Brandbestryders stoei met brand digby Oudtshoorn

Die brand wat naby die Raubenheimer-dam digby Oudtshoorn uitgebreek het (Foto: Greater Oudtshoorn Municipality, Facebook)

ʼn Veldbrand wat Sondagmiddag by die Raubenheimerdam digby Oudtshoorn uitgebreek het, woed reeds byna 24 uur lank. Brandbestrydingspanne is tans op die toneel om die brand in bedwang te probeer bring.

Volgens Marlene Nqumse, woordvoerder van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, is die veldbrand Sondag omstreeks 13:25 by dié munisipaliteit aangemeld. Brandbestryders het deur die nag gewerk om die brand in bedwang te bring. Hulle kon daarin slaag om dit te blus.

“Die brand het vanoggend omstreeks 06:45 aan die suidoostelike kant van die dam – wat ontoeganklik vir brandbestryders was – weer begin opvlam en versprei,” sê Nqumse. Die Oudtshoorn-munisipaliteit se brand-en-reddingspan en Working On Fire (WOF) se brandbestrydingspan werk sedertdien onverpoos om die brand te blus.

George-munisipaliteit se brandweer het Dinsdagoggend ʼn tenkwa gestuur om te help met die bestryding van die brand. Die tenkwa voorsien water aan die brandbestrydingsvliegtuig wat gebruik word om die brand te blus. Die brandbestrydingsvliegtuig bevat sowat 3 000 liter water.

Die brandbestrydingsvliegtuig wat ingespan is om die brand te help blus (Foto: Greater Oudtshoorn Municipality, Facebook)

Volgens Adel Supra-Vertue, bestuurder van die Oudtshoorn-munisipaliteit se brand-, reddings- en rampbestuur, is geen strukturele skade tot dusver aangemeld nie en die brand hou tans geen gevaar vir nabygeleë strukture in nie.

“Die brand aan die noordelike kant van die dam is onder beheer en die brandbestrydingspan gaan voort om die res van die brand so gou moontlik in bedwang te bring,” sê Supra-Vertue.

Chris Swart, waarnemende direkteur vir tegniese dienste by die Oudtshoorn-munisipaliteit, het inwoners van Oudtshoorn verseker dat die brand by die Raubenheimerdam nie die gehalte van die water sal beïnvloed nie. Die Raubenheimerdam verskaf drinkwater aan inwoners van Oudtshoorn.

“Die brande in die omgewing van die dam is meestal onder die opvangsgebied en die watergehalte sal nie beïnvloed word indien ons nou reën sou kry nie,” sê Swart.

Die Rus en Vrede-waterval, wat digby die dam is, bly vandag gesluit weens die veldbrand.

Volgens Nqumse is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.