Wag oorleef skokkende aanval

‘n Skermgreep uit die video op Twitter.

’n Veiligheidswag van ’n private veiligheidsmaatskappy in Mpumalanga leef nadat minstens agt skote oor ʼn kort afstand op sy diensmotor in Hazyview afgevuur is.

Twee gewapende mans het die veiligheidswag van Hi-Tech Security Sondag ná 21:00 in sy diensmotor oop en bloot genader, voordat hulle wild en wakker op hom begin losbrand het. Slegs een van dié skote het die wag getref. Net sy vuurwapen is daarna uit die motor gesteel.

Die veiligheidswag is in die voorval in die rug getref en is tans in ’n ernstige dog stabiele toestand in die hospitaal. Hy sal binnekort ’n operasie moet ondergaan.

’n Ontstellende video van die skietery word intussen wyd op sosiale media gedeel.

Die mate van geweld wat gebruik is, is mal,” sê Callum MacPherson, streeksbedryfsbestuurder by Hi-Tech Security. “Daar was geen poging aangewend om hom te bekruip of enigiets nie. Hy is vroegaand net bloot aangeval.”

‘n Skermgreep uit die video op Twitter.

Die betrokke veiligheidswag is in sy 40’s en is al langer as tien jaar werksaam by Hi-Teck Security.

“Hy het net voor die skietery van ’n call out teruggekom,” vertel MacPherson. “Hy het gaan afstaan by sy afgespreekte afstaanpunt, toe die twee verdagtes aangestap kom. Toe hulle sien hy sien hulle, ruk hulle vuurwapens uit en begin net skiet.”

Daar kan in die video van die voorval gesien word hoe die twee aanvallers aan weerskante van die diensmotor staan en skote afvuur voordat die een aanvaller die deur aan die bestuurderskant oopmaak en iets uit die motor haal. Die twee stap dan doodluiters weg.

‘n Skermgreep uit die video op Twitter.

Die veiligheidswag se dienspistool is tydens die voorval gesteel. “Ons vermoed die vuurwapen was die motief vir die aanval.”

MacPherson sê dit nie in dié stadium duidelik presies hoeveel skote afgevuur is nie, maar dit lyk of die aanvallers minstens agt skote afgevuur het. Dit lyk ook of die veiligheidswag self een of twee skote afgevuur het in ’n poging om hom teë te sit.

Brig. Selvy Mohlala, provinsiale woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die veiligheidswag se dienspistool tydens die voorval gesteel is. Die polisie ondersoek tans ’n saak van poging tot moord en gewapende roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dries ·

Die skuim is altyd hier tussen ons. Moet elke oomblik waaksaam wees.

My siening ·

Ons is n kriminele staat, dis snaaks apartheid kry nie die skuld nie. Ons land is seker no 1 op die kriminele staats lys.

Delia ·

So verwaand. Vermom nie eers sy gesig. Dit raak tyd dat die sekuriteitsmanne 2 saam rondry. Meeste van die tyd is hulle man alleen

Henri ·

Die regerende party se stilswye aangaande geweldsmisdade is oorverdowend. Mense wat hulself verdedig teen gewetenlose misdadigers word van poging tot moord aangekla. Ons leef in ‘n verwronge samelewing.

Misky ·

Ja, want elke krimineel in SA het vuurwapens en Cele wil eerlike landsburgers ontwapen.

RB ·

Oop en bloot want daar is geen gevolge vir misdrywe.
Totdat daar nie aksie is waar daar daadwerklik gestraf word om die oortreding te pas nie, sal dit niè ophou.

Straf moet dien as afskrikmiddel, om enige individu wat so oortreding eers bedink, in sy spore te stuit.

Alta Alleman ·

Bring die doodstraf terug sodat daar weer n boodskap oorgedra kan word dat jy nie mag moor nie !!!

Claude ·

Tyd om van sekere mense in die parlement ontslae te raak en hul te vervang met mense wat spesialiseer in die gebied van misdaad voorkoming. Wat weet ou groot hoed van polisiëring, absoluut niks. Hy is daar gesit deur sy kamerade wat ook niks weet van niks af nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.