Bokke tot uiterste deur vurige Argentyne beproef

Damian de Allende druk een van die Springbokke se drieë. (Foto: GB Jordaan)

Trevor Nyakane het Woensdag tydens ʼn mediasessie gewaarsku dat Argentinië ʼn span is wat doodeenvoudig weier om die handdoek in te gooi. Hulle sal aanhou speel, selfs wanneer hul teenstanders sterk vertoon en telbordmomentum geniet.

Nou ja, die Argentyne het daad by waarskuwende woord in die laaste Rugbykampioenskap-toets van 2023 gevoeg toe hulle die Springbokke tot die uiterste op Ellispark beproef het.

Die tuisspan het uiteindelik vasgebyt om die kragmeting met 22 – 21 te beklink, maar goeiste, dinge het veral in die tweede helfte broekskeur gegaan.

Die aksiebelaaide wedstryd het op die slegste manier moontlik begin toe die opwindende Grant Williams binne 35 sekondes ná die aanvang van die tweestryd ʼn baie harde stamp teen die kop gekry het.

Die Sharks-speler het die bal naby sy doellyn weggeskop, maar ʼn vlieënde Juan Cruz Mallia het teen hom gebots en hy is ʼn rukkie later met ʼn draagbaar van die veld geneem.

Faf de Klerk het Williams se plek agter die skrum ingeneem en die Springbokke het aanvanklik gesukkel om aan die gang te kom.

Eben Etzebeth het egter éérs die enigste verdediger tussen hom en die doellyn gestoomroller, waarna Damian de Allende ʼn flinke drie ná ʼn goeie Bok-rolmaalbeweging gedruk het.

Malcolm Marx op die voorvoet. (Foto: GB Jordaan)

Die Springbokke se voorspelers het ook lekker saamgesels en ʼn uitstekende Malcolm Marx het saam met Steven Kitshoff gesorg dat die Suid-Afrikaners die skrum- en afbreekpuntoorlog wen.

Teen rustyd het die Springbokke ʼn voorsprong van 15 – 9 geniet en dit het gelyk of dit ʼn mooi aand in Johannesburg sou wees.

Maar die een begeesterde Argentynse teenaanval na die ander het hulle onverhoeds in die tweede helfte betrap en die verdediging moes omtrent bontstaan.

Gelukkig kon De Klerk ʼn los bal opraap en Manie Libbok het hakskene vir die Suid-Amerikaners gewys om ʼn belangrike drie teen die verloop van spel te druk.

Ellispark se platejoggie het terstond met ʼn opgewekte Avicii-treffer weggetrek, maar De Allende se geel kaart in die 73ste minuut het gedreig om dinge weer deurmekaar te krap.

Argentinië se Gonzalo Betranou het die laaste drie van die kragmeting gedruk, maar toe was dit reeds te laat vir die besoekers om ʼn merkwaardige tweedhelftevertoning met ʼn oorwinning af te rond.

Twee weke gelede het die Springbokke teen die begeesterde All Blacks gespeel en vanaand teen ʼn span wat pleinweg geweier het om te gaan lê. Dalk is dit waardevolle lesse so in die aanloop tot die Wêreldbeker.

  • Puntemakers:

Springbokke: Drieë: Eben Etzebeth, Damian de Allende en Manie Libbok. Doelskoppe: Libbok (2). Strafskop: Libbok.

Argentinië: Drieë: Mateo Carreras en Gonzalo Betranou. Doelskop: Santiago Carreras. Strafskoppe: Santiago Carreras (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Moes daar nie ten minste n kaart gewees het met Williams se stamp teen sy kop nie?

Niklaas ·

Ek was verbaas oor die Puma heelagter Juan Mallia wat skotvry afgekom het na die botsing met Williams. Toe C J Stander destyd vir Pat Lambie op dieselfde wyse tref , was die straf aanvanklik ‘n rooi kaart, maar later in die komende week versag. Ek glo die skeidsregter was baie genadig teen oor Mallia.

Josua ·

Kom ek vra jou die vraag , sou die Argentein dalk op sy skouer of nek afgekom het wat sou die beslissing dan gewees het? Verstaan my vraag, ons speler sou n geel of rooi kaart gekry het want die beslissing sou gewees het dat ons speler sy voete onder hom uit geneem het. Die eerste vout was aan ons kant, niemand het ons man voor beskerm nie of verhoed dat die aanvallende speler so op hom kon af storm, tweedens moes ons speler self in die lug op gegaan het en dit het ook nie gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.