Blouligskandaal: Saak opnuut uitgestel

Khomotso Phahlane (Foto: eNCA/ Lenyaro Sello)

Die omstrede blouligskandaal wat verband hou met die toekenning van ʼn bedrieglike multimiljoenrand-tender vir waarskuwingstoerusting vir die polisie, is weer eens uitgestel sodat ʼn aansoek van onredelike vertraging aangehoor kan word.

Volgens Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat (OD) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is die aansoek Maandag deur lt.genl. Khomotso Phahlane, voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, en lt.genl. Bonang Mgwenya, adjunkkommissaris vir menslikehulpbronbestuur by die polisie, ingedien.

Luidens die aansoek voer dié beskuldigdes aan dat die verdediging nie al die nodige dokumente as bewysstukke ingehandig het nie en daarom kan die saak nie voortgaan nie.

Altesaam 13 beskuldigdes staan tereg op aanklag van korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery.

Die ander beskuldigdes sluit in Deliwe de Lange, ʼn adjunk-polisiehoof in Gauteng, brig.genl. Nombhuruza Lettie Napo, lt.genl. Ramahlapi Johannes Mokwena (ʼn afgetrede polisielid), brig. James Ramanjalum, kol. Thomas Dumas Marima, sers. Maetapese Joseph Mulaiwa asook sakeman, Vimpie Manthatha, die direkteur van die maatskappy Instrumentation for Traffic Law Enforcement (Edms) Bpk, en burgerlikes, Judy Rose en Samantha Andrews.

Maroela Media het vroeër berig hulle word daarvan beskuldig dat hulle saamgewerk het om seker te maak ʼn kontrak word toegeken aan ʼn maatskappy wat aan Manthatha behoort. Volgens die kontrak sou 1 550 polisievoertuie teen opgedrewe pryse met waarskuwingsligte toegerus word.

Tydens die aanskaffingsproses het die beskuldigdes glo die mededingende aanbiedingsproses geminag en die SAPD sou R191 miljoen ten gunste van Manthatha se maatskappy moes oorbetaal in ruil vir voordele.

Die saak is tot 25 November uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marius ·

Nie een van die sake sal op verhoor uitloop nie . Die vertragingstaktieke is onbeperk en hulle weet dit . Hulle is gewaarborg dat hulle niks sal oorkom solank diegene in beheer hul stuk van die koek kry nie. Dit is die waarheid .

Androclus ·

Almal hoë geplaasdes=Dit wil sê hoë geplaasde skelms.

Juffrou ·

Dis só tragies dat dié spul skelms nooit die gevolge van hul dade sal ervaar nie. Nóg ń eienskap van skelms is hul vertragingstegniek. Die howe is té oorweldig met skelms en boewe.

SlinkseKoljander ·

Ons mense se hof sake word altyd uit gestel totdat dit net eenvoudig verdwyn.
Waarheid en `n naarheid van Afrika.

Windhond ·

Die saak word uitgestel om te ondersoek hoekom daar onredelike vertragings van die saak is????

Di ·

Dan is 1 van die punte op die nuwe manifesto van die ANC om korrupsie hok te slaan! Het my rerig pap gelag toe ek dit hoor, wat ‘n GRAP. Die grootste korrupte klomp sit almal in die Parlement, Polisiemag en Weermag.

Madz ·

Vrekkit…. the figures speaks for itself!!! Hoe kan ENIGE belasting betalende landsburger so stok-blind en -doof wees!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.