Borgtog geweier vir beweerde ontvoerder, geldeiser

(Argieffoto: Maroela Media)

ʼn Man is Woensdag borgtog geweier nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ʼn man ontvoer en oortuig het dat hy sy dogter gaan vermoor indien hy nie al die geld uit sy bankrekening trek nie.

Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), sê die hof het Sihle Magubane (38) se aansoek om borgtog van die hand gewys. Magubane het in die Umbumbulu-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering en roof.

“Magubane sal in die Westville-gevangenis aangehou word totdat hy weer op 24 Augustus in die hof moet verskyn,” sê Balram.

Die beskuldigde is verlede maand in hegtenis geneem nadat hy en ʼn onbekende aantal verdagtes ʼn man naby Folweni aan die suide van Durban geblinddoek, vasgebind en ontvoer het.

“Die slagoffer is glo deur die verdagtes aangesê dat hulle ook sy dogter ontvoer het en haar sal doodmaak indien hy nie sy PIN-nommer vir sy bankrekening verskaf nie.”

Die verdagtes het glo daarin geslaag om R10 000 uit die slagoffer se rekening te onttrek en na bewering besluit om die volgende dag ʼn banktak te besoek om die res van die geld te trek.

Die groep verdagtes is die volgende dag na Verulam toe waar hulle na bewering die slagoffer gedwing het om in die bank te gaan om verdere onttrekkings te maak.

“Namate die slagoffer die bank genader het, het hy vir die eerste keer vandat sy blinddoek afgehaal is, die verdagtes se motor en registrasienommer opgemerk. Hy is by die bank in waar hy een van die werknemers oor sy beweerde ontvoering in kennis gestel het. Die werknemer het Rusa-lede en die polisie na die toneel ontbied.”

Oomblikke later het die beamptes op die toneel toegesak en een van die verdagtes, Magubane, in hegtenis geneem. Die polisie het ook op die betrokke motor beslag gelê.

Die beamptes is oor die slagoffer se dogter se beweerde situasie in kennis gestel, maar ná verdere ondersoek is die 16-jarige ongeskonde by haar skool aangetref.

Hoewel Magubane sover die enigste verdagte in die saak is, meen Balram dat daar moontlik nog inhegtenisnemings op hande is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.