo het diegene wat Donderdag en Vrydag besprekings vir bestuurs- en leerlingslisensies gemaak het glo reeds in kennis gestel dat hul afsprake uitgestel word. Besprekings vir die hernuwing van bestuurslisensies is vir 14 dae geldig.

Die Saambou-, TMPD Gespesialiseerde Kantoor en die Akasia-lisensiekantoor sal egter soos gewoon oop wees.

“Die Stad vra groot verskoning vir die ongerief wat deur hierdie onbeplande diensonderbrekings veroorsaak is,” het Mashigo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Waarnemer ·

Natuurlik sal die “bestuurskole” wal gooi,hulle inkomste word verlaag omdat voornemende bestuurders nie meer so volop is nou dat almal jare lank moet wag vir n afspraak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.