Bryoni ʼn Mej. Heelal-voorloper danksy vrouebemagtigingsveldtog

Bryoni Govender, naaswenner in die 2023 Mej. Suid-Afrika-kompetisie, in haar nuwe goue skepping. (Foto: Verskaf)

Bryoni Govender, naaswenner in die 2023 Mej. Suid-Afrika-kompetisie, is pas aangewys as een van die top-10 silwer finaliste in die Mej. Heelal-skoonheidskompetisie se Voice for Change-projek.

Bryoni is tans in El Salvador in Sentraal-Amerika vir die 72ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie en sal Sondag tydens die eindstryd nie net uitvind of sy die Mej. Heelal-titel verower het nie, maar ook of sy as een van drie goue Voice for Change-wenners aangekondig is.

Dié projek dien as ʼn uitdunrondte en bied vir deelnemers die geleentheid om ʼn projek of saak wat hul na aan die hart lê, aan die groot klok te hang.

Die keurkomitee bestaan uit akademici, voormalige Mej. Heelal-wenners, entrepreneurs en welsynswerkers van reg oor die wêreld. Wenners ontvang elk ʼn R218 000 ($12 000) kontantprys.

Volgens die Mej. SA-kompetisie maak dié prestasie van Bryoni ʼn mededingende voorloper vir die Mej. Heelal-titel.

Tydens die Voice for Change-geleentheid het Bryoni, wat ʼn regsgraad van die Universiteit van Johannesburg het en in Julie vanjaar as prokureur toegelaat is, gepraat oor haar vrouebemagtigingsveldtog, Her Way Out.

Maroela Media het vroeër berig dat dit daarop fokus om Suid-Afrikaanse vroue van hul wetlike regte bewus te maak.

Die plaaslike skoonheid het kragte met die span by die wêreldwye regsfirma Norton Rose Fulbright (wat kantore in Johannesburg, Durban en Kaapstad het) saamgesnoer en beplan om praatjies by regsklinieke en skole in veral landelike gemeenskapsale te lewer en vroue oor hul basiese wetlike regte in te lig.

“Ek glo kennis, of ʼn gebrek daaraan, is wat vroue bemagtig of verhoed om beheer oor hul lewens te neem. Ek is ʼn prokureur en het ʼn plig om my agtergrond te gebruik om vroue by te staan en hulle te laat weet dat daar ʼn uitweg vir hulle is,” het sy voorheen oor haar veldtog gesê.

Bryoni het hierdie week nog een van haar spogrokke vir dié kompetisie onthul, naamlik ʼn goue skepping, deur die ontwerper William de Beer, wat deur die land se ryk minerale landskappe geïnspireer is.

Haar nasionale kostuum, ʼn indrukwekkende groen uitrusting deur die bekroonde KwaZulu-Natalse ontwerper Casey Jeanne, is in Oktober bekendgestel en vier Bryoni se Indiese Suid-Afrikaanse herkoms.

Suid-Afrika is een van die wêreld se toplande wat skoonheidskompetisies betref en behou ʼn indrukwekkende rekord van voormalige Mej. Heelal-wenners, insluitend Demi-Leigh Nel-Peters (nou Tebow) (2017) en Zozibini Tunzi (2019), asook naaswenners Tamaryn Green-Nxumalo (2018) en Lalela Mswane (2021).

Indien Bryoni vanjaar as die Mej. Heelal-wenner gekroon word, sal sy die vierde Suid-Afrikaanse skoonheid wees wat dié prestasie behaal.

  • Die Mej Heelal-kompetisie-eindstryd vind Saterdag (18 November) in El Salvador plaas en sal regstreeks van Sondagoggend 03:00 op SABC 3 (DStv-kanaal 193) uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.