Beurtkrag, oorstromings gee BBP wind van voor

Die oorstromings het reuseskade aan die vervaardigingsbedryf aangerig. (Foto: Verskaf)

Die verwoestende oorstromings in KwaZulu-Natal en voortslepende beurtkrag het ʼn reeds kwesbare nasionale ekonomie – wat maar pas tot voor-pandemievlakke herstel het – opnuut verswak.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag die jongste BBP-syfers bekend gemaak en ná twee agtereenvolgende kwartale van positiewe groei, het die BBP in die tweede kwartaal van vanjaar met 0,7% gekrimp. Die daling is in skerp teenstelling met die vorige kwartaal se bemoedigende groei van 1,9%.

Ekonome het volgens ʼn peiling van Bloomberg ʼn inkrimping van 0,8% voorspel, wat die syfer ten minste effens beter maak as verwag.

StatsSA sê die oorstromings het ʼn negatiewe uitwerking op verskeie bedrywe gehad, maar veral op die vervaardigingsektor. Dié sektor is die grootste bedryf in KwaZulu-Natal en is verantwoordelik vir ʼn vyfde van die land se ganse vervaardigingsproduksie.

Die skade aan fabrieke, aanlegte en ontwrigting aan die verskaffingsketting het nasionale vervaardigingsuitset met 5,9% afgerem. Die grootste hekkies vir groei was petroleumprodukte en chemikalieë, kos en drankies, asook vervoertoerusting.

Sewe uit tien bedrywe het in die tweede kwartaal ʼn inkrimping ondervind.

Die oorstromings en beurtkrag het die handel-, spyseniering- en verblyfsektor ʼn dubbele hou gegee en die sektor het inkrimping van 1,5% ondervind nadat vloedwater kleinhandelaars en stoorfasiliteite beskadig het. Heelwat werksure het boonop weens beurtkrag verlore gegaan.

Goud, steenkool en diamante het mynbouproduksie afgerem en ʼn afname in steenkoolproduksie kan gedeeltelik aan die oorstromings toegeskryf word, sê StatsSA.

Beurtkrag het ook sy tol geëis op ekonomiese bedrywighede in die elektrisiteit-, gas- en waterverskaffingsbedryf. ʼn Droogte in die Oos-Kaap en die oorstromings in KwaZulu-Natal het ook tot wateronderbrekings aanleiding gegee.

Landbou-, bosbou- en visserybedrywighede het met 7,7% gedaal, hoofsaaklik weens ʼn daling in die produksie van diereprodukte. Kragonderbrekings en die verspreiding van bek-en-klouseer het sake vir die sektor bemoeilik.

Finansiële, eiendom- en sakedienste het die grootste positiewe bydrae tot die BBP in die tweede kwartaal gelewer en het met 2,4% toegeneem. Groei is hoofsaaklik aangedryf deur verhoogde bedrywighede in die bankbedryf, asook in versekering en pensioenfondsfinansiering.

Dit het die ekonomie byna twee jaar geneem om van die uitwerking van Covid-19 te herstel en eers in die eerste kwartaal van vanjaar is ʼn BBP-vlak van vóór die pandemie weer bereik. Die herstel was egter van korte duur en die jongste daling het die BBP nou weer tot onder die voor-pandemievlak van R1 148 miljard laat val.

StatsSA sê alle bedrywe herstel ook nie ewe vinnig nie. Teen die tweede kwartaal van vanjaar was slegs vier bedrywe weer op óf hoër as die vlak wat dit voor die uitbreking van die koronavirus gestaan het. Finansiële, eiendom- en sakedienste het twee kwartale geneem om tot die vierdekwartaalvlak van 2019 te herstel, terwyl persoonlike dienste drie kwartale nodig gehad het om weer op sy voete te kom.

Landbou, bosbou en visserye het die pandemiestorm betreklik goed trotseer.

Ses bedrywe het egter steeds nie herstel nie – en die boubedryf is tans veral in ʼn benarde situasie. Die bedryf is net-net minder as ʼn kwart kleiner (24%) as wat dit voor die uitbreking van die pandemie was.

Mynwese het vlugtig in die tweede kwartaal van verlede jaar herstel, maar is nou weer op ʼn vlak laer as wat dit in die vierde kwartaal van 2019 was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jr ·

Maar daar leuenaar van n cANCer president (nie my president) het gesê terwyl hy so hard gewerk het om n slaggat op n sand pad reg te maak dat SA positiewe groei getoon. Ja wie glo wat hy sê vir election doeleindes

Henri ·

En die alewige proteste, stakings, misdaad en ander ontwrigtinge? En BEE, kaderontplooiing en die swaard van onteiening sonder vergoeding? Ek glo dit dra groter gewig in die inkrimping van die BBP.

Harley Davidson ·

Altyd n verskoning as die ekonomie nie so vrot was voor die oorstromings sou die natuur ramp net ‘n tydelike probleem gewees het wat spoedig weer ingehaal sou kon word.

Andre ·

Die land se ekonomie kan nie gered word met die klomp rasistiese skelms wat die land regeer nie.
Anargie is so naby dan sal alles ineen stort dan is daar groot moeilikheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.