Brics: Só staan sake by nuwe lidlande

(Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die VSA, die wêreld se grootste ekonomie, het kennis geneem van die toelating van ses nuwe lede tot die Brics-blok – waaronder ook dié van sy aartsvyand Iran. Die land sê egter hy sal voortgaan om saam met vennote wêreldwyd te werk.

“Die VSA herhaal sy oortuiging dat lande die vennote en groeperings kan kies met wie hulle wil assosieer,” het ʼn woordvoerder van dié land se departement van buitelandse sake gesê.

Maroela Media het vroeër berig Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika het tydens vandeesweek se Brics-beraad in Johannesburg uitnodigings aan Argentinië, Egipte, Ethiopië, Iran, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate gerig om hulle by dié blok aan te sluit.

Die lande se lidmaatskap sal op 1 Januarie in werking tree.

Argentinië

Argentinië, ʼn land met ʼn bevolking van 46 miljoen mense, het heelwat natuurlike hulpbronne in energie en landbou, maar dié land se ekonomie, die derde grootste in Latyns-Amerika, lyk nietemin beroerd.

Die inflasiekoers het tot meer as 100% gestyg en armoedevlakke het tot 40% geklim.

Die lewenskoste in Argentinië het sedert Januarie tot einde April met 32% toegeneem en teen die einde van Julie met 60% gestyg.

Die Argentynse regering het intussen die peso (Argentinië se geldeenheid) vroeër vandeesmaand met 20% gedevalueer.

Ethiopië

Afrika se tweede digsbevolkte land, met sowat 123 miljoen mense volgens die Wêreldbank, was in die 2010’s een van die wêreld se mees dinamiese ekonomieë.

Die land is nietemin gestuit deur die wêreldwye koronaviruspandemie, klimaatsverandering, die twee jaar lange konflik in sy noordelike Tigray-streek en Rusland se oorlog in Oekraïne.

Volgens die Wêreldbank bly dié land arm, met ʼn inkomste van maar net $1 per capita.

Ethiopië, wat tradisioneel onverbonde is, handhaaf noue bande met China, sy vernaamste handelsvennoot, Rusland en ook met die VSA.

Iran

Ekonomiese sanksies, olieprysskommelings en die wêreldwye Covid-19-pandemie het Iran , ʼn land met 88 miljoen inwoners, se ekonomie die afgelope dekade geteister. Iran gaan boonop die afgelope paar jaar gebuk onder ongebreidelde inflasie wat veroorsaak is deur ʼn geldeenheid wat ineenstort.

Iran het naas Rusland die wêreld se tweede grootste gasreserwes en die vierde grootste bewese oliebronne.

Nietemin het Amerikaanse sanksies, wat weer ingestel is ná die einde van die ooreenkoms met wêreldmoondhede oor Teheran se kernprogram in 2018, die land van die internasionale finansiële stelsel geïsoleer.

Die aankondiging oor Iran se Brics-lidmaatskap kom te midde van verskerpte diplomasie om sy isolasie te verminder en nuwe lewe in sy ekonomie te blaas. Die land wil veral sy bande met China en Rusland versterk en bande met sy Arabiese bure verbeter.

Saoedi-Arabië

Saoedi-Arabië is die Arabiese wêreld se grootste ekonomie, die top- wêreldwye olie-uitvoerder en die leier van die Golf-monargieë.

Die ultra-konserwatiewe koninkryk het ʼn groot program van ekonomiese en maatskaplike hervormings van stapel gestuur en probeer hom speen van sy ekonomiese afhanklikheid van fossielbrandstowwe.

Saoedi-Arabië, ook ʼn G20-lid, het jaarlikse groei van 8,5% in 2022 aangeteken.

Sy bevolking word tans op 32,2 miljoen geraam, met die meeste burgers jonger as 30.

Egipte

Die Arabiese wêreld se digsbevolkte land, met 105 miljoen mense, en ʼn swaargewig- diplomatieke rolspeler op die Arabiese verhoog, is ook ʼn land wat worstel met ʼn ekonomiese krisis.

Die land se jaarlikse inflasie het in Junie 36,8% bereik; die hoogste inflasiekoers nóg vir Egipte.

Dit volg op ʼn skerp valutadevaluasie wat verband hou met ʼn reddingslening van die Internasionale Monetêre Fonds.

Die ekonomiese krisis is vererger deur Rusland se inval van Oekraïne verlede jaar, wat belangrike graaninvoere gedestabiliseer het.

Verenigde Arabiese Emirate

Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) is ʼn federale staat van sewe emirate en tien miljoen mense. Abu Dhabi en Dubai huisves die streekshoofkwartiere van duisende maatskappye.

Die VAE is ook ʼn top-olieprodusent wat sy ekonomie in die afgelope dekades gediversifiseer het. Dié land maak egter deesdae al hoe minder staat op olie, met ʼn inkomste wat maar 30% van sy BBP in 2022 beslaan het.

Die VAE handhaaf noue bande met Saoedi-Arabië, die VSA, China en Rusland. Die VAE was ook die eerste land in die streek wat betrekkinge met Israel in 2020 genormaliseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henning ·

Ek dink die berigskrywer skets n baie negatiewe prentjie mbt die nuwe lidlande. Saudi, VAE, Egipte en Argentina dink ek is n baie goeie byvoegsel

Theo ·

LMGA! Enige iemand wat dink BRICS gaan iewers heen verstaan ​​duidelik nie die wêreld se makro-ekonomie nie. NIEMAND kan oorleef sonder die dollar nie, en so sleg as wat die Amerikaners se fiskale en monetêre beleid tov ander lande soms is, is die beleid nog steeds strate beter as wat enige ander land (en defnitief nie Sjina nie) sal kan opdis. Daar is nou ‘n wêreldwye stryd van geldeenhede en die dollar slaan hulle almal plat; en sal voortgaan om dit te doen – maak nie saak hoeveel tiranniese state soos Saudi-Arabië en Iran die Sjinese by BRICS by voeg nie!

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit sal wel later afhang waar lê die bulk van die wêreld se produksiekapasiteit en uitvoere.
Amerika en selfs Duitsland sal later net goedere invoer en in dollers betaal. Dieselfde met graan en minerale. Sodra Brics Plus eis om in ‘n nuwe eenheid te betaal sal weste moet inval. Dan kan Rusland, Saudi Arabië en Iran ook eis om vir olie en gas uitvoere in ‘n nuwe eenheid betaal te word. Dit sal baie dollers op die mark plaas. Brics P het ‘n wye portefeulje, maar sal ekonomies moet wikkel.

Deon ·

Dit is geen bedreiging vir die weste nie . Die meeste lande wat aansluit het groot ekonomiese probleme en lande soos Suid Afrika sal net aanhou om skuld te maak wat hulle nie kan terug betaal nie . Hulle sal meer a las op die ander lande wees . :)

Jaco ·

Dis ‘n paar olielande wat bykom. Beteken dit dat SA se petrol aansienlik goedkoper gaan word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.