Boomslang in woonkamer gevang

Skermskoot uit video.

’n Boomslang van meer as een meter lank het Woensdagaand ʼn groot geveg opgesit toe ʼn professionele slangvanger probeer het om die slang uit ʼn woonstel in Belvedere, KwaZulu-Natal, te verwyder.

In ’n video van die voorval kan gesien word hoe Samantha Cumming van Reptiles Unlimited etlike minute lank spook om die halsstarrige reptiel eindelik tot bedaring te bring.

Die Reaction Unit South Africa (Rusa) sê hulle het omstreeks 18:15 ’n oproep ontvang dat dié slang, wat uiters giftig is, langs ’n rusbank in die woonkamer van die woonstel aangetref is.

“’n Reaksielid is na die woonstel ontbied wat die slang as ’n boomslang geïdentifiseer het. Aangesien die slang hoogs giftig is, is Cummings na die woonstel ontbied.

“Sy het die slang gevang en verwyder.”

Die slang het egter ʼn reusegeveg opgesit en aanhoudend getol en gespartel. Ná meer as twee en ʼn half minute het Cumming die slang uiteindelik onder beheer gebring en veilig in ʼn plastiekhouer geplaas.

Luidens ʼn inskrywing op die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi) se webwerf is boomslange skaam en sal hulle selde pik.

Indien hulle bedreig voel en wél pik, kan dit egter dodelik wees.

“Die gif is so sterk dat selfs ’n skraap ernstige simptome kan veroorsaak. Die slang se hemotoksiese gif is stadigwerkend en kan 24 tot 48 uur neem om ernstige simptome te veroorsaak,” lui die inskrywing.

Simptome sluit onder meer interne bloeding, hoofpyn, naarheid en slaperigheid in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Misky ·

Nee heng, ek sou dit nie kon doen nie en ek is doodbang vir slange. Ek vat my handsak en is daar uit voor jy “slang” kan sê!!!

Elinette ·

My oorlede Ma het altyd gesê die enigste goeie slang, is ‘n DOOIE slang. Kyk hier, al is my rug krom en bene stokstyf van artritis, hol ek weg dat my knieë langs my ore klap …

Tanniepetoors ·

Lyk my deesdae se boomslange het “klas”. Gaan maak hul in die sitkamer tuis al is hul ongenooides.

annie ·

Hier is nou vir jou ‘n tannie wat nie skrik vir groen-mamba nie. Net jammer die betreders word sagkens behandel en die kop nie vermorsel nie, of is dit nou wet? Ons is gewaarsku dat slange baie aktief is gedurende Desember. Watter kaliber werk die beste binnenshuis… sonder te veel skade aan Persiese matte en Kersboom-liggies?

Waarnemer ·

Daar is net een ding wat help om daardie slang in bedwang te bring….n graaf……Dit is nou regtig nie asof die spesifieke slang n plaag beheer deur rotte en goggas te vang nie,as hy jou pik gaan hy beslis nie se “sorry ek het gedink jy is n rot of n gogga nie”Hy gaan pik om dood te maak dus gebruik jy n graaf om dood te maak.Punt.Al se watter diere liefhebber of herpatoloog of wat se loog ookal wat,ek gaan nie vir n slang vra of hy giftig is of nie,sal maar liewer later uitvind of hy giftig was of nie.

Caroline ·

How I am having a good laugh at the comments most enjoyable. This snake article has just reminded me of the days when I lived in South Africa and my sons kept puff adders as pets in the house. We never had any burglaries or unwelcome guests as all you had to do is stamp your feed when walking around the house and the snakes would go and hide.

Andries ·

Uiters ongewoon om ‘n boomslang op die grond te sien en dan nog ook in ‘n bewoonde woonstel. Erens is ‘n slang in die gras.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.