Beurtkrag lê landbou lam

Beurtkrag oor ‘n langer tydperk kan tot leë winkelrakke lei. (Foto: Maroela Media)

Moderne boerderypraktyke steun swaar op elektrisiteit en boere sê die onlangse toename in beurtkrag ontwring hul boerderybedrywighede aansienlik. Pakhuise, pompstasies, besproeiing- en verkoelingstelsels en mengtoerusting is alles van kragvoorsiening afhanklik. Insetverskaffers kan ook nie na behore funksioneer sonder ʼn stabiele elektrisiteitsnetwerk nie.

Agri SA sê boere rapporteer reeds geweldige verliese namate verwerkingsmasjinerie, besproeiingstoerusting en ander masjinerie skade ly en tot stilstand kom weens onderbrekings in kragtoevoer.

Die impak van beurtkrag kring egter wyer uit as net die ooglopende.

Met noodsaaklike stelsels wat bedags nie beskikbaar is nie, word daar van plaaswerkers vereis om na ure te werk. Sodanige oortydlone verhoog produksiekoste wat reeds aan die toeneem is.

Christo van der Rheede, Agri SA se uitvoerende direkteur, is van mening dat beurtkrag ook voedselsekerheid en maatskaplike stabiliteit in gedrang bring. “Die verlengde tydperk van vlak 6-beurtkrag bedreig die lewensvatbaarheid van die sektor. ʼn Eskalasie na vlak 7 en hoër sal katastrofies wees en hou ʼn risiko vir die land se nasionale veiligheid in.

“Beurtkrag dra by tot inflasie en kan tot gevolg hê dat boere minder aanplant, weens stygende koste en onderbreking in aanplantskedules. Beurtkrag verhoog die koste van produksie vir boere in ʼn tyd waarin Suid-Afrikaners deur verdere voedselprysstygings in die gesig gestaar word en onder ongekende ekonomiese druk verkeer. Dit veroorsaak meer risiko’s en onsekerheid.”

Hy sê terwyl sommige boere die middele het om van die kragnetwerk af te beweeg, is die meeste nie daartoe in staat nie. Dit geld veral vir die mees kwesbare kleinskaal boere. Boere verbeur hul waterkwotas vir besproeiingsdoeleindes wanneer die krag af is – ʼn onverhaalbare verlies wat boerderye lamlê.

Die kragonderbrekings veroorsaak ook vermorsing en finansiële verliese as gevolg van die impak op voedselberging. Kleinhandelaars begin vars produkte, veral groente, afkeur vanweë vertragings in aflewering en ontwrigting van die koueketting. Hierdie uitdaging sal verder vererger in die somer. Dit sal die hoeveelheid voedsel wat beskikbaar is verminder en die koste daarvan vir die verbruiker verhoog.

“Terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie onder hierdie en ander uitdagings gebuk gaan, is Agri SA en sy lede verbind tot samewerking met alle rolspelers om voedselsekerheid in die land te verseker, sê hy. “Dit vereis egter dringende optrede. Ons vertrou dat die presidensie stabiliteit en veiligheid by alle kragaanlegte sal prioritiseer.

“Aangesien hierdie aanlegte as nasionale sleutelpunte geag word, rig Agri SA ʼn dringende versoek dat plekke van strategiese belang teen sabotasie beskerm word. Gewelddadige optrede en misdadigheid is besig om toe te neem en is ʼn tendens wat in landsbelang omgedraai moet word.”

Agri SA sê hy ondersteun Eskom se besluit om sy hernubare energiekapasiteit spoedig te verhoog. “Soos versoek deur Eskom kan ʼn bykomende 4 000 MW se wind- en sonkragopwekkingskapasiteit help om voorvalle van beurtkrag te verminder. Die departement minerale hulpbronne en energie het ʼn kardinale rol te speel om die nodige beleidsinfrastruktuur vinnig gereed te kry, sodat Eskom sy kapasiteit kan verhoog.

“Die versuim om dit te doen hou ernstige ekonomiese risiko’s vir Suid-Afrika in, ook wat maatskaplike stabiliteit betref.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pieter ·

Gebruik die jaar se wins en bele in n sonkrag stelsel vir jou boerdery, in plaas daarvan omn nuwe cruiser of trekker te koop om jou vriende te beindruk. Jy sal die vrugte daarvan pluk, in die toekoms

Piet parys ·

Blykbaar as jy so slim is hoekom gaan boer jy nie . Jyt seker sonkrag of nie . Hoekom nie?
Jy t dieselfde houding as hoedjie polisieman weet niks en gaan soos n aap te kere

krodedil ·

10 uit 10 Pieter. Boere wil alles verniet hê. Alles word van belasting terug geeis. Nee wat eerder ‘n nuwe cruiser om te spog by die local bar op ‘n vrydag middag.

Henri ·

“Dit vereis egter dringende optrede. Ons vertrou dat die presidensie stabiliteit en veiligheid by alle kragaanlegte sal prioritiseer.”

Dis jammerlik dat AgriSA op Cyril en Bheki steun. Het hulle nie gister gesien hoe Bheki Ian Cameron verskreeu nie? En dit op ‘n vraag oor sy eie mense se veiligheid? En Cyril? Hy het sy eie versteekte agenda onder sy matras.

Voilet ·

Ag wat gee hul om- hul glo mos vas kos kom nie van die boere af nie

domheks ·

Dankie aan die Zuptas! Ons sit nou met die gemors en ou zuma is soooooo ‘onskuldig!

marius ·

Dis nie net die boere nie . Dit vernietig ALMAL . Die regeerders en hul kornuite trek net hul skouers op . Hulle het nie geld vir kragopwekkers by die munusipale pomp stasies nie , maar hulle betaal vir massiewe kragopwekkers by hul huise uit hul agter sakke . Wat ‘n hool !

agnes ·

Die regering moet ons boere goed en groot subside er met sonpanele. Dit Sal ESKOM ook help.

krodedil ·

Die boere word genoeg gehelp met belasting wat hulle kan terug eis. Wat van ander besighede? Dis waarom elke boer super ryk is en elke jaar sy implement en bakkies kan vervang met geld wat teruggeeis word. DIt moet STOP.

Leonard ·

Gelukkig bly ons in Suid-Afrika waar die son skyn GOED is. Europese lande is Bibber koud!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.