Bittereinders-inhegtenisneming: Opod bevind geen ‘elemente van aanranding’ teen medelede

Francois van der Merwe, ‘n direkteur van die Bittereinders-beweging, word op 24 Januarie  in Groblersdal, Limpopo, deur wetstoepassers platgetrek. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het bevind dat daar geen elemente van aanranding was teen medelede van die Bittereinders toe Francois van der Merwe, ʼn mededirekteur van dié beweing, verlede maand in hegtenis geneem is nie.

Phaladi Shuping, Opod-woordvoerder, het bevestig die verklarings in die dossier is nagegaan en dat “daar tot die gevolgtrekking gekom is dat daar geen elemente van aanranding was wat Opod sou moes opvolg nie”.

Die dossier is aan die polisie terugbesorg, het Shuping verder bevestig.

Opod se ondersoek volg ná die Bittereinders op 24 Januarie in Groblersdal, Limpopo, opgedaag het om te betoog vir die vrylating van Piet Groenewald (63), die eienaar van Wildlife Investigation and Protection Services, en Stephan Greeff (27). Groenewald en Greeff is op 18 Januarie in hegtenis geneem omdat hulle glo ʼn werker, Veneruru Kavari (30), aangerand en ook ʼn hond op hom losgelaat het. Hul borgtogaansoek is geweier en hulle sal nou ʼn appèlaansoek by die hooggeregshof in Polokwane indien.

Van der Merwe is later in hegtenis geneem nadat hy glo deur ʼn polisieversperring wou bars. Die polisie wou betogers glo nie toelaat voor die hof nie, al het hulle vooraf toestemming gehad.

Hierna is die lede gevra om teenklagte vir aanranding teen die polisie aanhangig te maak.

Maroela Media het van ʼn betroubare bron na aan die ondersoek verneem is ses aanklagte ontvang. Na verneem word het Van der Merwe nog nie ‘n klag aanhangig gemaak nie.

Dié bron het ook bevestig daar is nooit enige klag aanhangig gemaak toe daar na bewering die daaropvolgende week ʼn man tussen ʼn groep betogende Bittereinders ingejaag het nie.

Luidens ʼn Facebook-plasing van Willem Petzer, selferkende vryskut-joernalis, het ʼn onbekende man tussen die betogers ingejaag en amper twee manne omgejaag.

“Daar het nou net ʼn swart man met ʼn splinternuwe swart Range Rover hier tussen ons ingejaag. Klomp manne het uit die pad gespring en hy het twee getref en ek wil net vir u sê niemand het rêrig seergekry nie – ernstig nie – maar die konsep is wat tel,” sê Petzer in ʼn video op 1 Februarie.

Hy sê dan verder dat hy wonder hoekom niemand in hegtenis geneem is nie, “want volgens wet moet die polisie so iemand in hegtenis neem, want ʼn groot Range Rover is ʼn dodelike wapen”.

Die polisie in Limpopo asook die Nasionale Vervolgingsgesag het die week aan Maroela Media bevestig geen klagte oor die voorval is aangemeld nie.

Fanie Koetze, ʼn sakeman van Groblersdal, was een van die twee beweerde slagoffers. Hy het vandeesweek bevestig hy het nie die nut daarin gesien om ʼn klag aanhangig te maak nie.

“Ek dink die man [bestuurder van die Range Rover] het nie bedoel om ons raak te ry nie, en toe hy besef wat gebeur het, het hy groot geskrik en dis hoekom daar so bietjie woorde was. Ek het toe maar besluit om nie ʼn klag te lê nie,” het hy gesê.

 

Hof ‘sloer’ met 4 se borgtogaansoeke

Intussen is Willem Petzer (27), Tewie Wessels (32) en Devon Hofmeyr (30), seun van die sanger Steve Hofmeyr, ook in hegtenis geneem ná hulle hulself die afgelope Maandag aan die polisie oorgegee het.

Hulle word aangekla van openbare geweld en die aanhitsing tot openbare geweld. Al drie se sake is Donderdag saam met dié van Van der Merwe gevoeg.

Borgtog Bittereinders

Van links is Francois van der Merwe, Willem Petzer, Devon Hofmeyr en Tewie Wessels. Hul borgtogaansoeke is vandeesweek in die landdroshof in Groblersdal afgehandel en uitspraak is voorbehou. (Foto: Verskaf)

Die hof het Vrydag uitspraak in al vier se bortogaansoeke voorbehou, al het die staat aangedui hy sal nie Petzer, Wessels en Hofmeyr se aansoeke teenstaan nie.

Van der Merwe se aansoek word wel teengestaan omdat hy homself, aldus die staat, weer kan skuldig maak aan dieselfde oortreding van openbare geweld.

Die vier se regsverteenwoordigers het reeds met hul vorige verskynings aangedui die staat se saak is swak. Hofmeyr het bygevoeg hy het ʼn “waterdigte verweer”.

Adv. Piet Pistorius SC, vir Petzer en Wessels, het Vrydag ook genoem die kanse dat die saak verhoor sal word, sal skraal wees.

Intussen het hul borgtogaansoek wyd kritiek ontlok en word die landdroshof van “sloertegnieke” beskuldig.

Die sanger Steve Hofmeyr het op sosiale media mense gevra “om nooit op te hou protesteer nie”.

AfriForum het Dinsdag gesê hulle verwerp die optrede van enige organisasie of individue wat chaos in die gemeenskap saai, maar is “sterk gekant teen die duidelike dubbele standaarde en selektiewe vervolging wat tans hier plaasvind”.

TLU SA het ook Petzer, Wessels en Hofmeyr se vervolging bevraagteken en gesê dit kom voor of die wet selektief toegepas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.