Boere raadop gesukkel met sprinkaanplaag

Die swerms het reeds op talle plekke groot skade aan weiding aangerig. (Foto: Barry Naude)

Daar is oënskynlik nog geen keer aan die swerms sprinkane wat nou reeds weke lank soos ʼn amperse Bybelse plaag deur groot dele van veral die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap swerf nie.

Barry Naude is ʼn merinoboer met grond in die Hanover-distrik waar hy woon, sowel as in die omgewing van Richmond in die Noord-Kaap. ʼn Reuseswerm het die afgelope naweek op die plaas in die Richmond-distrik aangekom.

“Dis die grootste swerm wat ek kan onthou. Ek het nog nooit sprinkane in sulke getalle gesien nie,” sê hy.

Boere in hierdie geweste het etlike bitter droë jare agter die rug. Die sprinkane is iets wat hulle kwalik kan bekostig.

Die swerm wat op die plaas by Richmond aangekom het, was omtrent die grootte van tienduisend rugbyvelde, oftewel 5 000 ha, sê Naude. Die sprinkane het verlede Woensdag begin aankom en het die volgende dag na ʼn nuwe stuk grond by Naude se buurman in die Oos-Kaap aangekom.

Dit was verskriklik, maar as ek moet kies, vat ek eerder die sprinkane as die droogte.

Die swerms sit uitgestrek oor duisende hektare. (Foto: Barry Naude)

“Die skade wat die sprinkane aanrig, is meer plaaslik. Hulle kom sit op my plaas en vanaand vlieg hulle weer op en gaan na ʼn ander ou se plaas toe. So die res van die distrik word nie noodwendig geraak nie.

“Maar die tonnemate voer wat hulle vreet … dis die voer wat my skape moet eet.”

Naude sê ryp word vandeesweek al vir dele van die Karoo voorspel. “Sodra jy ryp kry, verloor die gras sy voedingswaarde. Dit is hoekom ons verkies om bossieveld te hê, want daarin lê darem nog krag vir die winter.

“Maar die sprinkane vreet die gras dat dit lyk soos grond. Jy sou nie eens dink daar was vantevore gras nie.”

Hy gaan sy skape tussen die plase moet verskuif, en het minstens al lusern begin aankoop om hulle deur die lamseisoen te help wat oor twee of drie weke begin. Dit gaan fyn bestuur verg.

Daar het die afgelope naweek sowat 15 mm reën in die Richmond-plaas se omgewing uitgesak, wat minstens sal help dat die veld begin herstel.

“Ons sal moet wag en sien wat die gevolge gaan wees. Maar ons het groot skade daar gely, ongetwyfeld.”

Naude sê hulle spook ook om die swerms weg van besproeiingslande te hou.

“Ek dink nie mense begryp die omvang hiervan nie.”

Die departement van grondhervorming, landbou, natuurbewaring en omgewingsake in die provinsie verskaf gif en ander toerusting aan gekontrakteerde spanne om met die bespuiting van die sprinkane te help en lugbespuiting met ʼn helikopter is reeds in die omgewing gedoen.

Betaling steeds uitstaande

Maroela Media het vroeër berig talle van die grondbespuitingspanne wag egter nou al weke lank op hul uitstaande betalings. Dit beloop derduisende rand.

ʼn Skaapboer in die Sentraal-Karoo sê ten spyte van die kontrakte wat hulle met die departement aangegaan het – en die werk wat hulle doen – bly betaling al hoe langer agterweë.

“Die manne sukkel met werk op die platteland. Ons kom uit ʼn droogte. Die departement betaal nie, maar die boere moet help,” sê hy.

“Ons het nie meer die kontantvloei nie; ons kan nie meer bekostig om agter die sprinkane aan te ry nie.”

Volgens dié boer het die departement allerlei verskonings vir die laat betalings en navrae en e-posse daaroor bly onbeantwoord. Ingevolge die kontrak moet diegene wat bespuiting doen, boonop bepaalde beskermende kleredrag dra. Daarvan is daar geen teken of sprake nie.

Een van die gifpompe wat glo sommer aan die brand geslaan het. (Foto: Verskaf)

Al hoe meer mense wat vantevore bespuiting gedoen het, dui nou ook aan dat hulle nie meer beskikbaar is om te help nie. “Wat gebeur is dat ons wat die spuitwerk doen, die staat moet dra. Dan kom die staat met simpel verskonings.”

Hy stem ook saam met ander boere dat die toerusting wat die staat beskikbaar stel, dikwels in ʼn haglike toestand is. Volgens hom is dit nie ongehoord dat ʼn pomp sommer aan die brand slaan nie – op ʼn bakkie of selfs op iemand se rug.

“Die toerusting waarmee ons werk, is in ʼn verskriklike toestand.”

Die boer sê sprinkane het ʼn kort lewensiklus. As die sprinkane paar, eiers lê en die grondvog reg is, broei ʼn nuwe groep binne dae weer uit. En dan begin die siklus van voor af.

“Die staat wil oor dae en weke en maande onderhandel. Daar is nie soveel tyd nie.

“Ek kan nie verstaan dat die staat nou nog sukkel met papierwerk oor goed wat uit Bybelse dae kom nie.”

ʼn Helikopter sal intussen na verwagting Donderdag in die Beaufort-Wes-omgewing met lugbespuiting begin.

Die swerms sprinkane het daar reeds groot skade aangerig nadat groenvoer en lusern opgevreet is.

“My eie plaas was vantevore blomtuinmooi. Die sprinkane het dit gevreet dat dit lyk soos ʼn oorbeweide plaas. Hulle het álles opgevreet.”

Die betalings en vrotsige toerusting briek egter die hele proses, sê die boer.

“Die manne verloor moed as hulle nie betaal word nie. Hulle kom reeds uit ʼn bitter swaar tyd en nou kos dit ons geld om sprinkane te bestry.”

Verskeie boere in die Sentraal-Karoo sê hulle wil veral die Wes-Kaapse regering en Agri-Wes-Kaap bedank vir hul voortgesette hulp om die uitbreking te bestry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danny ·

Oe liewe mense – BID BID BID!! Dit is vreeslik, so ‘n plaag was ‘n paar maande gelede in Molteno-omgewing. Dit is iets vreesliks om te aanskou… BID vir jou medeboer!!

Marius ·

Al waarmee jy die regering kan vertrou is dat hul niks gaan doen nie en vir jare daarmee sal voortgaan.

JL ·

Ek dink ons boere en ander landsburgers moet sanksies instel teen die regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.