Bloutrein se wiele rol gou weer

Die Bloutrein verwelkom binnekort weer passasiers aan boord. (Foto: The Blue Train)

Reise op die gewilde Bloutrein word na verwagting binnekort hervat nadat Transnet ʼn omvattende ondersoek na ʼn vlaag voorvalle afgehandel het.

Die wêreldbekende en luukse Bloutrein se diens is in Februarie vanjaar onbepaald opgeskort weens veiligheidskommer.

Op 7 November verlede jaar het die trein met 19 leë waens naby Germiston ontspoor. Op 16 Januarie was daar weer ʼn ontsporing, dié keer by die trein se instandhoudingsdepot in Salvokop, en op 8 Februarie het een van die waens wat in November ontspoor het, in ligte laaie opgegaan terwyl herstelwerk daaraan gedoen is.

Daar was nie enige passasiers aan boord tydens enige van die voorvalle nie.

“Transnet het ʼn volledige hersiening van veiligheid- en bedryfsprosedures, wat fokus op risiko’s vir die algehele Bloutrein-diens, gedoen en is vol vertroue dat belangrike veiligheidskwessies tydens die opskorting van die diens uitgestryk is,” sê Ayanda Shezi, woordvoerder van Transnet.

Sy sê die veiligheid van personeel en passasiers bly van die grootste belang.

ʼn Toetstreinrit, om te verseker dat die trein gereed is om dienste te hervat, is onlangs suksesvol afgehandel.

Hoewel geen datum nog hiervoor bekend gemaak is nie, sê Transnet passasiers sal “binnekort” weer aan boord van die Bloutrein verwelkom word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Niklaas ·

Ons het nog altyd gedroom van hierdie trein en ‘n vakansie daarop. Maar deesdae weet mens nie. Spoorstawe raak maklik vermis deesdae.

MammaMia ·

Ons hoop die “nuwe” bloutrein sorteer hul probleme. Ons reis ‘n yslike teleurstelling en vermorsing van baie geld! Lokomotief vooraan ‘n lelike bruin! Wou nie foto neem! Die blindings in kompartement nie gewerk! Hitte onhoutbaar! Moes trek na ander een. “Butler” nooit beskikbaar. 4 ure gestaan op spoorlyn voor eindbestemming Pretoria-stasie. Geen reaksie ontvang op klagtes. NOOIT weer!

Koos 100 ·

Net soos SAA. Net die rykes kan dit bekostig. Plaas daai geld word op “gewone” passasiers en goedere treine spandeer. Dis waar dit nodig is, maar nee hier gaan weer ‘n minister se gesig op die nuus wees, en daarna vrae oor die verkrygings prosesse.

SjN ·

En die treindrywers sit by die huis met volle betaling die afgelope maande!!

Manie ·

Nee wat dankie, met die onveilige spoorlyne en hemelhoë tariewe ry ek maar self of bly tuis.

Jakes ·

Daar is geen waarborg dat die roete of die trein nie weer gesaboteer gaan word. Transnet moet hul huis in orde kry wat sal beteken dat bevoegde bestuur aangestel moet word en of dit enigsins n prioriteit by hulle is word betwyfel.

Pablo ·

Blou trein. Sal seker binnekort moet verander na rooi swart trein.

Boatsie ·

Soos ons padnetwerk.
Help nie jy wil met “fancy” goed ry maar die “pad,” waarop jy ry is vol potholes en krake nie.
Jul moet wakker slaap.

Maritza ·

Dis alles goed en wel maar dis geen plesier om op die spoor lyne te gaan staan as daar geen krag is nie. Nooit weer sal ek ‘n trein rit doen nie!

Mallie ·

Wat van al die spore wat verdwyn het? Hoe loop n trein sonder spore?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.