Bethlehem-boer praat oor aanval

Sakkie Bell (Foto: Verskaf)

“Hy onthou als van die aanval en praat daaroor.”

Só vertel Deidré Bell, dogter van die varkboer Sakkie Bell (67) wat Sondag op sy plaas in die Bethlehem-distrik in die Vrystaat aangeval is.

Bell word tans in die Mediclinic Hoogland in Bethlehem vir sy beserings behandel.

“Hy praat maklik oor die aanval. Dit is goed sodat hy dit uit sy sisteem kan kry. Voor sy geliefdes lyk hy heeltemal orraait, ons weet nou net nie hoe dit hom raak as ons nie by hom is nie,” vertel Deidré.

Bell het swelling en bloeding op die brein weens kopbeserings wat hy tydens die aanval opgedoen het. Die bloeding op die brein is gestop, maar die swelling het Bell se gehoor aangetas.

“Sondag moes ons vir hom skryf of handseine gooi om iets vir hom te sê. Van Maandag af kon hy weer bietjie hoor as jy by sy oor staan en hard praat.

“Behalwe vir sy gehoor weet ons nog nie watter ander blywende skade hy dalk kon opdoen nie.”

Bell se skouer was ontwrig en is terug in pootjie gedruk en is vol kneusplekke en letsels. Hy het ook beserings aan sy voete en hande opgedoen waar die draad waarmee hy vasgemaak was, hom seergemaak het.

“Die dokter monitor sy beserings, en veral sy brein, en as als goed gaan sal hy dalk nog voor die einde van die week ontslaan word.”

Bell is in die varkhok deur die mans oorval (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig Bell is Sondagoggend deur twee aanvallers op sy plaas, Fairview, oorval.

Bell se verloofde, Marie du Plessis (66), en haar broer, Fanie Pretorius, is omstreeks 09:30 winkel toe. Bell het saam met Deidré op die plaas agtergebly. Sy woon in ʼn woonstel ʼn paar treë van die plaashuis af.

Bell het omstreeks 09:30 uit die huis gegaan toe hy die honde hoor blaf.

“My pa het gesien daar is varke buite die hok. Hy het na my woonstel toe gekom en by die slaapkamervenster na my geroep om hom te kom help.

“Ek was besig om my skoene aan te trek toe ek net ewe skielik op die bed aan die slaap geraak het. Dit was baie eienaardig hoe vinnig ek aan die slaap geraak het. Ek glo vas dit was met die genade van die Here, want ons weet nie wat die aanvallers aan my sou doen nie.”

Bell het aan Deidré vertel hy het die varke die hok ingejaag toe hy sonder waarskuwing met ʼn stuk yster teen sy agterkop geslaan is.

“Hy het vorentoe geval en ʼn ander persoon het hom toe met ʼn voorwerp op sy regterarm geslaan. Daarna is sy voete en hande met draad vasgemaak. Hulle het ook ʼn kombers met sy broek se belt oor sy kop vasgemaak.”

Bell het nie een van die aanvallers gesien nie en sê dit lyk asof daar twee mans by hom was.

Volgens Deidré is die mans daarna die huis in en het haar pa se vuurwapens uit die kluis gebuit en ook sy selfoon en bakkie se sleutels gevat. Die huis se sleutels was aan die bakkie se sleutels vas.

Toe Du Plessis en haar broer omstreeks 11:00 terugkeer huis toe, het hulle opgemerk dat die huis se deur oop is. Hulle is by die huis in en het na Bell geroep, maar geen antwoord gekry nie. Hy was ook nie in die huis nie. Du Plessis het gesien haar klerekas se deur staan oop.

Sy het onraad vermoed toe sy opmerk dat die kluis – waarin vuurwapens gehou word – oop is. ’n Geweer en ’n pistool is uit die kluis gesteel.

Du Plessis het die plaaslike buurtwag ontbied wat na Bell help soek het. Hy is toe in die varkhok aangetref.

“Ons het na die tyd my pa se pakkie sigarette, belt, kombers en die draad – met bloed op – in die varkhok gekry.”

Niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Deidré het ʼn fondsinsamelingsinisiatief van stapel gestuur waarin sy mense vra vir donasies sodat hulle haar pa se mediese rekeninge kan betaal.

“Daar is ʼn magdom rekeninge en my pa se medies is uitgeput. Ons sit met ons hande in ons hare oor hoe ons die rekeninge gaan betaal.”

Boonop gaan Bell ook nie ʼn inkomste kan verdien terwyl hy met sy beserings tuis moet bly nie.

Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak, kan ‘n e-pos na [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Heinrich ·

Niks lukraak hier nie, besliste en beplande georkestreerde optrede. Mag hy vinnig herstel en mag sy aanvallers kry wat hulle verdien.

Mellivora ·

Sterkte vorentoe, die geestelike herstel is die moeilikste. Mens hou aan om oor jou skouer te kyk.

Jaco ·

Hoop hy herstel gou.

Maar jy trek 09h30 in die oggend jou skoene aan en jy raak net aan die slaap amper soos bewussyn verloor sonder om moeg te wees. Iets daar maak nie sin.

Nicholaas ·

Presies wat ek ook gedink het, en hoe het die aanvallers nie van haar geweet, hul hou n plek lank dop om te kyk wat aangaan voor hul toeslaan.

Phillip ·

Dit het ook by my opgekom oor daai 09h30 as ek wakker gemaak word en se die varke is uit so ek my litte roer en gaan help ek weet nie so mooi nie

Oe la la ·

Janee die storie wat hier op gedis word maak nie lekker sin nie

Ann ·

Julle weet natuurlik dat dit wel kan sin maak. Die aanvallers is beslis nie onnosel nie. Al ooit gehoor van daardie bossie wat gebrand word wat jou soos ‘n kers uitslaan?
Moenie nou weer verkeerde aannames maak nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ann, om ou CDs te brand doen ook die truuk.

Piet parys ·

Stuur die mediese rek vir die regering . Dis hulle plig om misdaad uit te roei . Beki Cele se rekenning .

Anel ·

Presies wat ek ook wou sê. Sommer ‘n siviele eis vir verlies aan inkomste ook. Ons moet iewers begin. In dit moet uit sy privaat rekening kom.

Madelein ·

Sjoe, ek hoop die oom herstel vinnig. Ek wonder maar net oor die storie???

Harley Davidson ·

My oom daai vuurwapen moet nie in die kluis wees nie maar aan jou sy en jy moet ten alle tye n aanval verwag as jy mak raak is jy dood.

Harley Davidson ·

Wie val die mense so aan is dit huidige of voorheen benaadeelde persone dit kan en is baie belangrik om die feite te hê.

Marcello ·

Die feit dat die dogter so gou aan die slaap geraak het, laat my dink aan die taktiek wat inbrekers gebruik, hulle gooi ‘n CD Disk wat brand in die vertrek, en die persone raak vas aan die slaap, en so stroop hulle die plek. Dit kom uit ‘n gevangene se mond uit wat gepraat het.

Koen ·

????????????????????????. Verskoon dat ek lag. As iemand ‘n brandende CD in my huis gooi sal ek beslis nie wil slaap nie. Hoe kan enige regdenkende mens sulke strooi glo.

Republikein in die Wes Kaap ·

Koen, as jy uitpass kan jy nie slaap nie.

Danie ·

Plaas aanvalle en misdaad veral sentraal vrystaat en oos vrystaat aan die styg mbt veediefstal , sal praat help? Sterkte my oom ek wens jou gou beterskap toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.