Bokke bly op die wenpad loop

Aphelele Fassi, Cobus Reinach en Jesse Kriel vier een van die Springbokke se drieë. Foto: Hansie Linde.

Ná die intrige van die Britse en Ierse Leeus-reeks is dit seker te verstane dat die Springbokke se Rugbykampioenskap-draaiboek op ’n minder dramatiese noot begin het. Jacques Nienaber het immers ’n spul veranderinge aangebring en net ’n handvol Leeutemmers was in vandag se beginvyftiental.

Tog was die “nuwe” Springbokke steeds goed genoeg om Argentinië met 32-12 in Gqeberha (Port Elizabeth) te klop.

Oudergewoonte was verdediging hul sterkpunt en g’n Argentyn kon sy pad deur die Bok-linies vind nie. Teenstanders (onder wie die All Blacks) kon sedert 2019 nog net 13 drieë in 17 toetse teen die Suid-Afrikaners druk.

Cobus Reinach het met sy vaart beïndruk. Foto: Hansie Linde.

Ja, daar is sommiges wat sal mor dat dit vir gaap-rugby sorg, maar die meeste Springbok-ondersteuners sal saamstem dat hulle eerder só sal wil wen as om die drieë in te ryg en te verloor.

Natuurlik sal dit interessant wees om die kritici se kommentaar te lees as die Bokke nou die dag met dié wedstrydbenadering sou verloor, maar tans is hulle nog op die wenpad en dit is lekker om saam met hulle daarop te loop.

Cobus Reinach en Aphelele Fassi het buitendien vandag gewys dat die Suid-Afrikaners goeie drieë kan druk as hulle die geleentheid kry, terwyl Jasper Wiese ’n barshou gespeel het.

Die 25-jarige losvoorspeler het die bal goed gedra en ’n hele paar verdedigers geklop om welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys te word. Daar is dus hoop in Duane Vermeulen se afwesigheid.

Nogtans was daar ’n paar dinge wat gelol het, maar dit is eintlik net Nieu-Seeland wat bykans met  reëlmaat op ’n “perfekte oorwinning” kan aanspraak maak.

Jasper Wiese. Foto: Hansie Linde.

Maar wie gee daaroor om? Die Springbokke is die Wêreldkampioen en hulle het so pas met die Britse Leeus afgereken; iets wat die Kiwi’s nie in 2017 kon doen nie.

En ons kan vir Argentinië klop …

Puntemakers:

Springbokke: Drieë: Cobus Reinach, Aphelele Fassi en Jaden Hendrikse. Doelskop: Elton Jantjies. Strafskoppe: Jantjies (5).

Argentinië: Strafskoppe: Nicolas Sanchez (4).

  • Rugbykampioenskap-punteleer:
  1. Nieu-Seeland 5 punte
  2. Suid-Afrika 5 punte
  3. Argentinië geen punte
  4. Australië geen punte

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Willem ·

Geluk maar All Blacks gaan SA wen.Te veel kwota spelers in bokspan!!!!!

twaalfboor ·

Ag asseblief tog Willem….. dis duidelik nie SA se topspan wat teen die Pumas ingespan is nie. Jy het seker ñ all black trui in jou kas.

Jaco ·

Is die span se raskwotas nog reg? Dis mos maar al wat tel. Wen of verloor is nie so belangrik nie.

SjN ·

As daar minder doelloos geskop word, voorspelers uit die lyn bly en die bal by die vleuels uitkom sal daar meer driee wees.

Baardman ·

Kry tog net n ander nr 10 om vir Morne Steyn by te staan, Jantjies is hopeloos

Kerneels ·

Baie geluk Bok-brekers! Of dit nou die A-, B-, of A&B kwotaspan is, welgedaan! En ek reken die AB is volgende…

MakersMark ·

Uitstekende wen deur die bokke. Jantjies het die kluts kwyt geraak later. Frans Steyn kan eintlik ook maar toks ophang. Bomb squad weer uitstekend. Die wat kerm oor kwotas en net ‘n wit span wil sien – skryf Orania in vir toets rugby en kies julle span. In bok span speel spelers vir mekaar en SA maak nie saak hul kleur. Geen plek vir verdeeldheid.

piet ·

Ons anderskleurige toetsspelers is definitief op standaard en hele paar van hulle tel ongetwyfeld onder ons beste spelers. Ek het al hoeveel keer gevra dat die anti-swart brigade hulle “slegs witspan” kies. Hulle kan nie want hulle gaan hul name weggooi want daar is beter anderskleurige spelers in sommige posisies. Die kwota storietjie word nou soos ‘n Harry Potter staffie rondgeswaai wanneer ons verloor (veral wanneer ons verloor). En soos jy se, hulle steun nie die span nie so wat worry hulle nou verder oor wat gebeur. Gaan kyk vir Orania se dorpspan (as hulle een het) as swartspelers jou walg.

MakersMark ·

Stem. Daai span haal die beste uit mekaar en speel vir mekaar en die mense van SA. Daar is nie kleur daar nie net spanmaats. En kyk vir Ox, Trevor, Fasi – uitstekend. Kolisi bietjie stil maar het goed verdedig. Daar is nie kwota spelers in die bok span nie. Kwota speler is een wat tweede beste is en in die plek van ‘n ander speler speel om ‘n sekere doelwit mbt kleur ens te bereik. Laat ons die wat so kla oor kwotas die “tweede bestes in die span” agv kleur uitwys maar dan asseblief die beter speler wat uit die span gehou word deur die kwota speler noem. Dink soos jy sê – radiostilte…..

SjN ·

Na die stilte, daar is baie beter kapteins wat werklik kan voor vat as tans, bewys my verkeerde asb?

Niklaas ·

Ek kan darem dink aan heelwat beter spelers as ou Damian Willemse op senter. Esterhuizen, Serfontein om net 2 te noem.

Niklaas ·

Die groot toets is natuurlik die All Blacks. Maar dis nie onmoontlik nie. Mag ons hulle klop , as mens nou erg optimisties mag wees.

Kobus ·

Weet iemand wie op Supersport die Afrikaanse kommentaar gelewer het tydens die Springbok – Argentinië-wedstryd ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.