Blombolboewe in hul spore gestuit

Veldwagters het beslag gelê op sowat 800 blombolle. Dit sal binnekort teruggeplant word. (Foto: Luthando Tyhalibongo/Stad Kaapstad)

Natuurbewaarders in die Tygerberg-natuurreservaat in Kaapstad het drie vermeende blombolstropers danksy die oplettendheid van ʼn besoeker aangekeer.

Die twee natuurbewaarders het Dinsdag kort ná 16:00 gereageer op ʼn oproep oor drie mense wat verdag optree en lyk of hulle plante op een van die staproetes uitgrawe.

Hulle het die drie verdagtes voorgekeer en betrap met meer as 800 blombolle, of geofiete. Geofiete is knolgewasse of plante met groot ondergrondse stamme wat die winter of ongunstige klimaatsomstandighede oorleef.

Die Plattekloof-buurtwag het die veldwagters gehelp om die verdagtes te stuit, terwyl hulle op die polisie gewag het om die inhegtenisnemings te doen. Die drie is in hegtenis geneem en word by die Parow-polisiestasie aangehou.

Hulle word aangekla van die oortreding van Kaapstad se verordeninge oor natuurreservate omdat hulle die reservaat onwettig binnegekom het en met ʼn beskermde plantspesie betrap is.

“Die onwettige oes van blombolle en inheemse plante bly ʼn groot en kommerwekkende probleem omdat dit ons natuurlike biodiversiteit raak en bydra tot die toenemende verlies aan spesies,” sê Eddie Andrews, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en die omgewing.

Andrews sê die teenwoordigheid en bedrywighede van die stropers rig ook skade aan die gevoel in die reservaat as ʼn vreedsame en veilige ruimte.

Hy het die besoeker wat die verdagte bedrywighede aangemeld het, bedank, asook almal wat gehelp het om die drie vermeende boewe aan te keer.

Die stad het net ‘n week gelede ook honderde bolle wat op ‘n wynplaas gestroop is, teruggeplant. Nou is nog 800 bolle uitgeruk. (Foto: Luthando Tyhalibongo/Stad Kaapstad)

Die nagenoeg 800 blombolle het uit vyf plantspesies bestaan: Drimia elata, Drimia capensis, Tulbaghia capensis, Dicerothamnus rhinocerotis (algemeen bekend as renosterbos) en Helichrysum patulum. Die meeste van die spesies word geteiken en gestroop omdat daar geglo word dat dit medisinale eienskappe het.

Die onwettige oes van dié en ander inheemse plante hou egter ʼn wesenlike gevaar vir biodiversiteit in en lei nie net tot die verlies aan spesies nie, maar ook habitatverwoesting, terwyl dit ook die kwesbaarheid van die natuurlike veld verhoog weens die voorkoms van onkruid.

Die reservaat het net ʼn week gelede 500 blombolle teruggeplant wat CapeNature by stropers op ʼn aangrensende wynplaas uitgehaal het. Die Tygerberg-reservaat is geïdentifiseer as die beste plek om dit terug te plant omdat dit ʼn beskermde gebied is en naastenby in dieselfde omgewing as waar die plante uitgehaal is.

Die stad het intussen patrollies verhoog en die reservaat word fyn dopgehou.

Meer as 30 000 mense besoek jaarliks die park en Andrews sê die stad gaan alles moontlik doen om die ruimte te beskerm en teen onwettige bedrywighede te beskerm.

Die geofiete waarop nou beslag gelê is, sal in ʼn omgewing teruggeplant word wat voorheen omgeploeg is en rehabilitasie ondergaan. Amptenare werk hard om die betrokke gedeelte reg te ruk deur verskeie inheemse plante en sade daar te plant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

andre ·

Die arme mense gebruik die bolle vir medikasie ,hulle het bykans alles in die Oos-Kaap uitgehaal .

Miena ·

1e keer wat ek hoor van “geofiete” – Sal daai goed weer vat en groei as dit eens teruggeplant word?

AJ ·

Ons wil die name van die diewe weer en hulle gesigte sien. Hulle woon en werk dalk tussen ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.