Borgtog vir onnie ná aanrandingsvideo

Skermgreep uit die video

ʼn 34-jarige man, wat in ʼn video gesien kan word hoe hy die ma van sy kind aanrand, is vrygelaat op borgtog.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die man het Vrydag in die Kwamhlanga-landdroshof in Mpumalanga verskyn op drie aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. “Hy is vrygelaat op borgtog van R1 000. ʼn Volgende hofdatum is nog nie bekend gemaak nie.”

Die man, wat as Thomas Jabu Manana uitgeken is, is ʼn onderwyser by ʼn plaaslike hoërskool in Kwamhlanga. Hy word daarvan verdink dat hy Donderdag die 24-jarige ma van sy kind aangerand het. ʼn Video van die voorval is daarna wyd op sosiale media versprei.

“Die slagoffer het in ʼn verklaring gesê sy het saam met haar suster na die verdagte se huis gegaan om haar vierjarige dogter te gaan haal. Hulle het ʼn woordewisseling gehad en Manana het haar onder andere met ʼn houtpaal aangerand,” het Hlathi gesê. “Die suster van die slagoffer en die vierjarige kind het ook beserings opgedoen, daarom is drie klagtes van aanranding aanhangig gemaak.”

Die polisie is oor die voorval in kennis gestel en Manana is dadelik in hegtenis geneem.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het beamptes geloof dat hulle vinnig opgetree het, maar hy is baie ontsteld oor die voorval. “As polisiebeamptes sal ons nie huiwer om persone toe te sluit wat geslagsgebaseerde geweld pleeg nie. Ek wonder wat gaan deur die kop van ʼn man wat doelbewus ʼn houtpaal optel en ʼn weerlose vrou daarmee aanrand,” het Zuma gesê. “Ek is dankbaar dat hy in hegtenis geneem is. Nou wag ons met ingehoue asem vir die hof om die saak te hanteer sodat dit berusting kan bring vir die slagoffers.”

Hy het ook sy kommer uitgespreek dat die ouers voor hul kind baklei het en dat sy toe ook beseer is. “Dit is baie jammer dat kinders soms blootgestel word aan ʼn golf van geweld wat deur hul eie ouers gepleeg word – iemand na wie hulle opkyk as ʼn morele kompas. Ek het geen twyfel nie dat dit ʼn baie negatiewe impak op hul lewens sal hê. Ek is besorg dat hulle dieselfde gewelddadige aard sal aanleer as ʼn manier om konfrontasies te hanteer. Dit is ʼn kommerwekkende kringloop.”

Zuma het gesê die samelewing moet saamstaan teen geslagsgebaseerde geweld en die optrede van oortreders veroordeel.

Jasper Zwane, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, het intussen gesê die departement het die Nkangala-distrikdirekteur opdrag gegee om onmiddellik Manana, van Silamba Secondary School, te skors.

“Die departement is van mening dat iemand, wat sulke gedrag toon, nie geskik is om voor kinders te staan en hulle op te voed nie. Opdrag is dus gegee dat hy geskors moet word hangende die ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rina ·

Nou wat het van die President geword??? Hy veroordeel misdaad op vrouens en kinders en tog kry hy borgtog!!!!!! As hy dit 1 keer gedoen het gaan hy dit weer doen. Die land is in sy peetjie in.

JohanR ·

Ja Rina waar is ou Ramaspoedig? ek wou graag se hy is op besoek by die wit mense van ‘n plaas wat onlangs aangeval is maar dit sal nooit gebeur. Tel hy en Kopdoek iewers hulle sigaret winste? Ek sien Boris Johnson van Engeland of elke dag in die buitelig waar hy besoek afle, of op die tv, maar op een of ander manier weet jy darem hy is in die omtrek. Nee wat Ramaspoedig se beste 15 minute van sy Presidents lewe was die aand van die 26de Maart toe hy ons toesluit. Van daar af is dit vinnig afdraande. Die maklike borgtog ding in SA moet ook na gekyk word. Miskien as ‘n pakkie chips in ‘n winkel gevat het kry borgtog, maar as jy jou vrou en kind aangerand het moet jy sit tot jou dag in die hof!

Scalla ·

Haar naam gaan ook seker genoem word in sy volgende toespraak

Persheks Adri ·

‘n Skamele R1 000 borg vir 3 klagtes van aanranding en hy kan dit mos nou weer doen voor hy hof toe gaan! Laat hy sit, want geen vrou of kind het ‘n kans teen ‘n man nie veral as hy ‘n paal of enige voorwerp het om mee te beseer nie. Waar is groot hoed ook saam met CR? Ons land is in sy glory in

Knormoer ·

Soos Elvis sou se: “Little less conversation, little more action” meneer die president.

johanf ·

Lafaard, moes nie borg gekry het nie, veral oor die kind wat ook beserings, en trauma opgedoen het…….hoop hy verloor sy loopbaan in onderwys…..!!
Hy is nie ń man nie…..

Cleopatra69 ·

Hoekom borgtog en dan is hy nog n onderwyser wat jeug moet Leer.

Leon ·

Jy is onskuldig totdat hulle onteenseglik kan bewys dat jy opsetlik die misdaad gepleeg het. Dit gebeur selde dat hulle kan bewys jy het die misdaad gepleeg. Dan betaal hulle sy borgtog terug, gee hom ‘n medalje en laat hom vry.

Pierreli ·

Dit gaan so as ons regering gelei word deur “that old serpent, called the Devil, and Satan, which deceiveth the whole world” (Rev 12.9)
Hulle praat net om dinge goed op mense se ore te laat val. Daar is nie waarheid in hul woorde of in hul beloftes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.