Bestuursprobleme in netbal sypel glo deur tot op skoolvlak

Argieffoto bloot ter illustrasie van netbal. (Foto: G-Force Netball/Facebook)

Dit is klaarblyklik nie net die Protea-netbalspan wat met bestuursprobleme sit nie.

Nadat verdoemende bewerings oor die uitvoerende komitee van Netbal Suid-Afrika (NSA) onlangs aan die lig gekom het, het die ouer van ’n o. 15-netbalspeler in die Oos-Kaap Maroela Media vandeesweek ook genader oor beweerde bestuursprobleme op skoolvlak – veral in dié provinsie.

Dié ma sê daar is ʼn duidelike gebrek aan doeltreffende kommunikasie en bestuur binne die uitvoerende komitee van Oos-Kaap Skolenetbal. En hierdie probleme veroorsaak nou dat sommige ouers selfs hul dogters aan die sport onttrek.

Nadat die ma van ’n o. 13- Oos-Kaapse speler byna die helfte van die koste van ’n komende netbaltoer betaal en toe onttrek het, is dié jong speler glo vervang met ’n speler wat nie eers die finale proewe vir die toernooi gehaal het nie.

Die uitvoerende komitee van Oos-Kaap Skolenetbal word daarvan beskuldig dat hy netbal in die Oos-Kaap ’n onreg aandoen aangesien jong talent verlore gaan.

“En dis hier waar die volgende Protea-spelers ontwikkel word,” vertel die ouer wat Maroela Media vandeesweek noodgedwonge genader het.

Die ouer vertel daar heers al geruime tyd ’n gevoel van frustrasie onder alle ouderdomsgroepe, hoofsaaklik weens die gebrek aan kommunikasie en swak bestuur.

“Die uitvoerende bestuur kommunikeer niks duidelik of binne ʼn redelike tyd aan die spanbestuurders en ouers nie.”

Argieffoto bloot ter illustrasie van netbal. (Foto: Glen Carrie/Unsplash)

Dít het net weer duidelik geword in aanloop tot SA Skolenetbal se sogenaamde All Ages-toernooi wat volgende week by die Hoërskool EG Jansen in Boksburg aan die Oos-Rand aangebied word, vertel die ouer.

Volgens die ouer kon die bestuur van Oos-Kaap Skolenetbal aanvanklik nie die korrekte datum vir die toernooi aan ouers deurgee nie en ouers was genoop om rond te bel om te bevestig wanneer hul kinders in Gauteng moet aanmeld.

Daar was ook groot ongelukkigheid nadat daar aan ouers gesê is dat die toer sowat R10 000 per speler gaan beloop. Die stewige bedrag het nie die prys van sportdrag vir die toernooi ingesluit nie, maar wel vervoer.

’n “Buitensporige” kwotasie vir busse van die Oos-Kaap na Gauteng is bekom.

Oos-Kaap Skolenetbal het later glo erken dat die geleentheidsbeplanner nie ʼn kwotasie van ander moontlike diensverskaffers aangevra het nie.

Die ouer vertel dat ouers eindelik die toerkoste afgestry gekry het en daar is besluit dat die Oos-Kaapse spelers na Gauteng sal vlieg. Sommige ouers was bekommerd omdat hul kinders honderde kilometer ver met ’n bus sou moes ry.

Netbal Oos-Kaap het ingestem dat spelers mag vlieg, mits dit van Oos-Londen is.

Ouers het egter gevoel dit is verregaande aangesien daar van hul verwag is om honderde kilometer na ’n lughawe te reis terwyl daar ʼn ander lughawe veel nader is.

“Die Oos-Kaap is die tweede grootste provinsie in Suid-Afrika. Dit maak dit onmoontlik en onrealisties om net een vertrekpunt te hê,” sê die ouer.

(Argieffoto: Facebook)

Daar is eindelik ná ʼn gespook besluit dat spelers van hul naaste lughawe kan vlieg.

Die Oos-Kaapse spelers se klere vir die toernooi was hierdie jaar – nes vorige jare – ook ’n kopseer, vertel die ouer.

Die ouer verduidelik dat die spanklere elke jaar op die nipper onder spelers uitgedeel word wat tot gevolg het dat sommiges se klere nie behoorlik pas nie. “Hulle voel dan nie gemaklik nie en is selfbewus in hul netbalklere.

“Dit is hartseer, want ons het baie potensiaal en talent in die Oos-Kaap. Maar ons kan nie meeding met die Wes-Kaap en Gauteng wie se reëlings soos ’n goed geoliede masjien loop nie.

“Dit het uiteindelik ’n invloed oor waar ons op die punteleer eindig.”

Desperate brief

Die Oos-Kaapse ouer het uit desperaatheid vroeër vandeesmaand ’n brief aan SA Netbal Skole gestuur “namens talle ouers in die Oos-Kaap wat lief is vir sport, maar in twee geskeur is of hulle hul dogters wil toelaat om op provinsiale vlak deel te neem weens bestuursmislukking”.

Dit gaan vir haar oor die liefde vir netbal en die ontwikkeling daarvan, verduidelik die ouer aan Maroela Media. “Maar soos dit nou gaan, twyfel ouers of hul kind vir die proewe moet aanmeld.

“Ons ouers het ’n punt van versadiging bereik.”

Die betrokke ouer het uit desperaatheid vroeër vandeesmaand ’n brief aan Netbal Suid-Afrika gestuur en dié het intussen laat weet die bewerings word ondersoek.

Die ouer hou Singatwa Magida, president van Oos-Kaapse Skolenetbal, vir die probleme verantwoordelik .

Maroela Media het verskeie vrae aan Magida gestel rakende die bewerings en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.