Boeremag-lede mag skootrekenaars in tronk gebruik

Dr. Lets Pretorius en twee van sy seuns, drs. Johan en Wilhelm Pretorius, tydens ‘n familiedag by die Zonderwater-gevangenis. (Foto: verskaf)

Die hof het toestemming gegee dat twee voormalige lede van die Boeremag hul persoonlike skootrekenaars in hul selle mag hou en gebruik.

Die hooggeregshof in Johannesburg het Vrydag beslis dat drs. Johan en Wilhelm Pretorius hul skootrekenaars – sonder die gebruik van ʼn modem – vir studiedoeleindes kan gebruik. Hierdie vergunning geld solank hulle geregistreerde studente by ʼn erkende tersiêre instelling is.

Die hof het beslis dat die mans se rekenaars op enige tydstip beskikbaar gestel word vir ondersoek deur die departement van korrektiewe dienste.

Die seuns is saam met hul pa, dr. Lets Pretorius, in 2012 saam met 17 ander mans in die hooggeregshof in Pretoria aan hoogverraad skuldig bevind. Die groep wou glo die ANC-regering in die vroeë jare 2000 omverwerp. Hulle is tussen 30 en 35 jaar tronkstraf opgelê.

Lets is in 2020 op parool vrygelaat, maar sy twee seuns dien steeds gevangenisstraf by die Zonderwater-gevangenis in Cullinan uit. Johan en Wilhelm spook steeds om ook op parool vrygelaat te word.

Die pa en seuns het aanvanklik in 2018 reeds aansoek gedoen om die bevel wat die verbod op die gebruik van skootrekenaars deur gevangenes vir studiedoeleindes as onbillik, ongrondwetlik en diskriminerend verklaar. Hulle was ten tyde van hierdie hofaansoek nagraadse studente aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

Die departement van korrektiewe dienste het as respondent in die saak teen hierdie aansoek geappelleer. Hy voer aan die gebruik van skootrekenaars en modems is ʼn veiligheidsbedreiging.

Regter Leicester Adams het egter in die guns van die pa en seuns beslis. Hy het in sy beslissing aangedui dat ʼn staatsowerheid nie beleidstellings moet uitreik wat onbillik of diskriminerend teen enige persoon of groep persone is nie.

Hy het klem daarop gelê dat daar veral nie teen veroordeeldes – wat langtermynvonnisse uitdien – gediskrimineer moet word nie. Hy het gesê dat hulle ook die reg het op verdere onderwys en die reg om te studeer, asook die reg op menswaardigheid.

Die hof het ook vroeër aangedui dat gevangenes juis aangemoedig moet word om te studeer, aangesien dit bydra tot hul rehabilitasie en dat dit in die belang van die samelewing is dat oudgevangenes ten volle in die samelewing kan funksioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Groen Ghoen ·

Wat ‘n loutere skande om die arme mense van hul skootrekenaars te weerhou! Bomplanters en moordenaars is deur Tutu vrygespreek maar hierdie mense ontvang geen genade nie. Sterkte vir hulle en veral vir hul families.

casper ·

Hulle Wimpy bomber word sommer hoof van die polisie in Tswane !!

piet ·

Jy moet in gedagte hou dat baie wit moordenaars ook oorgesien is deur die Waarheids en Voorsienings Kommissie wat ‘n eenmalige ding was om die booshede van die Apartheid-era te probeer afsluit. Hierdie misdadigers het hul dade gepleeg tydens die nuwe bestel en maai wat hulle gesaai het.

Dries ·

Eerste klas burgers wat in die tronk sit. En verrote korrupte regering loop vry rond. Here help ons

Martin ·

Menseregte moet deur Suid-Afrikaners gerespekteer word om almal te herinner aan die opofferings wat gepaard gegaan het met die stryd vir die bereiking van demokrasie in Suid-Afrika. Alle mense word vry en gelyk in waardigheid en regte gebore, maar sekere mense wat veroordeel is verdien nie sekere regte nie en moet ontneem word van sekere regte vir die eenvoudige rede omdat hulle nie ander se regte gerespekteer het nie deur geweldadige skedule oortredings te pleeg wat as ernstig beskou word. In hierdie spesifieke geval was die aansoek volgens meriete goedgekeur en dra my persoonlike goedkeuring weg omdat die gevangenis bereid is om te studeer met die doel om eendag ‘n positiewe bydrae te lewer tot die samelewing.

piet ·

Hoe word jy vrygelaat op parool as jy net 8 jaar van jou meer as 30 jaar vonnis uitgedien het. Hoe werk dit?

Anoniem ·

Hulle is skuldig bevind aan hoogverraad omrede hulle BEPLAN het om die regering omvêr te werp en is tronkstraf van 30 jaar daarvoor opgelê. Het hulle fisies iets gedoen?

Jean ·

Hulle hofsaak tydperk moes afgetrek word van hulle vonnis en dit het nie gebeur nie. Moes omtrent 11 jaar afkom van die vonnis. Da ar is ‘n paar manne van die Boeremag al uit die tronk.

piet ·

Jean , nie die duur van die hofsaak nie maar enige tyd wat hulle in die tronk deurgebring het kan afkom. Hoe die een perd egter na 8 jaar kon uitkom met ‘n vonnis van meer as 30 jaar tronkstraf gaan my verstand te bowe. Dalk was ‘n gedeelte van die straf opgeskort, al wat ek aan kan dink.

piet ·

Dis hoogverraad om plannetjies te beraam om die regering om ver te werp of jy dit nou tot uitvoer bring of nie. Baie ernstig, mense het in die verlede doodstraf daarvoor gekry.

krodedil ·

Piet ons lewe mos in SA. Hier is alles moontlik.
Wat reg is vir die een groep moet ook reg wees vir die ander.

piet ·

Dit was mos reg. Al wat nie reg is nie is dat ‘n man wat meer as 30 jaar tronkstraf kry na net 8 jaar op parool vrygelaat is. Ek verstaan dit nie.

Jannie van Niekerk ·

Belaglik. Wat se veiligheidsbedreiging kan twee jong wit manne vir die korrupote ANC regering en ongedissiplineerde korrektiewe dienste inhou?

Michael ·

As hulle skuldig aan hoogverraad is dan wonder ek wat noem mens dit waaraan die ANC nou al vir omtrent 30 jaar skuldig is

Francois ·

Deesdae kry misdadigers altesaam 60 en 70 jaar gevangenisstraf op verskeie misdade, maar dit “word gelyklopend uitgedien”, selfs net 20 of 25 jaar wat uitgedien moet word. Dan lees mens gereeld dat die persoon na 8 of 10 jaar op parool uitkom, net om weer té moor, verkrag en plunder en geen positiewe bydrae tot die samelewing lewer nie. Wat is diefstal en beskadiging van kilometers spoorlyne, elektriese kabels, minisubstasies, brand van bande open opkap van teerpaaie, brand van skole en klaskamers, vernietiging van stasies – maw enige kritiese infrastruktuur en landseiendom, anders as hoogverraad? Dan klink “beplan” nie meer vir my so erg nie – die mense met hulle kwalifikasies sal heel waarskynlik meer vir die samelewing beteken buite as binne die gevangenis. Of hoe Piet?

Misky ·

In hierdie land van ons mag jy moor en verkrag, moet net nie teen die ANC staan nie.

Jannie van Niekerk ·

Of die EFF,. SAKP, ICOSA, GOOD of enige van daardie kommunistiese swart behepte organisasies.

Pieter J ·

Hierdie mense het die mees buitensporige vonnis ontvang wat al ooit in die land opgelê is en dit om die ANC terwille te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.