Bobbejaanmannetjie wat M3 oorsteek, hervestig

DIe bobbejaan bekend as ‘Buddy’ (Foto: Cape of Good Hope)

Die berugte bobbejaanmannetjie wat die Tokai-gebied in Kaapstad verken en verskeie kere die besige M3-pad oorgesteek het, is Maandag in ʼn ander gedeelte van die stad hervestig. Dit volg nadat verskeie pogings al aangewend is om dié steekse bobbejaan te vang en weer by sy oorspronklike trop in Tokai te laat aansluit.

Die stad Kaapstad het in ʼn verklaring gesê die bobbejaan, genaamd TK-57 of ook bekend as Buddy, is op 6 Februarie vir die eerste keer gevang en met sy Tokai-trop probeer herenig. Hy wou egter niks van die trop weet nie en het Saterdag (13 Februarie) weer na die stedelike gebied in Tokai teruggekeer.

Die stad het oor die naweek met CapeNature, SANParke en die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) vergader en daar is besluit om Buddy weer te vang en by die Lewis Gay-dam, in die suide van die stad, vry te laat. Daar sal hy die geleentheid hê om by die Da Gama-, Slangkop- of enige ander trop verder suid aan te sluit.

Die NCC Environmental Services, wat gekontrakteer is om die stad se Urban Baboon-program te bestuur, het Sondag die bobbejaan probeer vang, maar het misluk.

“Die bobbejaan is Maandag eindelik gevang en by die Lewis Gay-dam vrygelaat. Die dam is op die stad se grond geleë,” lui die verklaring.

“Bobbejaanwagters sal Buddy monitor, aangesien bobbejane wat hervestig word nie altyd by hul nuwe gebied inskakel nie.”

Die stad doen ’n beroep op inwoners om Buddy nie te volg nie en om hom ruimte te gee om by sy nuwe omgewing in te skakel.

“Die stedelike gebied met sy besige paaie, mense, huisdiere en ongesonde kos is gevaarlik vir bobbejane. Dit is in die belang van die veiligheid van bobbejane en die publiek dat bobbejane in hul natuurlike habitat bly.”

Volgens die stad is daar ʼn afname in die groei van die bobbejaanbevolking in natuurlike voergebiede. Mededinging tussen onder meer troppe om manlike oorheersing lei dikwels tot versplinterde troppe en verspreiding van bobbejaanmannetjies. Dit is oor die wêreld heen die geval en is kommerwekkend wanneer bobbejane deur stedelike gebiede beweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OW ·

Kataza het die hooflyne gehaal so paar weke terug en is nou skoonveld.Hy sou in Tzaneen hervestig word maar het nog niks verder van hom gehoor nie.

Hennie J ·

Ek het dit nie geweet nie. Is dit hoe n steekse bobbejaan aangaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.