Betogers maak amok in Grahamstad, PE

Makhanda is Dinsdag tot byna stilstand gebring (Foto: Sanele Mnyamana, Twitter)

Chaos het Dinsdag in Makhanda (Grahamstad) en Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap geheers toe gemeenskapslede en taxi-operateurs vroegoggend hierheen opgeruk het. Betogers het ondernemings in Makhanda tot stilstand gebring, terwyl talle paaie in Gqeberha weens betogings gesluit was. Betogers het selfs ʼn petrolbom na Makhanda se departement van sanitasie en vullisverwydering geslinger. Verskeie paaie in albei gebiede was ook ontoeganklik.

Inwoners van Makhanda is vies oor die Makana- plaaslike munisipaliteit se swak dienslewering. Dié betogings het reeds Maandag begin en duur tans voort. In Gqeberha is die optogte deur taxi-drywers gelei, maar niemand is nog seker wat presies hul griewe is nie.

Anele Mjekula, woordvoerder van die Makana- plaaslike munisipaliteit, sê die betogers het vroeg Dinsdagoggend na die munisipaliteit se departement van omgewingsake en vullisverwydering se kantore opgeruk en dit met ʼn petrolbom bestook.

“Weens die brandweer se vinnige reaksie kon die brand wat deur die petrolbom veroorsaak is, gou in bedwang gebring word. Die brand het toe nie veel skade aan die kantore aangerig nie,” het Mjekula gesê.

Bobby Stevenson, DA-lid van die Oos-Kaapse wetgewer, vertel munisipale amptenare is ook gedreig en met geweld uit munisipale geboue verwyder.

Betogers het boonop die dorp ingevaar en winkeleienaars gedwing om hul winkels te sluit. Skole is tot stilstand gebring en kinders is vir hul eie veiligheid tuis gehou.

Die polisie moes traangas en skokgranate gebruik om ontstoke betogers uitmekaar te probeer jaag.

Die N2-snelweg tussen Nanaga en Grahamstown is versper (Foto: Port Elizabeth Traffic Updates, Twitter)

Die N2 tussen Nanaga en Makhanda was Dinsdagmiddag vir verkeer gesluit. Omtrent 1 000 betogers van Gqeberha het ʼn vragmotor op dié pad gekaap en geplunder.

Mjekula sê vullisverwydering word weens die betogings ontwrig en dié diens sal eers hervat word wanneer die betogings tot ʼn einde kom.

“Ons doen ʼn beroep op inwoners en ondernemings om hul vullissakke binne hul erwe te hou tot verdere kennisgewing,” sê Mjekula.

‘n Vragmotor is op die N2, digby PE, gekaap en geplunder (Foto: Port Elizabeth Traffic Updates, Twitter)

Mjekula sê die betogings het oor die algemeen ʼn negatiewe uitwerking op die munisipaliteit se dienslewering. Weens veiligheidsredes kan die munisipaliteit nie sy voertuie gebruik om basiese dienslewering uit te voer nie. “Die munisipaliteit het simpatie met die gefrustreerde inwoners. Ons begryp ook dat hulle die reg het om te betoog, maar dit moet binne die wet gedoen word. Ons wil die inwoners verseker dat ons hul kwessies sal ondersoek en aanpak.”

In Gqeberha is kalmte vroeg Dinsdagmiddag herstel en die meeste paaie weer oopgestel.

Markmen-brug in Port Elizabeth (Foto: Port Elizabeth Traffic Updates, Twitter)

Kapt. André Beetge, woordvoerder van die polisie, sê altesaam sewe mense is in hegtenis geneem vir die beskadiging van infrastruktuur.

“Die betogings is deur taxi-operateurs gelei. Daar is egter nog nie duidelikheid oor wat hul spesifieke griewe is nie,” sê Beetge.

Stevenson het betogings in albei plekke veroordeel. Hy sê die verantwoordelikheid hiervoor moet voor die deure van die regering gelê word, op plaaslike én provinsiale vlak.

“Die regering versuim al jare lank om die mislukte diensleweringskwessies aan te pak,” sê Stevenson. “Die provinsiale regering verkies ook om onbekwame kaders te verdedig, eerder as om ag te gee op die inwoners se pleidooie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anoniem ·

O Lekker ou Repubiek van Suid Afrika. Geen Sirkus meer nodig nie, ons ou landjie is
sommer een op sig selwers!

Blikkies ·

Die mense wat betaal vir dienste en dit nie kry nie het seker die reg om in opstand te kom, maar regverdig nie kriminele dade nie. As jy nie betaal nie gaan jy geen dienste kry nie! Met elke Munispale verkiesing glo die gemeeskap die leuns van die ANC en stem oor en oor jaar na jaar vir hulle en te stupid om te sien niks verander nie. Ek wet julle al hierdie misdadigers gaan weer vir dieselfde klomp stem en weer kaalstert sonder water en dienste sit. Hulle wil so leef, kry vir julle.

Nie Verbaas ·

Verstaan nie die nie. Hulle stem vir die hopeloses in die ANC. Dan wil hulle alles breek en brand omdat daar nie dienslewering is van die hopeloses waarvoor hulle gestem het nie. Kom die verkiesing dan stem hulle weer vir ANC net om alles weer te breek en brand or swak dienste. Dit is nou ANC mentaliteit.

Snowball ·

Die foto’s pas die Nuwe Name soos ‘n handskoen….
As die koloniale naam net verander, verdwyn al die probleme mos. Skynbaar nie…

Oomniklaassevriend ·

Hulle is dalk ongelukkig oor die simpel nuwe name van die plekke.

Moeggeploeg ·

En die belastingbetalers sal moet opdok vir skade.
Niemand word in hegtenis geneem en gestraf nie. Wettelose land en regering. Eendag is eendag

Kobus ·

Hulle soek dienslewering maar wil nie betaal nie.Hulle is ontevrede maar stem weer vir dieselfde party wat nie ‘n duit omgee vir hulle nie.

John ·

Dit is beter dat die name van hierdie stede en dorpe verander word want sulke gedrag van wetteloosheid is n belediging vir die vorige name en die persone na wie hulle vernoem is

Jannie van Niekerk ·

En dan kom die verkiesinhg en dan gaan stem die hele spul maar WEER vir diegene TEEN wie hulle betoog en bates vernietig…Hoe onnosel kan hulle wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.