Brink: Dis nou skouer aan die wiel in Tshwane

Cilliers Brink, nuwe burgemeester van die Tshwane-metro. (Foto: Twitter/CoT)

Cilliers Brink het nie net beloof om ʼn hoofstad te help bou wat vir al sy inwoners werk nie, maar het ook ʼn hand van vriendskap na opposisiepartye uitgesteek nadat hy Dinsdagaand ná ʼn weke lange stryd tot burgemeester van die Tshwane-metro verkies is.

“Ek reik ʼn hand van samewerking uit na alle politieke partye in die raad, maar veral die opposisielede wat nie vir my gestem het nie. Ek het al in die opposisiebanke gesit en ek ken die verskil tussen ʼn burgemeester wat na die opposisie luister en een wat hulle bloot ignoreer of politiek as ʼn vorm van oorlogvoering beskou,” het Brink gesê.

Die nuwe burgemeester sê die stad se inwoners kyk na die raad om hul verskille op ʼn ordelike wyse te besleg, en op ʼn manier wat geweld en haat vermy en nie die werking van die regering ondermyn nie.

“Dit maak nie saak tot op watter lae vlak debat in hierdie raad daal nie, dit kan nooit aanvaarbaar wees vir ons om mekaar met geweld te dreig nie.”

Tshwane het ʼn onstuimige paar weke agter die rug nadat Randall Williams verlede maand as burgemeester bedank het en die raad in chaos gedompel is. Dr. Murunwa Makwarela, toe nog ʼn Cope-raadslid, is daarna tot burgemeester verkies.

Sy termyn was van korte duur nadat dit aan die lig gekom het dat Makwarela ʼn ongerehabiliteerde insolvent is. Dit het ook later geblyk dat die hofbevel wat bewys dat hy gerehabiliteer is, glo vervals is.

Nog twee pogings om ʼn burgemeester te verkies het gevolg – albei onsuksesvol – tot Brink gister Cope se Ofentse Moalusi met 109 stemme teenoor 102 verslaan het.

“Ons moet liewer vir ons stad en ons land wees, as wat ons nie van mekaar hou nie. Dit is wat die Grondwet van ons verwag; dit is wat die mense van Tshwane van ons verwag.”

Hy sê ʼn stad wat werk en een waar niemand agtergelaat word nie, is nie twee afsonderlike plekke nie.

“Ons weet in ons harte dat hierdie stad net ʼn goeie plek vir enige van ons kan wees om in te leef, as dit ʼn goeie plek vir almal van ons is om in te leef.”

Brink sê die grootste prioriteite nou, is om ʼn skoon, doeltreffende en korrupsievrye regering te vestig; een waar dienste deurlopend gelewer word en waar gewone mense waarde vir geld kry vir die heffings en tariewe waarvoor hulle moet opdok.

Hy maan egter dat die metro die slaggate waarin soveel ander plaaslike munisipaliteite al getrap het, ten alle koste moet vermy: Besteding moet in bedwang gebring word en slegs dit wat realisties ingevorder kan word, kan uitgegee word.

Brink sê hierdie beginsel is net so belangrik as om te reageer op die bevindings van die ouditeur-generaal en die uitbou van die finansiële beheer in die metro.

“Ons moet ook die stad se afhanklikheid van Eskom verminder en alternatiewe maniere vind om aan ons kragbehoeftes te voldoen.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, stem saam dat die lewering van krag ʼn prioriteit vir die stad moet wees.

“Begin by krag. Stel die private opwekkers en huishoudings in staat om aan die netwerk te lewer teen billike tariewe. Jou inwoners sal jou kragsentrale wees as jy dit vir hul moontlik maak,” sê Hermann.

“Ekonomie en mense gaan vloei na waar daar stabiele krag is. Maak dit jou enkel grootste fokus.”

Op sosialemediaplatforms het talle Pretorianers vir Brink sterkte in die nuwe rol toegewens – en sommer reeds verskeie diensleweringsprobleme onder sy aandag gebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.