Beurtkrag dalk laaste strooi vir waterkrisis

(Argieffoto)

“As die waterstelsel heeltemal ineenstort, sal dit die einde van die lewe wees soos ons dit ken.”

Só waarsku Benoît le Roy, ʼn omgewing- en waterbestuurskenner, oor die voortslepende beurtkragsituasie wat nou ook dreig om in ʼn volskaalse waterkrisis te ontaard.

Le Roy sê die kragtekorte plaas onnodige druk op water- en afvalwaterbehandelingstelsels wat reeds op die rand van ineenstorting staan.

Die gebrek aan samehorigheid tussen plaaslike regerings en hul eweknie op nasionale vlak om bepaalde beleidsdoelwitte te bereik, het die probleem van “dekades se verbrokkelende infrastruktuur” ook vererger.

“Wat ons sien is ʼn ontkoppeling tussen die nasionale en plaaslike regering en ʼn stelselmatige ineenstorting van ons watersekerheid,” sê hy.

Hennie Pretorius, bestuurder van water en afvalwater by Endress+Hauser Suid-Afrika, sê wat ook kommerwekkend is, is die land se waterbehandeling- en voorsieningsituasie wat weens beurtkrag bly agteruitgaan.

“Lang kragonderbrekings veroorsaak watertekorte omdat reservoirs net soveel bufferkapasiteit het en gebiede se kapasiteit dan min raak. Ouer pompe en aandrywers is boonop nie gemaak om skielik af- en aangeskakel te word nie, soos wat gebeur tydens onverwagse kragonderbrekings,” sê hy.

“Boonop het die departement van water en sanitasie (DWS) se Groen- en Bloudruppelverslag vir 2022 bevind dat hoewel daar geïsoleerde verbeterings is, daar oor die algemeen steeds ʼn gebrek aan onderhoud en ʼn agteruitgang in die besoedeling van oppervlakwater is.”

Die verslag wys daarop dat rioolstortings en afvalwaterbehandelingaanlegte wat onklaar raak ʼn groot bekommernis is.

Van sowat ʼn duisend rioolaanlegte in die land, voldoen 97% nie aan hul lisensievoorwaardes nie en ook dít stel waterbronne in gevaar.

Die Bloudruppelverslag, wat waterdienste beoordeel, dui ook op swak watergehalte. Byna die helfte van die land se watervoorsieningstelsels is wel in die laerisikokategorie, maar die res is mediumrisiko (18%), hoë risiko (11%) en in die kritieke risikokategorie (23%).

Pretorius voer aan dat daar boonop ook ʼn drastiese tekort aan vaardighede is in die water- en afvalwaterbedryf.

“Plaaslike regerings het dalk die wil om aanlegte behoorlik in stand te hou met ʼn vaardige werksmag, maar hulle het bloot nie die finansiering daarvoor nie.”

Daar is hoop

Le Roy glo Suid-Afrika moet sy watersektor herindustrialiseer om dit sodoende te hervestig as ʼn streek- en kontinentale supermoondheid in die bedryf.

Hy sien ook geleenthede vir hergebruik van water, ontsouting en digitalisering om watersekerheid te verbeter.

“Vir Suid-Afrika bied ontsouting ʼn belangrike geleentheid om die uitwerking van waterskaarste te verminder. Netwerkbestuur, die vermindering van waterverlies, bestuur van rioolnetwerke en pompstasies sal ook die situasie verbeter, asook om in lyn te kom met wêreldwye neigings soos waterhulpbronbestuur, oppervlakwatermonitering en die digitalisering van inligting om dit van ʼn sentrale punt beskikbaar te stel.”

Hy meen indien Suid-Afrikaners kragte saamsnoer, daar beslis werkbare oplossings gevind kan word.

Eric Bruggeman, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse raad vir uitvoer van kapitaaltoerusting, sê entrepreneurs in die land het te midde van die krag- en waterprobleme ook nie in sak en as gaan lê nie.

Baie vervaardigers begin nou kyk na hernieubare kragoplossings en doeltreffende watergebruik om hul bedrywighede aan die gang te hou.

“Suid-Afrikaners is baie veerkragtig. Ons het van die beste entrepreneurs ter wêreld omdat hulle ondanks alles steeds uitblink,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

JvR ·

Die subspesie voer maar net opdragte uit van n council of >>>>. Hul kry n blanko check en het geen benul van reg of verkeerd. Net van hier en nou.

Maria ·

Wat my so sielsongelukkig maak is: Ons bietjie belastingbetalers verskaf n lekker leefwyse vir die oorgewig amptenare in die parlement, hulle lewe op die spreekwoordelik ‘vleispotte van Egipte’. Alles wat deur die regering aangepak word, stort in duie. Hulle ly nie onder beurtkrag nie, weet ook nie van weke sonder water nie. Nee, hierdie land is gekaap.

H.A. ·

Nou beteken dit eindelik dat ons moet alles begin herstel in die land, maar die anc skep uit ons pot.

Amelia ·

Ek glo nie daar is meer hoop nie as die menere die land wil reg ruk nie gaan niks gebeur nie Die anc wil die land in hierdie swak toestand hou dink laaste sin ook nie reg nie Ons het van die bestes gehad maar hoeveel is oor Meeste reeds land uit miskien n 1%

Pietertjie ·

Dit gaan myns insiens nie soseer oor skaars water nie; eerder oor skaars bruikbare water. Die Vaaldam is vol, maar Rand Water is leeg. En die riviere is vol, van riool. Ten minste gaan die riool-strome minder word soos wat spoel-stelsels verstop agv water-tekort, en mense begin om put-toilette in hul agterplase te grawe.

My sonkrag- en skoonwater- stelsel werk lekker dankie, opgebou oor tien jaar, ten koste van ‘n beplande nuwe voertuig.

JvR ·

Sonder eskom en randwater, kan jy die beste panele en skoonwater stelsels he. Jy gaan nie kan petrol ingooi. Winkel gaan leegloop. Plundery gaan seevier. En die rykes gaan eerste ge target word. Of die wat ryk lyk.

Manie ·

Die probleem kom by riolering in. Wanneer rioolplase nie meer werk nie en ons riool stelsels geblok raak, dan sal ons septiese tenke moet oprig. ‘n Vriend van my is ook selfversorgend met krag en water, maar riool bly ‘n probleem. ‘n Mens sal ‘n nuwe riool lyn na die septiese tenk en french drain moet aanlê en terselfdertyd die munisipale lyn tydelik afsny.

Ian ·

Verkoop al daai kragopwekkers by die onbevoegde ministers se huise of skenk dit aan die munisipaliteite. Skop die ANC uit die kussings en stel mense aan wat weet wat hulle doen.

Papsak ·

Ek stem saam skop due anc uit en verkoop jragopwekkers en vat daai gelde en ruk jrag en water reg ons jan nue sonder water en jrag sit nie menseregte en ontneem ons van dit

MJLS ·

Al wat gaan help is dat die regte.party ingestem moet word, sodat ons mooi land reggeruk kan word.

Theunis ·

En dit is alles deur CR en sy kabinet se verwaandheid, arrogansie en onkunde, die laaste strooi om nou met Zimbabwe vergelyk te kan word.

Jacobus ·

So sal alle dienste ineenstort, hierdie kommunistiese ANC het hierdie SA bevolking van n eerste wereldse land terug gevat na die steentydperk.

Martie Smartie ·

Nou hoe is dit dat die Dept v Water en Sanitasie homself beoordeel? Maak mos nie sin nie. Die waarheid is veel erger. Enige iets waarin die ANC kabinet n vinger in het, is n gemors

Danie ·

Dalk moet alles nou ingee dat ons met nuwe idees voorendag kom.Die gesloer maak alles net moeiliker.Dis tyd vir n nuwe begin.

MARELIZE ·

Wat is die einddoel? Wat is die motief? Alleen dán kan na moontlike oplossings gekyk word.

Hierdie regering se einddoel is totale vernietiging – dus sal niks verander ten einde die pad van selfvernietiging stop te sit nie.

Hendrik ·

Gemeenskappe moet vir hulle self sorg en seker maak alle huise in die gemeenskap moet ‘n watertenk kry. Septiese tenke is ‘n opsie en ek gebruik al 25 jaar ‘n sepriese tenk en dit werk. Om ‘n gemeenskap te bemagtig skep jy werk ook en die manne moet maar begin werk.

Stoffeltjie ·

Mense, asb. Sorg dat julle waterplanne in plek is. Sonder water het julle regtig niks. Boor eerder ‘n boorgat en sit ‘n sonpomp in. Ons kan nog sonder krag, maar glad nie sonder water nie en die mislikte paliteite landwyd gaan nie aan julle water kan voorsien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.