‘Bondgenoot’ gee Jacob Zuma parool kort voor aftrede

Arthur Fraser, nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, het die besluit geneem om Zuma op mediese parool te plaas. Fraser is ‘n bekende bondgenoot van die oudpresident. (Foto: DKD)

Die man wat die besluit geneem het om oudpres. Jacob Zuma op parool vry te laat, is ʼn bekende bondgenoot van die oudpresident en tree boonop oor ʼn paar weke af.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het Sondag aangekondig dat Zuma op mediese parool vrygelaat word, ʼn stap wat tot skerp kritiek gelei het.

Arthur Fraser, omstrede direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) en deesdae kommissaris van die DKD, het die besluit geneem ingevolge wetgewing wat hom toelaat om parool of mediese parool toe te staan aan ʼn gevangene wat ʼn vonnis van minder as 24 maande uitdien.

News24 het Maandag egter berig Fraser het die besluit geneem ʼn skamele twee weke voor sy termyn as nasionale kommissaris glo verstryk. Die webwerf berig voorts hy het vertroulik verneem dat Fraser se kontrak boonop nie weer hernu gaan word nie.

Die tydsberekening vir Fraser se besluit om mediese parool aan Zuma toe te staan, laat dus talle vrae ontstaan.

Omstrede karakter

Fraser is ʼn man teen wie verdoemende bewerings oor sy termyn as spioenbaas gemaak is, maar hy is nietemin in 2018 as hoof van die DKD aangestel. Hy word onder meer daarvan beskuldig dat hy ʼn parallelle intelligensiestruktuur by die SVA bedryf het.

By die Zondo-kommissie na staatskaping het ʼn getuie ook aangevoer dat Fraser haar opdrag gegee het om ʼn sak met geld van ʼn SVA-amptenaar te ontvang en aan David Mahlobo te gee. Mahlobo was destyds die minister van staatsveiligheid en is deesdae adjunkminister van water en sanitasie.

Die getuie, wat onder die skuilnaam Dorothy getuig het, het aangevoer sy het die sak – wat glo R1,5 miljoen bevat het – aan Mahlobo by sy ampswoning oorhandig. Mahlobo is ook ʼn bondgenoot van Zuma.

Spesiale behandeling

Oudpres. Jacob Zuma vroeër vanjaar by sy huis by Nkandla. Hy het kort daarna sy tronkstraf begin uitdien. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Prof. Dirk Kotzé, ʼn politieke ontleder verbonde aan Unisa, sê Fraser is iemand wat naby aan Zuma beweeg het en hy meen mense kan die indruk kry dat die oudpresident wel spesiale behandeling ontvang het.

Zuma se vrylating herinner boonop aan dié van sy meeloper Schabir Shaik, wat ook destyds op mediese parool vrygelaat het omdat hy glo terminaal siek was. Shaik het net meer as twee jaar van sy 15 jaar tronkstraf uitgedien voordat parool aan hom toegestaan is.

Die DKD hou egter vol daar is niks vreemd aan sy besluit om Zuma op mediese parool vry te laat nie en dat dit berus op ʼn mediese verslag wat die departement ontvang het.

Presies wat Zuma makeer, is egter nie bekend gemaak nie.

Die DA het intussen gesê hy gaan ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) indien vir die rekords van die paroolraad om vas te stel watter kriteria gebruik is om te besluit of Zuma in aanmerking vir mediese parool kom.

John Steenhuisen, DA-leier, gaan ook vra dat die parlementêre komitee oor justisie en korrektiewe dienste Fraser ontbied om sy besluit te kom verduidelik. Die DA voer aan die besluit is teenstrydig met die Wysigingswet op Korrektiewe Aangeleenthede.

Kotzé sê Zuma sou ieder geval binnekort vir gewone parool in aanmerking gekom het.

Zuma-steun al hoe minder

Kotzé meen hoewel Zuma nou op parool vrygelaat is, was dit reeds ʼn merkwaardige gebeurtenis dat hy enigsins in die tronk beland het.

“Daar is rede vir mense om te sê dit is sogenaamde sagte behandeling van Zuma en dat die meeste mense waarskynlik nie so behandel sou word nie. Vir my is die punt dat hy in die tronk was. Hy het nie sy inhegtenisneming en vonnis vrygespring nie,” sê Kotzé.

“Daardie magiese aura om hom, dat hy onaantasbaar is, is gebreek. Dit bestaan nie meer nie.”

Boonop is daar weinig van Zuma se getroue bondgenote nog in werklike posisies van mag. Kotzé verwys onder meer na Tony Yengeni, ʼn lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, Nomvula Mokonyane, wat nie meer ʼn kabinetslid is nie, asook die feit dat die Umkhonto weSizwe-militêre veteranevereniging (MKMVA), in wie Zuma ʼn sterk ondersteuningsbasies het, ontbind is.

MKMVA-leier Kebby Maphatsoe, ʼn groot Zuma-bondgenoot, is sowat ʼn week gelede dood, terwyl Ace Magashule, nog ʼn Zuma-man, as sekretaris-generaal van die ANC geskors is.

Carl Niehaus se pogings om verdere steun vir die oudpresident te werf, het ook nie werklik van die grond af gekom nie.

“Zuma se magsbasis raak al hoe kleiner en al hoe swakker. Dit is eintlik net ʼn geraas.

“Die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners sou dalk gesê het Zuma sal nooit tronk toe gaan nie en as dit gebeur, sal Suid-Afrika inmekaar val. Hy ís tronk toe en moes amper deur ʼn agterdeur probeer uitkom – en Suid-Afrika het nie inmekaargestort nie,” sê Kotzé.

Volgens die DKD kan mediese parool net opgeskort word as ʼn oortreder nie voldoen aan die voorwaardes vir sy parool nie.

“Ons wil benadruk dat mediese parool ʼn beskikbare opsie is vir alle oortreders, mits hulle aan al die vereistes voldoen. Ons doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om mnr. Zuma sy waardigheid te gun terwyl hy voortgaan om mediese behandeling te ontvang.”

Die Jacob Zuma-stigting het Sondag gesê die oudpresident is nog in ʼn hospitaal, maar dit is in hierdie stadium onduidelik presies waar die oudpresident hom tans bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Kokerboom ·

Dis artikels soos hierdie wat boewe uitlig, wat hul posisies na onregmatige aanstellings blatant misbruik en die korrupte regime van die dag dit stilswyend kondoneer wat my noop om die regering van die dag met ‘n passie te verag! Hoe kan die skepsel pryk met ‘n rang wat hy nie eers verdien het? Dit maak ‘n krater/bespotting van die rangstelsel! Dis skandelik, veragterlik en skrei ten hemele!!!

Porseleintjie ·

Hy het orals bondgenote. Hoe meer korrup jy in hierdie land is, hoe meer regte en vryhede het jy.

Johan ·

Maar ons almal het dit mos gesien kom. Ek weet nie hoekom is so baie mense nou verbaas en geskok nie.

Elinette ·

Kader-ontplooiing en her-ontplooiing op sy beste!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Die ANC-koekie verkrummel stadig maar seker. Die tyd het gekom …. OM TE GAAN, ANC!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

koos10 ·

Nog enige vrae hoekom Zuma tyd gegun moes word om tronkstraf te begin? Al hierdie klein dingetjies moes eers uitgesorteer word. Hoekom het Cele hom gaan besoek? Eish man, ek lees hierdie regering soos ‘n boek, ‘n riller!

Blikkies ·

Ek wil eerder se die huidige president en meelopers is niks anders as Zuma en sy bongenote nie, hulle doen presies dieselfde maar net anders om. As die Die DA aanvoer dat die parool besluit teenstrydig is met die Wysigingswet op Korrektiewe Aangeleenthede, hoekom doen julle nie iets daaraan nie en skerp op teen Frazer.

Mariana ·

Die ou Zuma gaan nog sy dag kry en dan gaan hy nie so smaal nie. Arrogante krimineel gaan hard val.

Tokkel ·

Arthur dit is goed dat jy aftree, want die sterre op jou skouer lyk vir my te veel vir die besluite wat jy neem. Nadat hoeveel miljoene verdwyn het en al die onluste wat gebeur het in Natal, dink ek nie dit was ‘n goeie besluit nie. Zuma het seker bortkruit ge-eet soos jakkals om sy stemmetjie fyn te hou.
Geniet jou aftrede, hoop jy kan lekker warm slaap en heerlike drome hê….

SjN ·

kaders help mekaar, en huidige bestuur doen niks daaraan, seker deel van hul kultuur.

Hardekwas ·

Die wêreld se libtards en woke mense is seker nou baie trots op wat hulle ondersteuning van die anc boewe bereik het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.