BLF as politieke party gederegistreer

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Die BLF is as politieke party gederegistreer ná volgehoue druk van die VF Plus.

Die omstrede party se deregistrasie volg ná die VF Plus se appèlaansoek teen die registrasie van Black First Land First (BLF) as politieke party by die Verkiesingskommissie.

Die VF Plus sê in ʼn verklaring die kommissie het beslis dat die BLF inderdaad lidmaatskap aan dié party op grond van ras uitsluit en die BLF is gevolglik as politieke party gederegistreer.

Andile Mngxitama, BLF-leier, het by navraag aan Maroela Media gesê as dit inderdaad die kommissie se beslissing is, gaan die party die besluit laat hersien. Met Maroela Media se navraag het die party nog nie van die besluit geweet nie.

Ingevolge die Kieswet mag die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) nie ʼn politieke party registreer wat lidmaatskap op grond van ras, kleur of etnisiteit uitsluit nie. Die BLF se grondwet bepaal dat slegs swart mense lede van dié party mag wees, het die VF Plus gesê.

Die party het gesê die OVK het aanvanklik volgehou dat die registrasie van die BLF nie teen die bepalings van die wet is nie, aangesien die betrokke artikel in die party se grondwet eerder na ʼn bepaalde ideologie as ʼn spesifieke ras verwys.

“Mngxitama het egter hierdie bewering self weerspreek deur in sy aanvanklik opponerende verklaring, soos geliasseer gedurende die VF Plus se aansoek by die kieshof, te bevestig dat die BLF se grondwet wit mense op grond van ras uitsluit,” het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

Die kommissie kon dus nie anders as om in die guns van die VF Plus te beslis nie en moes gevolglik die BLF as politieke party deregistreer, het hy gesê.

“Die deregistrasie van die BLF as politieke party is ʼn reuseoorwinning vir die ganse Suid-Afrika omdat die rassehaat en onverdraagsaamheid wat deur Mngxitama en sy trawante aangevoer en voorgestaan word, nie geduld mag word nie.”

Groenewald het gesê dit is onaanvaarbaar dat die OVK met die registrasie van die BLF die wet oortree het. Wetgewing is nie slegs ʼn riglyn nie, maar iets waaraan voldoen móét word.

Die VF Plus het sy teleurstelling in die OVK uitgespreek omdat die kommissie aanvanklik die registrasie van die party, wat in teenstelling met wetgewing was, verdedig het.

Mngxitama het gesê die party het die beslissing verwag en gaan dit laat hersien. Hulle sal ook die stryd tot in die konstitusionele hof voer, indien nodig.

“Ons gaan nog ʼn lang pad stap, maar ons glo daar gaan uiteindelik in ons guns beslis word,” het Mngxitama gesê.

“Daar is ʼn algemene angstigheid onder Hoofstuk 9-instellings om te aanvaar dat dit nie onwettig is om swart te wees nie. In Suid-Afrika is daar die opvatting dat swart mense nie die reg het om hulself as sodanig te organiseer nie en dít word aangespoor deur wit vrees.

“Die kommissie (OVK) is vreesbevange en word deur die VP Plus geïntimideer wat, terloops, ʼn party net vir wit mense is. Dít is die onreëlmatigheid van Suid-Afrika se Grondwet.

“Dit word gedryf deur wit vrees en raak nie die geldige vrese van swart mense aan nie,” het Mngxitama gesê.

Maroela Media het die OVK om kommentaar genader en wag vir terugvoer.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

ELAINE ·

Vat so BLF dankie VF het geweet ons stem nou vir ‘n party wat baklei. Hoop ons gaan meer sien dankie Mnr Groenewald en span!!!!!!!!!

Wielspore ·

Puik, gooi die oortreder met die wet, geen uitkom kans.
Goeie waardes bly behoue, slegte waardes is nie volhoudbaar.
Ek glo nog BLF is ‘n buitelandse geborgde instansie, die lede kry salaris solank hulle onmin en wanorde skep.

Ander Gert ·

VF+ het sy kaarte baie goed gespeel. BLF het aan die verkiesing deelgeneem, en so ‘n aantal stemme by die EFF weggeneem. Nou is hulle gederegistreer.

Mngxitama moet dalk na die VF+ se Wes-Kaapse parlementslid kyk – hy sal sien dat daardie parlementslid bruin is.

Manie van Worcester ·

siestog, hy sal dit nie verstaan nie, hy sien alles swart en wit. Hoop mense sien nou VF{ ,aaknie net lee beloftes nie

jaco ·

Let wel: kleurlinge en Indiërs word LANKAL reeds beskou as “not black enough” wanneer dit kom by werksaansoeke en die toepassing van regstellende aksie en BEE. Ek suig nie dié stelling uit my duim nie. Daars TALLE voorbeelde.

Aster ·

Mooi VF+, kan sien dis sommer die moeitewerd om vir julle te stem!!

J ·

Maar Andile, as ek n slegs wit party begin, is jy die eerste een om te tjank.

Rina Kotze ·

Wat op aarde is die kans dat die OVK hul fout gaan erken en gaan bedank?

Ons gaan baie lank wag daarvoor!

Smirre ·

Vat so BLF. Wees versigtig Julius small boy kry kry meer reg as jy !!

Jepetto ·

Mooi so VF+ Ek noem hulle sommer die Blaf party hulle lewe in a droomwereld Ek kry hulle nogal jammer Hulle moes liewers die geld wat vir die party se regestrasie betaal is gebruik het vir sielkindige berading .

Moeksie ·

Wel gedaan – baie goeie nuus – vat so jou katvis!!!!!!!

Daan ·

VF+, goeie werk. Ek sien nou wie eintlik die party is wat vir almal se regte opstaan. Dankie vir julle harde werk

kolla ·

Sou interessant gewees het indien die BLF ‘n parlementslid opgelewer het.

Riaan ·

Het jy nie voor die tyd kapsie gemaak teen die VF se optrede nie?

Riaan ·

As hulle nie ‘n wettige politieke party is nie mag hulle tog sekerlik ook nie “honourable members” in die “less than honourable” Parlement he nie?

barend ·

wil julle nou vir my se dat ek my stem gemors het op die B.L.F

Andre ·

Wanneer gaan die onbevoegde OVK amptenare wie aanvanklik die registrasie onwettig goedgekeur het, vervolg en ontslaan word? In die jaar 2235?

Nick ·

Puik maar met dit boet daar weer 20 boere met hul lewens, wat word aan dit gedoen?

George in Bloem ·

Hahahahaha!!!! Hoe lekker kry ek nou. Vatso katvis!!!

Willem ·

Dit keer hulle op geen manier om steeds voort te gaan met wat hulle ook al beplan nie. Al wat hull nie kan doen is om aan n stemmery deel te neem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.