Foto’s: SA se Bryoni skitter in groen-en-goud-tabberd op Mej. Heelal-verhoog

Bryoni Govender skitter in groen-en-goud. (Foto: Verskaf)

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch en Christel Cornelissen

Bryoni Govender, naaswenner in die 2023 Mej. Suid-Afrika-kompetisie, se nasionale uitrusting vir die gesogte Mej. Heelal-skoonheidskompetisie is Vrydag tydens ʼn spoggeleentheid in Johannesburg onthul – en die skoonheid skitter in ʼn tabberd van groen en goud.

Bryoni is in Augustus as eerste naaswenner in die Mej. SA-kompetisie aangewys en sal op 18 November die land in El Salvador in Sentraal-Amerika tydens die 72ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig. Die kompetisie is in 1975 laas in dié land aangebied.

Hoewel die Mej. SA-kroon tans op Natasha Joubert se kop rus, het dié skoonheid reeds vantevore aan die internasionale kompetisie deelgeneem; sy is in 2020 as naaswenner van die Mej. SA-kompetisie aangewys en kan dus nie weer in aanmerking kom om aan Mej. Heelal deel te neem nie.

Beeldskoon in groen-en-goud

(Foto: Verskaf)

Die indrukwekkende uitrusting deur die bekroonde KwaZulu-Natalse ontwerper Casey Jeanne vier Bryoni se Indies/Suid-Afrikaanse herkoms en gaan verseker dat sy op die verhoog straal.

Bryoni se familie, onder wie haar ouers, Deven en Shireen, en ouma, Mangany Govender, het die onthulling by die Royal Johannesburg & Kensington-gholfklub bygewoon.

Bryoni en haar ouers, Deven en Shireen Govender. (Foto: Verskaf)

Werner Wessels, kreatiewe direkteur van die Mej. SA-organisasie, verduidelik dat die nasionale kostuum kardinaal is wat betref die tentoonstelling van die deelnemer se land van herkoms. Dit is boonop altyd ʼn groot gunsteling by aanhangers.

“Vanjaar se nasionale uitrusting is ʼn mengsel van Afrika/Indies en ʼn viering van Bryoni se herkoms. Dit is geïnspireer deur ʼn sari en versier met tradisionele Zoeloe-krale wat weer deur Ndebele-drukwerk geïnspireer is,” sê Werner.

“Ons wou doelbewus nie ʼn grootdoenerige en oordrewe nasionale uitrusting hê nie. Maar dit is ʼn hoogs modieuse couture-weergawe wat Bryoni toelaat om te skitter.”

Dit is die eerste keer dat Casey Jeanne, gesetel in Morningside in Durban, ʼn nasionale kostuum ontwerp. “Dit is ʼn moderne interpretasie van die sari en is nogal gesofistikeerd. Groen is die hoofkleur en in hierdie stadium verteenwoordig dit Suid-Afrika uitstekend.

“Die grootste en tydrowendste element was die kralewerk.”

Bryoni is as eerste naaswenner in die Mej. SA-kompetisie aangewys en sal die land in El Salvador tydens die 72ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig. (Foto: Verskaf)

Casey Jeanne het vantevore al aanddrag vir die Mej. SA-finaal ontwerp, en is bekend vir haar couture-rokke. Sy is ook een van die se voorste ontwerpers van trourokke.

“Ek is oorstelp van vreugde om my werk op ʼn platform so groot soos dié van Mej. Heelal ten toon te stel; dit is iets wat ek nog altyd wou doen. Die nasionale kostuum het my onkant betrap, omdat ek gewoonlik meer aanddrag doen.

“Maar ek was gek oor die uitdaging en het my stempel op die uitrusting afgedruk.

“Ek hoop Suid-Afrikaners is net so mal daaroor en voel net so geïnspireer daardeur as wat ek dit ervaar.”

Bryoni is in die wolke oor die tabberd en glo dit gaan haar ʼn kans gee om op die wêreldverhoog te skitter.

Beeldskoon in ‘n skepping deur Willem de Beer. (Foto: Verskaf)

“Dit is ʼn akkurate weerspieëling van wie ek is en verteenwoordig my ryk en diverse kulturele erfenis. Die materiaal, kleure en ontwerp bind my twee erfenisse saam en ek is baie gemaklik om dit te dra.”

Bryoni se afskeidsrok is terselfdertyd onthul. Dit is ontwerp deur Willem de Beer, eienaar en ontwerper van Willet Designs Couture. Hy is ook vir al die ander uitrustings verantwoordelik.

Die skoonheid sê haar ganse garderobe is uiters goed deurdink. “Dit bestaan uit lewendige patrone en kleure wat die warm gees en diversiteit van Suid-Afrikaners verteenwoordig.”

Bemagtig ander vroue

Bryoni het vandeesweek die Her Way Out”-veldtog geloods, wat daarop fokus om Suid-Afrikaanse vroue te bemagtig. (Foto: Verskaf)

Bryoni is slegs die tweede persoon van Indiese herkoms wat Suid-Afrika tydens die gesogte Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig. Kerishnie Naiker, wat in 1997 die Mej. Suid-Afrika-kroon gedra het, het in 1998 die toptien van die Mej. Heelal-kompetisie gehaal.

Bryoni het ʼn regsgraad van die Universiteit van Johannesburg en is in Julie vanjaar as prokureur toegelaat terwyl sy aan die Mej. SA-kompetisie deelgeneem het.

Bryoni in haar afskeidstabberd. (Foto: Yolanda van der Stoep)

Sy het vandeesweek in aanloop tot haar deelname aan Mej. Heelal haar “Her Way Out”-veldtog geloods, wat daarop fokus om Suid-Afrikaanse vroue bewus te maak van hul wetlike regte.

Die plaaslike skoonheid sal kragte saamsnoer met die span by die wêreldwye regsfirma Norton Rose Fulbright (wat kantore in Johannesburg, Durban en Kaapstad het) en beplan om praatjies by regsklinieke en skole in veral landelike gemeenskapsale te lewer en vroue oor hul basiese wettige regte in te lig.

“Ek glo kennis, of ʼn gebrek daaraan, is wat vroue bemagtig of verhoed om beheer oor hul lewens te neem. Ek is ʼn prokureur en het ʼn plig om my agtergrond te gebruik om vroue by te staan en hulle te laat weet dat daar ʼn uitweg vir hulle is,” sê sy oor haar veldtog.

Sy is ook aangewys as ʼn ambassadeur vir die nie-winsgewende organisasie Lawyers against Abuse (LvA) wat werk om vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld toegang tot regsdienste en psigososiale ondersteuning te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karoo ·

Bryoni, alles wat mooi is, geniet elke oomblik, jy maak Suid Afrika trots.

MJLS ·

Wow! Sy en haar uitrustings lyk pragtig. Sterkte en geniet elke oomblik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.