Boete vir man oor dieremishandeling

Victor Tshabalala het sy vee in haglike omstandighede aangehou. (Foto: DBV)

ʼn Man van Springs aan die Oos-Rand wat sy vee verwaarloos en in haglike omstandighede aangehou het, sit nou met ʼn misdaadrekord nadat die Springs-landdroshof hom aan dieremishandeling skuldig bevind het.

Dié hof het Victor Tshabalala ʼn vonnis van tien maande óf ʼn boete van R10 000 opgelê.

Die vonnis is in geheel vir vyf jaar opgeskort mits hy nie weer in hierdie tydperk aan dieremishandeling skuldig bevind word nie.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) sê hoewel hy ʼn ander vonnis sou verkies, is hy dankbaar dat Tshabalala nou ʼn kriminele rekord het.

“Dit stuur ʼn duidelike boodskap dat dieremishandeling ʼn ernstige misdaad is wat nie geduld sal word nie,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

Die skuldigbevinding en vonnis spruit uit klagte wat die DBV in 2020 al aanhangig gemaak het.

Inspekteur Kevin Khumalo, voorheen verbonde aan die DBV se eenheid vir die beskerming van plaasdiere, het destyds ʼn inspeksie op Tshabalala se plaas, oos van Johannesburg, gedoen en gesien dat skape en beeste in uiters haglike omstandighede aangehou word.

Die beseerde bees destyds op Victor Tshabalala se plaas. (Foto: DBV)

Die uitgeteerde diere het nie voldoende kos of water gehad nie, asook geen beskerming teen die elemente nie.

Een van die skape en een van die bulle kon boonop nie behoorlik loop nie, maar het duidelik geen mediese behandeling ontvang nie.

Die DBV het ʼn hofbevel bekom, maar by hul terugkeer na die plaas geen teken van die beseerde bul gevind nie. Die dier is later op ʼn buurplaas gevind waar Tshabalala dit probeer “wegsteek” het.

Albei diere moes van kant gemaak word om hul lyding te verlig, en strafregtelike klagte is gevolglik aanhangig gemaak.

Volgens die DBV wou die staat aanvanklik nie voortgaan met die saak nie omdat daar “geen vooruitsig op suksesvolle vervolging” was nie.

“Deur volgehoue druk om geregtigheid vir hierdie diere te kry het die DBV die saak weer heringestel gekry.

“Elke dier is beskerming werd, ongeag die rede vir hul aanhouding of hoe die dier grootgemaak word. Hierdie saak wys dat die DBV vir enige diere in gevaar sal veg.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.