Britse verpleegster ontken moord op babas

Lucy Letby (Foto: Facebook)

ʼn Verpleegster wat daarvan beskuldig word dat sy sewe babas by ʼn hospitaal in Engeland doodgemaak het, het Dinsdag tydens haar hofsaak ontken dat sy hulle seergemaak het.

Lucy Letby (33) word ook van poging tot moord beskuldig op 10 ander babas in die neonatale eenheid van die Countess of Chester-hospitaal in die noordweste van Engeland. Sy ontken skuld op alle aanklagte.

Haar verhoor by die Manchester Crown-hof duur al sewe maande lank, maar sy het nou vir die eerste keer in die getuiebank verskyn om vrae te beantwoord oor die rits moorde tussen 2015 en 2016.

Sy het bevestig sy het honderde babas in dié periode versorg. Haar prokureur, Ben Myers, wou weet of sy hulle wou seermaak. “Nee, dit is heeltemal teen enigiets wat ʼn verpleegster is,” het sy geantwoord.

Letby, oorspronklik van Hereford in die weste van Engeland, is in September 2016 vir die eerste keer in kennis gestel dat sy beskuldig word vir die sterftes in ʼn brief van die Royal College of Nursing-vakbond.

Sy is aanvanklik op administratiewe diens geplaas voor sy in Julie 2018 in hegtenis geneem is.

Sy het aan die hof gesê sy “kon dit nie glo nie” toe sy beskuldig is.

“Dit was verskriklik. Ek dink nie mens kan van enigiets erger beskuldig word nie.”

Staatsaanklaers het vroeër briefies as bewys ingedien wat Letby geskryf het. Dit is tydens ʼn polisiesoektog in haar huis in Chester gevind.

Een nota, in hoofletters geskryf, lui: “Ek is boos, ek het dit gedoen.”

Nog een lui: “Ek verdien nie om te lewe nie. Ek het hulle doelbewus doodgemaak, want ek is nie goed genoeg om vir hulle te sorg nie. Ek is ʼn verskriklike bose mens.”

Toe sy in die hof oor die aantekeninge uitgevra is, het Letby gesê sy het die laaste een geskryf omdat sy “in daardie stadium gevoel het ek het iets verkeerd gedoen”.

“Ek het gedink ek is ʼn verskriklike bose mens, dat ek foute gemaak het en nie daarvan bewus was nie,” het sy bygevoeg. Volgens haar het dit haar geestelike gesondheid aangetas toe sy uit die neonatale eenheid geskuif is.

Myers wou by haar weet wat presies sy gedink het sy gedoen het.

“Dat ek op een of ander manier onbekwaam was en dat ek iets verkeerd gedoen het wat dié babas geraak het. Ek het gevoel ek is op een of ander manier verantwoordelik.”

Sy staan tereg op 22 aanklagte – sewe van moord en 15 van poging tot moord, aangesien sy sommige kinders glo meer as een keer probeer doodmaak het.

Die jongste vermeende moordslagoffer, ʼn baba wat vroeggebore is, was net ʼn dag oud en “gesond”, maar hy het binne 90 minute gesterf nadat Letby op 8 Junie 2015 vir diens aangemeld het, het die hof gehoor.

Mediese kenners het gesê sy afsterwe stem ooreen met ʼn doelbewuste inspuiting van lug of iets anders in sy bloedsomloop minute voor sy afsterwe. Sy vel se verkleuring stem ook ooreen met van die ander gevalle waar Letby na bewering lug in die slagoffers se bloedstroom ingespuit het, het die jurie gehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danie ·

Mense wat met bejaardes en babas werk moet baie streng gekeur word.

Casper ·

The jury find the defendant guilty as charged ny lord.Lewenslank sonder enige kanse op parool

Marcello ·

Dit is sulke tye, wat die doodstraf geld, want ons as mens, mag nie ‘n ander se lewe neem, wat God gegee het nie. So sluit haar lewenslank toe, sy moet uit die samelewing verwyder word, want wat kan sy volgende doen. Siek verby ……………………..

Di ·

Mag sy nooit weer naby enige hospitaal of kliniek toegelaat word nie. SIEK in die kop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.