Boervrou vlug kaalvoet ná aanvallers toeslaan

Rita Jordaan (Foto: Verskaf)

Rita Jordaan (73), ʼn boervrou van die Vrystaat, moes Saterdagoggend etlike kilometer ver kaalvoet aandurf en uiteindelik deur ses veiligheidsheinings na veiligheid kruip nadat sy op haar plaas in Heuningspruit aangeval is.

Volgens Gideon Zeelie, Jordaan se skoonseun, het sy Saterdag omstreeks 08:30 haar ganse gevoer toe twee onbekende mans haar in die waskamer buite haar huis oorval het.

“Die aanvallers het haar gegryp, ʼn handdoek oor haar kop getrek, haar op die grond neergegooi en haar skoene verwyder voor hulle haar hande en voete vasgebind het,” sê Zeelie.

“Haar gewrig is in die proses gebreek en sy het verskeie beserings aan haar kop, skouers en ribbes opgedoen.”

Die aanvallers het Jordaan – vasgebind en beseer – in die waskamer gelos om die huis te gaan plunder.

“Niemand weet hoe nie, maar sy kon haarself loswikkel en hulp gaan soek.”

Volgens Zeelie moes Jordaan egter drie kilometer ver kaalvoet hardloop en deur verskeie elektriese heinings kruip om by die buurplaas vir hulp aan te klop.

Toe Jordaan uiteindelik by die buurplaas aankom, was die eienaars egter nie tuis nie. ʼn Werker op die plaas, net bekend as Jack, het haar opgemerk en tot haar redding gekom.

“Jack is een van die aangrensende plaas se getroue werkers, sy ken vir Jack, en Jack ken haar.

“Toe sy hom vertel wat gebeur het, het hy haar agter ʼn katbos weggesteek en vir haar gesê sy moet daar wag totdat hulp opdaag.

“As enigiemand weer sê boere weet nie hoe om saam te staan nie, moet hulle met my kom praat. Binne ʼn halfuur was daar meer as 50 boere op daai plaas.”

Daar is vier polisiestasies in die omgewing en die polisie op Kroonstad, Heuningspruit, Koppies en Edenville het elk ʼn voertuig uitgestuur om ondersoek in te stel.

ʼn Helikopter, drie hommeltuie en die honde-eenheid is ook ontbied.

Jordaan is dadelik na die hospitaal geneem, maar is reeds dieselfde middag terug plaas toe.

“Haar lyf is nog baie seer en vol blou kolle en haar voete is flenters na sy kaalvoet deur die bosse en oor heinings moes klim, maar sy wou nie oorslaap nie, sy wou net teruggaan plaas toe.”

Volgens Zeelie is Jordaan nou skrikkerig en wil sy nie te veel uit die huis gaan nie, maar onder omstandighede herstel sy goed.

“Dit kon soveel erger gewees het; sy sê net heeltyd hoe bang sy was hulle verkrag haar. Ons is baie dankbaar dat sy die aanval oorleef het.”

Die verdagtes het glo geld uit Jordaan se handsak gesteel en sleutels saam met hulle weggedra, maar het uiteindelik nie veel van waarde gebuit nie.

Zeelie sê niemand is al in hegtenis geneem nie, maar die plaaswaggroep werk saam met die polisie om die misdadigers vas te trek.

Jan van Niekerk, die VF Plus se provinsiale leier in die Vrystaat, het die samewerking tussen die boerderygemeenskap en die polisie geloof, asook vir Jack wat Jordaan te hulp gesnel het.

“Alhoewel dit wonderlik is om goeie samewerking in tye van nood te sien, wil die VF Plus eerder sien dat hierdie plaasaanvalle afgeweer en voorkom word.”

Volgens Van Niekerk moet landelike gemeenskappe nou ekstra paraat wees aangesien plaasaanvalle duidelik oor die afgelope weke toegeneem het.

“Geen maatreëls moet as onnodig beskou word vir boere om hulself te beveilig en te verdedig binne die raamwerk van die wet nie.

“Dit kan ook nie net as blote toeval gesien word dat plaasaanvalle toegeneem het sedert Julius Malema, leier van die EFF, weer die lied ‘Kill the boer’ en die woorde ‘shoot to kill’ gedurende die EFF se tiende verjaardagvieringe op 29 Julie gesing het nie.

“Dit is tyd dat die regering besef dat plaasaanvalle en -moorde nie net gesinne en gemeenskappe uitmekaar ruk en werkskepping bedreig nie, maar dat dit ook die voedselsekerheid van die ganse Suid-Afrika in gedrang plaas.

“Plaasaanvalle moet as prioriteitsmisdade verklaar word,” sê Van Niekerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Pieter ·

Baie jammer om te sien wat met tannie gebeur het, en dankbaar dat tannie dit oorleef het. Ek wil n beroep op ons ouer boere doen ,war alleen op plase woon, om jonger persone in diens te neem om te help op die plaas, en wat mootlik meer weerstand kan bied in so n aanval. Daar is goeie jong manne daar buite wat sal werl vir kos en n dak oor hulle kop. Ons manne kry nie meer werk, agv BEE nie.

Karoo ·

Jack getuig daarvan dat nie almal skurke is nie. Jy is reg, daar is goeie jong mans daar buite, ongeag hulle kleur of geur. Dalk moet hulle hulsef beskikbaar maak in die gemeenskappe sodat mense van hulle weet.

melaney ·

Ek het seker ‘n dosyn e-poste aan boere gestuur en vertel van ‘n familie lid wat graag sou wou so tiepe werk doen (sonder vergoeding). Hy is ordentlik, drink glad nie, baie netjies op homself, maar hy is blank en kry nie werk nie. Ek het NIE EEN e-pos terug ontvang nie. So, dit sê baie.

Spookasem ·

Melaney, I have said forever that our farmers should set up kibbutz-like systems on their farms. There is so much to learn from how Israel did it – and they faced the most terrible of odds against them. Get people out of squatter camps. Start massive communities on farms – with everyone doing some form of work, like protection, teaching building & maintenance, farming and farmland maint. In most kibbutzes everyone could do everyone else’s job, incl defense!

SjN ·

Knap gedaan my tannie, hoop hul word gevang en onder toesig aan jou oorhandig om mee te gesels en af te reken, ek reken jy sal dit met graagte wil doen.

miche ·

Bravo, Jack! Baie dankie. Ek hoop egter iets word gedoen om Jack en sy gesin ook te beveilig. Hoop nie die skurke keer terug vir hóm nie…

Delia ·

Ek dink regtig nie dis n goeie idee dat die persoon wat haar weggesteek het se naam so wyd gepubliseer word nie.

Karoo ·

Hmmmmm…. nou laat jy my dink. Hulle kon ‘n skuilnaam gebruik het ja. Maar kom laat ons vir nou dankbaar wees vir die 2 dapper mense.

Leana ·

Ek glo regtig nie die mense wat haar aangeval het gaan die koerant lees om te sien of hulle storie die nuus gehaal het nie.

Delia ·

So Leana, as dit jy was, sou jy jou naam in die koerante wou sien. Dis n kortsigtige opmerking. Lees jy nie hoe word mense wat probeer om die regte ding te doen, vermoor nie.

Nettie ·

Sjoe Mev Jordaan, jy gee nuwe betekenis aan die woorde: “Ons sal kaalvoet oor die Drakensberge as ons moet”! Boervrouens kan! Jy maak my baie trots. En ek’s verskriklik dankbaar jy leef, en kan jou storie vertel. Sterkte met jou herstel, veral die emosionele trauma. Ons bid vir jou.

JohanR ·

ANC gee die geld, EFF werf die manskap en die taxis neem hulle na die plaas. Na die tyd is dit weer in die taxi in, afgelaai en betaal. Die wat my ouers aangeval het in Letsitele, het bebloed in ‘n taxi gespring en in Pietersburg(Polkwane) af gelaai. Nooit in die dae van die NP is boere se lewens soe bedruig nie. Die NP het darem geweet sonder die boere is daar nie kos op die land se tafels nie, maar dan dink die ANC en EFF die land se kos kom van Checkers, Shoprite, P&P, Spar, Woolworths, China en Rusland!

MC ·

Jy is ‘n Ystervrou Rita, niks sal ons onder kry nie. Baie dankie Jack vir jou omgee en hulp.

Jakes ·

Die dame was braaf maar die vraag moet gevra word waarom sy alleen as n bejaarde op n plaas woon gegewe die hoeveelheid plaasaanvalle wat gereeld gebeur? Bejaarde mense is maklike teikens en dinge kon erg verkeerd uitgedraai het.

Di ·

Dink ons almal weet WIE orkestreer al hierdie plaasaanvalle. God slaap nie, hulle dag gaan kom

Karina ·

Daar is tog goeie mense nog in ons land. Dankie Jack dat jy die Tannie gehelp het.

Boerinmurgenbeen ·

Alle boere, wit, swart en Indiër moet net stop om enige belastings te betaal totdat dié probleem van plaas aanvalle uitgesorteer en prioriteit geniet.
Stop eenvoudig net aale betalings dan sal Cyril seker wakker skrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.