Beweerde moordenaar ontsnap by hof

Karabo Chiloane het Donderdag by die hof ontsnap. (Foto: Saps)

Die polisie is op soek na ʼn man wat Donderdagoggend uit aanhouding ontsnap het. Dit het gebeur terwyl gevangenes van een punt na ʼn ander by die Emakhazeni-landdroshof se aanhoudingselle verskuif is.

Die polisie vermoed die gevangene het hulp van in die hof gehad om te ontsnap.

Karabo Chiloane moes Donderdag in die hof verskyn op aanklag van moord. Dié misdaad is in 2020 in Machadodorp, Mpumalanga, gepleeg. Hy word ook van poging tot moord, kaping en sakeroof op Machadodorp aangekla.

“Polisielede aan diens sê Chiloane en sy medegevangenes is omtrent 09:30 van Middelburg-gevangenis na die landdroshof verskuif. Terwyl ander gevangenes deur hofbeamptes na die aanhoudingselle vergesel is, wil dit voorkom asof Chiloane op een of ander manier dit kon regkry om in ʼn konsultasievertrek in te glip,” het brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, gesê.

Dit is eers toe hofbeamptes Chiloane om 10:15 uit die selle wou haal om in die hof te verskyn, dat hulle besef het hy is weg. Daar is later ontdek dat een van die veiligheidshekke se slotte vermis word.

“ʼn Saak van ontsnapping uit wettige aanhouding is onmiddellik oopgemaak, sowel as ʼn saak van hulpverlening aan ʼn gevangene om te ontsnap. Die polisie het ook nou ʼn soektog na Chiloane van stapel gestuur.”

Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting oor waar die verdagte hom bevind of hoe hy kon ontsnap het, om die polisie by 08600 10111 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Of dalk eerder ‘n “outside” job? Siende dat hy nie van binne hou nie?

Waarnemer ·

Wat het geword van hand- en voetboeie vir gewelds misdadigers?Dit gebeur deesdae doodeenvoudig net te maklik dst moordenaars ontsnap.

Rocco ·

Staatskapers Guptas’ klim op hul vliegtuig en vlieg weg. Moordenaar loop uit houdingselle. Dis pateties hoe misdadigers wegkom. Is daar geen beheer oor kriminele êrens nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.