Boer van Ermelo vermoor

Plaashek (Foto: Du Preez de Villiers)

ʼn Boer van Ermelo in Mpumalanga se lewelose liggaam is in sy huis aangetref nadat sy vrou, wat vroeër dorp toe is, hom geruime tyd nie in die hande kon kry nie en onraad vermoed het.

Jannie Jacobus Weideman (60), se liggaam is Donderdag in die huis se sitkamer aangetref en volgens kapt. Carla Prinsloo, polisiewoordvoerder, was daar verskeie tekens van ʼn struweling in die huis.

“Die bure het glo na die plaas gery, maar kon nie toegang tot die werf verkry nie. Hulle het oomblikke later ʼn onbekende man by die agterdeur van die huis opgemerk, waarna hulle ʼn sekuriteitsbeampte van ACSU-sekuriteit versoek het om verdere ondersoek in te stel.

“Die ACSU-sekuriteitsbeampte het by sy aankoms omstreeks 22:00 op die boer se lewelose liggaam in die woonkamer van die huis afgekom,” sê Prinsloo.

Die boer se vrou was glo ten tye van die voorval op Middelburg nadat sy vroeër dorp toe is. Sy het die bure gebel en hulle gevra om ondersoek in te stel nadat haar man nie op enige van haar oproepe of boodskappe gereageer het nie.

“ʼn Rooi Toyota-bakkie is gesteel, maar is Vrydagoggend verlate in Breyten teruggevind,” sê Prinsloo.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.