Brande by Simonstad woed voort

Die brand in die Simonstad-omgewing woed steeds. Dié foto is vroeër vandeesweek geneem. (Foto: Hansie Linde)

Brandbestryders het Vrydag vroegmiddag nog gespook om die brandlyne by Simonstad en omliggende gebiede, asook dié by Glencairn, in bedwang te bring.

Die eerste verwoestende brand het Dinsdag in Simonstad uitgebreek, met nóg ʼn brand wat daarna in die Glencairn-omgewing gevolg het. Byna ʼn 100 gesinne is oornag gevra om na veiligheid te beweeg nadat die vlamme huise in die Stonehaven-landgoed begin bedreig het, het Charlotte Powell, woordvoerder van Kaapstadse rampbestuur, vanoggend gesê.

Die rampbestuursentrum het ook die hulp van dierewelsynsorganisasies ingeroep om diere na veiligheid te neem of beseerde diere te help behandel.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die stad se brand-en-reddingsdienste, sê die wind het Vrydagoggend effens gaan lê. Dit het brandbestrydingspogings darem ʼn bietjie vergemaklik.

Ses lugsteunspanne werk steeds om die brande uit die lug te bestry en die volgehoue pogings van die spanne op die grond aan te vul, sê Carelse.

Geen skade aan eiendom is aangemeld nie en geen nooddienswerkers of enige lid van die publiek is beseer nie. Vroeër vandeesweek is vyf brandbestryders behandel nadat hulle beserings soos geswikte enkels opgedoen of rook ingeasem het terwyl hulle die vlamme probeer blus het.

Paaie tussen Simonstad en Kaappunt en die Glencairn-hoofweg bly intussen gesluit.

SANParke het ook vroegoggend gesê weens die gevaar wat die brande vir besoekers se veiligheid inhou, het die bestuur van die Tafelberg Nasionale Park besluit om die Kaap van Goeie Hoop/Kaappunt-gedeelte van die park as voorsorgmaatreël vir besoekers te sluit. Paaie in hierdie omgewing is ook gesluit.

(Foto: SANParke)

“Ons vra om verskoning vir enige ongerig wat dit dalk mag veroorsaak, maar veiligheid is ons grootste prioriteit.”

SANParke het ook ʼn beroep op mense gedoen om die omgewing heeltemal te vermy, indien enigsins moontlik.

(Foto: SANParke)

Die situasie sal later hersien word en ʼn besluit sal geneem word oor wanneer die gebied weer oopgestel gaan word.

  • Talle mense het reeds aangebied om verversings aan die nooddienswerkers in die voorste linies te skenk. Die aflaaipunt vir skenkings het intussen na die Simonstad-stadsaal, langs die polisiestasie, verskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.