Brand naby Worcester eis vyf strukture

Brande in die Kaapse Wynlande woed al sedert Maandag, 21 Januarie. (Foto: Facebook/ Drakenstein Farm Watch)

Die Kaapse Wynland‑distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste en verskeie ander organisasies en vrywilligers het Saterdagoggend voortgegaan om verskeie brande in die Breedevallei- en Witzenberg‑omgewing te bestry.

Ondanks brandbestryders se beste pogings het van die brande egter oornag versprei en verskeie strukture het in die slag gebly.

Die brand by Kluitjieskraal in Wolseley beslaan steeds twee aktiewe brandlyne. Dié brand het Maandag reeds ontstaan.

Die eerste brandlyn versprei in die rigting van die Bainskloofpas en word deur ʼn sterk bries en hoë brandstoflading aangeblaas. Dit het Vrydag laatmiddag vinnig versprei, wat tot gevolg gehad het dat die Bainskloofpas gesluit moes word. Die pas is intussen slegs vir brandvoertuie en inwoners oopgestel en ander motoriste word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

“Brandspanne het hul aandag op die beskerming van eiendom gefokus. Gedurende die nag het die brandlyn oor die pad gespring, en om te voorkom dat dit in die welige plantegroei langs die rivier versprei, moes spanne vinnig spring,” sê Jo-Anne Otto, woordvoerder van die KWDM.

Saterdagoggend het die brandlyn in die rigting van die Steenbok-park versprei. Geen struktuurverliese is tot dusver aangemeld nie en aktiewe brandbestryding en struktuurbeskerming sal deur die dag voortgesit word, sê Otto.

Die tweede brandlyn is aan die Gouda‑Saron-kant van die berg geleë. “Hierdie gebroke brandlyn het hoog in die ontoeganklike gebiede van die berg gebrand en stadig versprei. Gedurende die nag het die lyn na ʼn meer toeganklike gebied versprei, waar brandspanne en toerusting dit kan bereik. Spanne sal vandag na daardie brandlyn ontplooi word.”

Brande in die Kaapse Wynlande woed al sedert Maandag, 21 Januarie. (Foto: Facebook/ Drakenstein Farm Watch)

Intussen brand die vuur wat gistermiddag in die Brandwacht-omgewing bokant Worcester ontstaan het, steeds buite beheer in twee gebiede.

“Brandspanne, lugondersteuning en grondspanne het hul hande vol gehad toe hierdie vuur vinnig versprei het na platter gebiede waar strukture geleë is. Ondanks groot pogings is vyf strukture vernietig,” sê Otto. “Toe die lyn die meer bergagtige gebiede bereik, het dit in twee dele verdeel. Die linkerflank brand na die kranse toe, waar spanne goeie vordering maak, terwyl die regterflank ’n bietjie meer problematies is weens ’n hoër en digter brandstoflading.”

Otto sê wat albei brande betref, is daar groot gebiede waar die aktiewe brande ingekamp is, maar die grond steeds baie warm is. “Hierdie hitte, gekombineer met die warm weer, maak opvlammings waarskynlik. Brandspanne sal die belangrike werk van monitering- en opruimingstake in die vlaktes voortsit.”

Otto vra ook dat motoriste vir brandvoertuie moet toegee en nie op die pad moet stop om brandbestrydingspogings te besigtig nie omdat dit die vloei van verkeer belemmer.

“Ons bedank die grondeienaars, boere en hul werknemers vir hul ondersteuning en hulp, asook die gemeenskappe, organisasies en individue wat so vrymoedig geskenk het. Vir nou is ons spanne goed versorg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.