Bokke laat wiel teen Italië

Kurt-Lee Arendse het twee drieë teen Italië gedruk. Foto: Jean Catuffe/DPPI via AFP.

Italië is ʼn land propvol stories en geskiedenis. Van die imposante Colosseum tot die kleinste waterfonteintjie vertel ʼn unieke verhaal. En vandag kan ʼn mens beslis oor die Springbokke se vertoning in Genua huis toe skryf.

Want die Suid-Afrikaners het nege drieë gedruk om die Azzurri (deesdae ʼn gevaarlike buiteperd) met 63 – 21 te verrinneweer.

Siya Kolisi het vooraf gesê dat die Bokke hierdie een bitter graag wil wen. En ná ’n senuweeagtige begin het hulle inderdaad gespeel soos ʼn span wat dit verdien om as oorwinnaars van die veld te stap.

Die voorspelers het in die skrums en by die afbreekpunte gewoeker, terwyl die agterspelers die meeste van hul geleenthede met al twee hande aangegryp het.

Net ʼn vinnige vraag – wanneer laas het jy ʼn Springbokspan gesien wat die bal só laat loop het? Van Willie le Roux se skerpskutter-aangeë tot Kurt-Lee Arendse se toorkunsies het die stomme Italianers op die agtervoet geplaas.

Tussendeur was daar oudergewoonte die gebruiklike voorspelerdrieë – dankie Bongi Mbonambi, Malcolm Marx en kie – maar Arendse maak ongetwyfeld ʼn verskil in die Springbok-agterlyn.

Die voormalige Blitsbok-speler is vinnig, rats en ʼn derduiwel om plat te trek. Voeg daarby vir Cheslin Kolbe en die Springbokke het ʼn vlugvoetige agterlyn wat vir ander spanne ʼn kopseer kan gee.

En ʼn bietjie Grand-Pa-poeier gaan beslis nie daarvoor help nie.

Kolbe, wat die veld met ʼn seer dyspier verlaat het, het juis in die aanloop tot die ontydige besering weer eens sy waarde op die aanval onderstreep.

Die 29-jarige agterspeler het die tuisspan heeltemal onkant betrap toe hy een van Damian Willemse se afskoppogings uit die lug gepluk het om punte vir Suid-Afrika aan te teken.

Die Springbokke het met vryheid en entoesiasme gespeel; iets wat lanklaas in die era van skop-, storm- en platduikrugby gesien is.

Ja, een goeie vertoning regverdig glad nie die bou van ʼn triomfboog nie. Maar ná vandag kan ʼn mens daarvan droom om die stene aan te ry, of hoe?

  • Puntemakers:

Springbokke: Drieë: Kurt-Lee Arendse (2), Bongi Mbonambi, Cheslin Kolbe, Kwagga Smith, Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Damian Willemse en Cobus Reinach. Doelskoppe: Kolbe, Manie Libbok (5). Strafskoppe: Kolbe (2).

Italië: Drieë: Ange Capuozzo en Lorenzo Canonne.  Doelskop: Tommaso Allan. Strafskoppe: Allan (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Rugby is eintlik ‘n snaakse spel omdat een oorwinning teen jou kan tel net ‘n week later . Ons sal beslis moet waak teen oorgerustheid. Engeland het verwoed teruggeveg teen die Allblacks vir die gelykop uitslag en niemand was heeltemal daarmee tevrede nie . Hulle is nie Italië nie. Ons mag dalks vind dat laas Saterdag se Bok -helde , volgende Saterdag se ploeteraars kan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.