Bethlehem-inwoners rol moue op

Belinda Jooste en Hannetjie van Veenhuyzen, inwoners van Bethlehem wat slaggate in hul vrye tyd herstel (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Bethlehem-inwoners het besluit om self moue op te rol en die stad reg te ruk sodat dit weer as die juweel van die Oos-Vrystaat kan bekendstaan.

Bethlehem is die belangrikse stad in die Oos-Vrystaat, met vragmotors se hoofroete tussen Durban en Kaapstad (die N5-snelweg) wat deur die stad loop.

Dertig jaar gelede was dit ʼn spogstad, met ekonomiese opflikkering soos ondernemings in die stad oopgemaak en toeriste daarheen gestroom het.

Vandag staan dinge stil. Inwoners trek uit die stad en ondernemings sluit hul deure.

Inwoners verdrink in riool, koes vir slaggate, of eerder dongas in die paaie en sit elke tweede dag sonder water of krag. Onwettige vullishope kom op soos onkruid en die gras staan op plekke heuphoogte.

Dit alles weens swak dienslewering.

“Bethlehem is maar net ʼn koekie-afdruk van die res van die land waar korrupsie in munisipaliteite seëvier, infrastruktuur nie onderhou word nie weens munisipaliteite se bankrotskap, tekort aan kundigheid en omdat daar nie meer politieke wil is nie,” sê Isoldé Laesecke, ʼn onafhanklike raadslid in die Dihlabeng- plaalike munisipaliteit.

‘Die gemeenskap het mag’

Hoewel dié prentjie donker lyk, is daar steeds hoop te midde van ʼn oplewing onder inwoners om eienaarskap van die stad te neem.

“Die oplossing lê in die gemeenskap, nie in ʼn politieke party nie,” sê Laesecke, wat self op grondvlak woeker. “En dit is duidelik te sien in die woonbuurte waar inwoners al begin ingryp het. Dit is skoon en netjies.”

Volgens Laesecke is dit positief om te sien hoe hierdie inwoners se dade stadig maar seker ander beïnvloed.

Maroela Media het saam met Laesecke deur die stad gery en in sommige woonbuurte gesien hoe die gras in die parkies, op die sypaadjies en in die middelmannetjies netjies en kort gesny is.

Laesecke het die een parkie uitgewys en gesê dat ʼn “omie op sy grassnyer-trekker gereeld die gras sny”.

“Ons het verleer om dinge vir onsself te doen. Ons moet weer besef my wêreld eindig nie net in my erf nie. Ons gaan uit daardie erf.”

Behalwe vir inwoners se ingryping in die gemeenskappe, spook burgerregteorganisasies soos AfriForum om inwoners se lewensomstandighede beter te maak.

Die organisasie bestuur buurtwagte om veiligheid in die stad op te skerp, werk op politieke vlak in die munisipaliteit, sny gras in begraafplase en help met wateraanlegte.

Werkers van die organisasie is daagliks met hul AfriForum-baadjies op die paaie te sien, besig om slaggate reg te maak.

“AfriForum het die afgelope ruk reeds 160 ton teer gebruik om slaggate reg te maak,” vertel Marc Timmins, voorsitter van AfriForum in Bethlehem.

Timmins is die eienaar van Bethlehem Brake and Clutch en woon al 30 jaar in Bethlehem.

“In hierdie 30 jaar het die stad aansienlik agteruitgegaan. Om weer die stad te kry hoe dit was, moet ons self inspring en werk.

“Ons moet aan ons toekoms dink en hoe ek my nalatenskap aan my seun gaan oorlaat. My seun moet die besigheid by my oorvat eendag. Daarom maak ek vandag my hande vuil om die toekoms van my kind beter te maak.”

Vroue vat slaggate vas

In die strate van Bethlehem sal jy twee vroue, Hannetjie van Veenhuyzen en Belinda Jooste, sien met ʼn sak teer in die hand besig om slaggate vroualleen reg te maak. Dié vroue het al tot nege gate op een dag reggemaak.

Van Veenhuyzen, eienaar van Modern Hair, ʼn winkel wat haarprodukte verkoop, en Jooste, raadgewende ingenieur op paaie van QnA Consulting, knyp ʼn uur of twee uit hul dag af om slaggate in hul private hoedanigheid reg te maak.

Die vroue maak staat op donasies, maar het self al meer as R1 000 uit hul sak vir teer betaal.

“Ek raak kinderlik opgewonde wanneer iemand sakke teer by my aflaai,” vertel Van Veenhuyzen.

Jooste het in Maart vanjaar na Bethlehem verhuis en haar pad het vroeg met Van Veenhuyzen s’n gekruis. Van Veenhuyzen het in Bethlehem grootgeword en was vir 33 jaar weg totdat sy vyf jaar gelede teruggetrek het.

“Ek het die bereidwilligheid en Belinda die kennis en saam maak ons ʼn goeie span. Ons albei het ook ʼn passie vir gemeenskapswerk,” sê Van Veenhuyzen.

Volgens die vroue moet mense se mentaliteit “dat hulle nie ʼn vinger hoef te verroer nie omdat hulle belasting betaal” verander anders gaan die stad verder verval.

“Ons moet ophou negatief wees en kla en eerder ʼn verskil probeer maak. Die gat wat ons stop, is een slaggat minder,” sê Jooste.

Verbrokkelende infrastruktuur

In 2011 met die ontwikkelingsoplewing in die stad, het die munisipaliteit ʼn verslag laat saamstel waarin bevind is dat die stad se riool- en waterstelsels reeds te klein is vir die ontwikkeling.

“Daardie verslag is iewers in ʼn kas gegooi en geïgnoreer,” sê Laesecke.

Die riool- en waterstelsel is vandag nie net te klein vir die infrastruktuur van die stad nie, maar ook oud, omdat dit oor die jare nie onderhou is nie. Die munisipaliteit het nie geld om die stelsels op te gradeer nie.

“Daarom sit ons vandag met hordes waterlekkasies en riool wat by mangate uitpeul. Die stelsel kan nie die hoeveelheid riool hanteer nie.”

Die rioolpompstasie is onlangs ná jare se bakleiery vir byna R2 miljoen vergroot, maar volgens Laesecke is die stasie steeds te klein.

Laesecke sê die stad se infrastruktuur laat hom nie toe om verder te belê nie en daarom trek soveel jong mense weg om geleenthede in die groter stede te gaan soek.

“Hier kom nie meer ontwikkeling nie weens die munisipaliteit se versuim aan dienslewering. Dit loop hand aan hand met ons hoë werkloosheidsyfer.”

In die twee hoofstrate, Muller- en Kerkstraat, is die slaggate byna onvermybaar en daar is ook nie strepe om die bane van mekaar te skei nie. Sanral het Dinsdag begin om tydelike strepe te verf.

Sanral beoog om middel volgende jaar die N5-snelweg wat deur Bethlehem loop te herbou. Die padagentskap het verlede maand aangekondig dat hy meer as R8 miljard oor drie jaar aan die nasionale paaie in die Vrystaat gaan bestee om die paaie op te knap.

“Die N5-roete deur die stad is ʼn groot kopseer. Behalwe dat die vragmotors die pad stukkend ry, lok vragmotorsbestuurders wat in die stad oorslaap ook prostitusie en misdaad,” sê Laesecke.

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die Dihlabeng- plaaslike munisipaliteit, wat Bethlehem, Fouriesburg, Paul Roux, Clarens en Rosendal bedien, sit tans sonder leierskap, met vier direkteursposte, asook die munisipale bestuurderspos wat vakant is.

Die pos van die finansiële hoof is sedert Desember 2020 vakant met amptenary wat herhaaldelik op ʼn waarnemende grondslag in die poste aangestel word.

Hierdie poste sluit in die direkteur van tegniese dienste en infrastruktuur, gemeenskapsdiens, korporatiewe dienste, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en die finansiële hoof wat tans waarnemend gevul is.

Nog foto’s van rommel en riool in Bethlehem:

Die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Tseki James Tseki (43), en die voormalige munisipale bestuurder, Busa Petrus Molatseli (57), is in Junie in hegtenis geneem vir beweerde bedrog, diefstal, korrupsie, geldwassery en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

“So lank as wat die munisipaliteit sloer om permanente aanstellings in hierdie sleutelposte te maak, sal die gebrek aan kontinuïteit en bestendige bestuur in hierdie departemente aanhou lei tot swak dienslewering,” sê Lieb Liebenberg, VF Plus-raadslid in die Dihlabeng- plaaslike munisipaliteit.

“Dihlabeng het stabiliteit in die munisipale bestuur nodig. Begrotings vir die afgelope twee finansiële jare, wat deur drie verskillende waarnemende munisipale bestuurders afgeteken is, moet nou deur ʼn nuwe aangestelde munisipale bestuurder uitgevoer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

nieskynheilig ·

Moenie belasting betaal nie, net water en ligte. Dan is daar baie geld. Betaal Eskdom en Rare Water direk. Hoekom slaap ons administrateurs, of bly hulle so dalk verniet?

John ·

So jammer om te sien dat nog n stad verwaarloos is deur n regering en plaaslike munisipaliteit wat net geen belange het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.