Bokke stuur Wallis planke toe!

Jesse Kriel duik oor Wallis se doellyn nadat Pieter-Steph du Toit die bal onderskep het. (Foto: Geoff Caddick/AFP)

Wat Wêreldbeker-voorbereidingswedstryde betref, kon dinge seker nie veel beter vir die Springbokke op ʼn sonnige Saterdagmiddag in Cardiff verloop het nie.

Die Suid-Afrikaners het agt drieë gedruk om Wallis met 52–16 te oorrompel. Die rustydtelling was reeds 24–9 in die besoekers se guns.

Jesse Kriel en ʼn uitstekende Canan Moodie was elk vir twee drieë verantwoordelik, terwyl Malcolm Marx, Pieter-Steph du Toit en Damian Willemse ook die Rooi Drake se vuur geblus het.

Die Springbok-skrum het oudergewoonte op alle suiers gevuur en nadat die voorry van Steven Kitshoff, Marx en Frans Malherbe in die eerste helfte hul stempel op die wedstryd afgedruk het, kon Ox Nche, Bongi Mbonambi en Vincent Koch met mening daarop voortbou.

Arme Wallis kon net een rat in die skrumsituasie vind en dit was trurat.

Siya Kolisi het terselfdertyd ʼn stewige vertoning gelewer in sy eerste wedstryd terug van sy kniebesering. Die Springbok-kaptein het ʼn goeie rol in Marx se drie gespeel, terwyl hy tevrede met sy algemene spel en werkverrigting kan voel. Hy is baie vroeg in die tweede helfte deur Marco van Staden vervang.

Canan Moodie en Franco Mostert vier een van die Springbokke se drieë. Moodie is as die speler van die wedstryd aangewys. (Foto: Geoff Caddick/AFP)

Manie Libbok het weliswaar met ʼn paar stelskoppogings misluk, maar hy het nogtans met sy balverspreiding en ondernemende spel beïndruk.

In ʼn Wêreldbeker is ʼn betroubare stelskopper egter bitter belangrik en hy sukkel tans agter die skopkelkie.

Die Springbok-bestuur moes teen die einde van die wedstryd ʼn sug van verligting slaak toe Damian Willemse net ʼn geel kaart gekry het nadat hy koppe met Rio Dyer gestamp het.

In die geheel verdien die Bokke ʼn klop op die skouer, maar die ware toets wag heel waarskynlik volgende week op Twickenham teen die All Blacks.

Maar kom ons geniet eers vandag se goeie vertoning – dis lekker om die Bokke so te sien hardloop met die bal; selfs al het hulle teen ’n onervare Wallis-span gespeel.

  • Puntemakers:

Springbokke: Drieë: Strafdrie, Jesse Kriel (2), Canan Moodie (2), Malcolm Marx, Pieter-Steph du Toit en Damian Willemse. Doelskoppe: Manie Libbok (5).

Wallis: Drie: Sam Parry. Doelskop: Cai Evans. Strafskoppe: Sam Costelow (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonkprop ·

Hulle moet so gou as moontlik van Manie Misskop ontslae raak. Hy gaan ons baie kos. Ja, ek stem saam jy kry af dae en dit vat tyd om jou ritme te kry, maar dit is duidelik hy kan nie skop nie. Jy het talent of jy het nie.

Mnr De Beer ·

Ek sou voorstel dat hulle ander spelers soos Jordan Hendrikse of Siya Masuku die kans kon guns om net ten minste te probeer wys of hulle kan pale toe skop. Kan nie so sukkel met Manie oor en oor nie.

Cabous like braai ·

Mooi bokke hul net vir Wallis gewys wanneer Jan Van Riebeeck SA Toe gekom het 1652

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.