Beurtkrag, tariefverhogings kan voedselsekerheid knou

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die landbousektor is bekommerd oor die toekoms van voedselsekerheid nadat ʼn kragtariefverhoging van 18,65% vir die 2023-’24- boekjaar Donderdag deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) goedgekeur is.

Volgens TLU SA en Agri Wes-Kaap is die kragtariefverhoging iets wat die land, en veral die landbousektor, nie kan bekostig nie.

“Die kragverhoging sal die landbousektor onder nóg groter druk plaas te midde van beurtkrag en lasvermindering, wat meebring dat selfs die heel grootste boere nou deur onomkeerbare verliese in die oë gestaar word,” meen Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die landbouorganisasie TLU SA.

TLU SA neem Vrydag op uitnodiging van Thoko Didiza, minister van landbou, aan ʼn vergadering deel waar die land se energiekrisis deur verskeie partye bespreek word.

TLU SA gaan die volgende punte argumenteer:

  • Ter wille van voedselsekerheid behoort die regering landbou as ʼn noodsaaklike diens te beskou, wat geen beurtkrag mag kry nie. TLU SA sal veral versoek dat kouekettingboere en boere wat van besproeiing afhanklik is van beurtkrag vrygeskeld word, of dat beurtkrag buite spitstye toegepas word.
  • Produsente van kouekettingprodukte (temperatuur gereguleer) kan reeds nie raklewe waarborg nie. Besproeiingsboere kan nie volhoubaar met diesel produseer nie en sommige aartappelboere moes reeds produksie staak weens die onvermoë om genoegsaam te besproei.
  • Weens die president se onderneming dat die kragsituasie sal verbeter, is groot insetkoste reeds aangegaan vir die vestiging van gewasse wat nou verdroog. Saaiboere ly hieronder, maar wintergewasse en lusern word ook geraak, wat kan meebring dat diere nie die winter oorleef nie.
  • Voedseltekorte verhoog misdaad (plunderveldtogte en opstande) en lei tot verdere prysstygings.
  • Boere wat minder produseer, laat werkloosheid toeneem.
  • Boere moes volgens geskatte syfers vir besproeiingswater registreer. Weens beurtkrag kan besproeiing nie plaasvind nie, maar die hoeveelheid water waarvoor geregistreer is, kan nie verminder word nie. Dit is omdat ʼn boer, wanneer hy weer die volle volume wil besproei, van voor af aansoek moet doen met ’n omgewingsimpakstudie wat meer as R100 000 beloop en administratiewe rompslomp.

Alternatiewe oplossings

(Argieffoto)

Van Zyl sê Suid-Afrikaners het ʼn punt bereik waar hulle besef dat hulle op hulself aangewese is om na alternatiewe oplossings te kyk en te implementeer.

“Eskom het ons land gefaal onder druk van die ANC se beleid,” sê hy.

Son SA, ʼn inisiatief wat onlangs deur verskeie organisasies op die been gebring is, se beplande energiekonferensie is ʼn stap om alternatiewe krag die primêre kragverskaffer in Suid-Afrika te maak.

“Eskom moet ook onder die regering se hande uitkom sodat sakebesluite in plaas van die ANC se ideologiese besluite geneem kan word.”

Jannie Strydom, hoof‑ uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap (AWK), sê landboubedrywe se energiebehoeftes bly dieselfde, ongeag die elektrisiteitstarief en produsente word nou genoop om in alternatiewe elektrisiteitsbronne te belê, wat enorme kapitaal verg.

“Voedselsekerheid kan nie net op die skouers van produsente rus nie. Voedselproduksie is tans onder geweldige druk, en besluitnemers sal die erns van die saak moet besef – dringende ingryping is nodig,” sê Strydom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

domheks ·

Terwyl cANCer nog aan bewind is, sien ek geen oplossing nie! Doen Dit Self – is enigste antwoord!

Samuel ·

Absoluut niks pla ons agbare President en sy regerende misdadigers nie. Hulle wíl hê Suid-Afrika moet geheel en al inplof.

Piet parys ·

Nersa net n organisasie wat net n klomp geldskep en geen doel het nie . Escom n kragvoorsienings maatskappy met geen diens en krag voorsiening nie maar verhoog hulle prys hulle elke jaar al hoe meer uit die mark uit . Anc i onbevoegde korrupte organissie net vir eie belang om stemme te koop teen R 350 n stem met al die GRANTS. .Die ou in die straat moet nou almal maar besluit om nie hulle krag rek te betaal nie want Plekke soos SOWETO is mos n uitverkore volk wat nie hoef te betaal nie . AS JY KAN NEEM N VERBAND UIT EN KRY SOLAR.

Truman Burbank ·

Sonder krag is kan jy nie eers jou toilet spoel nie.

Mieke ·

Voedselpryse het reeds deur die dak geskiet en bo verhouding met die petrolpryse. Die pryse gaan eenvoudig nog meer word en die ANC gaan hom nie daaraan steur nie. Het julle al gesien hoe pryse van bv vleis, melk, margarine en koffie opgeskiet het na Kersfees? Ek snak na asem!!!

Mieke ·

Stem saam. So ‘n onkruid moet met wortel en tak uitgeroei word en verbrand word!!

Papsak ·

ANC voel niks nie hulle ontnerm ons van ons menseregte jy moet water en krag he mense hulle ontneem ons van dit

Jaco ·

Uiteindelik gaan onteiening sonder vergoeding verspot maklik wees: boere gaan eenvoudig hulle plase verlaat en sê “alles raak net te moeilik en te duur. Ons kan nie meer nie”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.