Brand by St. George-katedraal: ‘Dit was brandstigting’

(Foto: St. George-katedraal/Facebook)

’n Brand wat Sondag by die St. George-katedraal in Kaapstad uitgebreek het, is glo met opset gestig.

“Dit was ’n daad van brandstigting,” het vader Michael Weeder, deken van die St. George-katedraal, gesê.

“Dit blyk dat ’n stuk katoen of gaas aan die brand gesteek is en deur die klein tralievenster naby die trappe wat na die katedraal se Waalstraat-ingang lei, gegooi is. Iemand is opgemerk wat van die katedraal weggehardloop het.”

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie in Kaapstad ondersoek die omstandighede van ’n brand wat in die vroeë oggendure in die kelderverdieping van die St. George-katedraal uitgebreek het.

“’n Lid van die publiek het omstreeks 01:53 die brand opgemerk en die sekuriteit aan diens in kennis gestel. Die brand is geblus en geen beserings is aangemeld nie.”

’n Saak van brandstigting is aanhangig gemaak.

Volgens Weeder moes brandbestryders die tralies afbreek om toegang tot die kelder te kry.

“Die kloostergedeelte se deur moes ook oopgebreek word aangesien die brandbestryders in ’n stadium gedink het die brand is eintlik binne die katedraal.”

Wyle Desmond Tutu se begrafnis is op 1 Januarie by die St. George-katedraal gehou, waarna sy as die Sondagoggend in ’n privaat diens begrawe is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Dié wat geen konneksie met sekere dele van die verlede het nie, sal geen gewetenswroeging oor die vernietiging daarvan hê nie.

Swerwer ·

Natuurlik sal dit brandstigting wees want al die historiese ou geboue word geteiken deur die ANC.

Maritza ·

Daar is ‘n spesiale plek in die hel vir mense wat dit doen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.