Bloedbad in Gauteng, soos moorde met 45% styg

(Argieffoto: SA Polisie)

Moorde in Gauteng het gedurende die eerste drie maande van die jaar met ʼn skrikwekkende 45% toegeneem, die grootste toename van al die provinsies, en toon vir die eerste keer ʼn styging wat hoër is as die nasionale gemiddeld (22%). Kenners is uiters bekommerd hieroor en meen hoewel misdaadstatistieke oor die algemeen kommerwekkend is, moet dringende aandag aan die toedrag van sake in Gauteng gegee word.

Luidens die polisie se kwartaallikse misdaadstatistieke, wat verlede Vrydag bekendgemaak is, het KwaZulu-Natal steeds die hoogste moordsyfer in die land.

Gauteng se moordsyfer het egter tussen Januarie en Maart vanjaar met 45,2% vergeleke dieselfde tydperk verlede jaar toegeneem en dié provinsie ding vir die eerste keer mee met KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap wat die meeste moorde betref.  Luidens die polisie se statistieke is 1 403 moorde gedurende hierdie tydperk in Gauteng gepleeg teenoor 966 moorde dieselfde tyd verlede jaar – wat beteken dat die tweede meeste moorde gedurende dié tyd in Gauteng gepleeg is.

Dit is gemeet aan die werklike syfers en nie die ratio wat aan bevolkingsyfers gemeet word nie. Gemeet aan bevolkingsyfers is die Oos-Kaap eerste wat moorde betref, gevolg deur die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng.

Poging tot moord in Gauteng het verder met 31,7% toegeneem.

Dr. Johan Burger, ʼn onafhanklike misdaadontleder wat voorheen aan die Instituut vir Sekerheidstudies verbonde was, sê hoewel KwaZulu-Natal en die Oos- en Wes-Kaap die nasionale gemiddeld vir moord al jare ver oorskry, is dit die eerste keer dat so ʼn dramatiese toename in Gauteng aangeteken is.

In Kagiso – ʼn informele nedersetting in Krugersdorp wes van Johannesburg – het die moordsyfer met ʼn enorme 87% toegeneem, met 43 moorde wat in die eerste drie maande van die jaar aangeteken is.

Roof met verswarende omstandighede het in Gauteng ook van 11 494 na 12 715 (10,6%) toegeneem.

Burger sê hoewel ʼn daling in misdaad tydens die Covid-19-pandemie waargeneem is, gaan faktore wat misdaad dryf nie gou verdwyn nie, aangesien wetstoepassingsowerhede in baie gevalle nie beheer daaroor het nie. Dit sluit  maatskaplike oorsake soos armoede, drank- en dwelmmisbruik en huishoudelike geweld in.

Toename in poging tot moord

Misdadigers is ‘vreesloos’

Dit wil ook voorkom of roof oor die hele land met al hoe meer geweld gepaardgaan en ʼn “gevoelloosheid vir ʼn ander mens se lewe” toenemend tydens dié voorvalle waargeneem word. In ʼn voorval die afgelope week het rowers in Mpumalanga oop en bloot ʼn sekerheidswag in sy motor genader en verskeie skote op kort afstand op die motor afgevuur, voordat hulle doodluiters weggestap het.

Verlede maand is ʼn jong pa van Brits in Noordwes koelbloedig en ten aanskoue van sy vrou en kleuter op die N4 doodgeskiet. In dié voorval is Juandré Kidson deur drie mans oorval terwyl hy besig was om hul motor se band te ruil wat deur die klippe beskadig is. Hoewel Kidson om sy lewe gesmeek het, het sy aanvallers hom geskiet en met enkele items soos selfone en babadoeke gevlug.

Burger sê verskeie faktore kan tot dié “koelbloedigheid” bydra, waaronder dat die misdadigers ʼn geringe vrees het om gevang te word.

“Die polisie is nie meer die afskrikmiddel wat hulle voorheen was of veronderstel is om te wees nie.

“In baie gevalle stap misdadigers sommer van ʼn toneel weg, hulle hardloop nie eens nie.”

Polisiehulpbronne het boonop landwyd afgeneem, wat dit nog moeiliker maak om misdaad te bestry.

Volgens Burger speel die verswakking van die ekonomie en stygende werkloosheidsvlakke ook ʼn beduidende rol.

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

“Werkloosheid en armoede maak dat al hoe meer mense desperaat raak en steel om aan die lewe te bly. Dan is daar natuurlik ook situasies waar mense gefrustreerd of moedeloos word en hulle tot drank en dwelms wend. Dié soort maatskaplike faktore is ook groot drywers van misdaad, aangesien baie misdadigers onder die invloed van dwelms is wanneer hulle misdade pleeg, wat moontlik tot hul koelbloedigheid of gevoelloosheid bydra.”

Ian Cameron, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie Action Society, meen mense het ook afgestomp geraak vir geweld.

“Kinders word in baie gevalle van ʼn jong ouderdom af reeds aan abnormale vlakke van geweld blootgestel en mense het in die algemeen meer afgestomp teenoor geweld raak.

“Dit het amper normaal geword. ʼn Mens kyk na misdaadstatistieke en vergeet dikwels dat daar werklike slagoffers ter sprake is. Dis nie bloot net ʼn syfer nie.”

Hy stem verder saam dat misdadigers nie inhegtenisneming óf vervolging vrees nie.

“Misdadigers weet hulle kan maklik wegkom. Selfs mense wat wel tronk toe gaan, word voortydig vrygelaat en keer meestal na misdaad terug. Die strafregstelsel is heeltemal ondoeltreffend.”

Cameron sê die tekort aan ʼn voldoende DNS-basis en die aantal mense wat onwettig in die land is, vererger die probleem.

“Dan moet ʼn mens ook onthou dat Suid-Afrika vol beroepsmisdadigers is. In die geval waar die sekerheidswag in Mpumalanga geskiet is, was dit duidelik dat die aanvallers die vuurwapen wou hê.

“Die kans is groot dat hulle waarskynlik by georganiseerde misdaad betrokke is. Hierdie mense weet wat hulle doen, al lyk dit nie altyd so nie.”

Cameron sê hy dink egter nie dat alle voorvalle oor dieselfde kam geskeer kan word nie.

“Ons moet nooit vergeet dat daar werklik bose, slegte mense in die land is nie. Suid-Afrika is siek weens geweld. Ons sit met ʼn wesenlike krisis. Die statistieke bevestig dit.”

Burger sê die polisie besef egter al hoe meer dat hulle die stryd teen misdaad nie alleen kan voer nie.

“Die polisie kan dit nie meer ontken nie. Daar word al hoe meer saam met private sekerheidsmaatskappye en buurtwagte gewerk en so word hulpbronne ook gedeel. Ons verwelkom dit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.