‘BSV’: Boer Francois en sy Vanessa verloof

‘Boer soek ‘n vrou’ se Francois en Vanessa is verloof. (Foto: Maryna M Photography)

“Van die dag van ons blitsafsprake af, het ek geweet Vanessa is die vrou vir my.”

Só gesels Boer soek ʼn vrou se Francois Fourie oor sy verloofde, Vanessa, wat hy tydens sy deelname aan die 15de seisoen van dié maatsoekprogram ontmoet het.

Dié paartjie het reeds op 9 Desember 2022 verloof geraak, maar het die nuus eers vandeesmaand bekendgemaak.

Vanessa vertel dat Francois vir haar in Johannesburg kom kuier het, en dat haar dogters hom gehelp het om haar huis romanties te versier terwyl sy nie tuis was nie.

“My dogter het my geblinddoek en gelei na die plek waar Francois op sy knie met blomme in die een hand en ʼn ring in die ander hand gestaan het. Hy het my gevra om sy vrou te word,” herroep Vanessa die ervaring.

“Alhoewel dit deel van ons langtermyn-plan was, het ek dit nie verwag nie. Dit was so spesiaal en emosioneel vir my.”

(Foto: Maryna M Photography)

Vanessa se dogters en Francois se seun is opgewonde om hul ouers so verlief te sien.

“Hulle is in die wolke,” vertel Vanessa.

“Die kinders is so opreg dankbaar en ondersteunend teenoor ons. Hulle sien baie uit na die troue en wanneer die tyd reg is, sal hulle deel van die reëlings word.”

Sy vertel verder dat hulle reeds ʼn hegte gesin is, en dat sy ʼn seun bygekry het en Francois twee dogters.

(Foto: Maryna M Photography)

As die paartjie vandag terugkyk na hul besluit om aan Boer soek ʼn vrou deel te neem, voel hulle dankbaar.

Francois is deur sy vriende ingeskryf, en Vanessa deur haar dogters en skoonseun.

“Alhoewel ons geweet dat dit ʼn avontuur gaan wees, het nie een van ons verwag om so vinnig liefde te vind nie.”

Vanessa het vir ʼn wyle elke tweede naweek by Francois op die plaas gaan kuier. Hulle het kort daarna besluit dat sy plaas toe sou trek, en sy bly sedert 18 Desember reeds op die plaas.

Sy geniet dit om tyd saam met hom deur te bring terwyl hy die werk doen waaroor hy “passievol” is, en hou haarself gereeld en graag in die plaaskombuis besig.

(Foto: Maryna M Photography)

“Ek het geleer om die massiewe torre, muishonde en Roman-spinnekoppe baas te raak,” skerts sy.

“Ek word nog gespot as ek in die moddergrondpad voor ons huis vassit nadat dit gereën het, maar hoop om dit eendag te bemeester. Ten minste kom my liefde vir plaashekke oop en toemaak nou goed te pas.”

Die paartjie het reeds planne vir hul troudag, maar wil nie nou te veel daaroor verklap nie.

“Hierdie belofte voor ons Here is een wat ons baie ernstig opneem.”

Onlangse beweringe dat Francois handgemeen met ʼn tweede vrou geraak het, stuit nie die paartjie in hul liefdespad nie.

(Foto: Maryna M Photography)

Vanessa en Francois staan vas in hul vertroue in mekaar.

“Ons verhouding was van die begin af baie oop, waar alles bespreek is. Ons kon vrae aan mekaar rig soos wat ons dit nodig geag het.”

“Ons is nie blind vir mekaar se foute nie, maar besef dat die Here se opinie van ons van meer belang is. Ek oordeel hom nie op dit wat was nie, ek is ʼn sterk vrou wat weet hoe groot die Here se genade vir my is, die oordeelwerk is nie myne nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Louise ·

Geluk aan die 2 s is ‘n pragtige vrou en het ook van dag een uitgestaan bo die ander

Pretorianooi75 ·

Twee pragtige mense vir my. Ek is regtig bly vir julle. Mag julle baie gelukkig saam wees.

Hannelie ·

Baie geluk julle tweetjies. Maar hoekom dit nou eers deel? Jul hoef dit nie so lank vir ons weg te gesteek het nie. Mag jul baie gelukkig saam wees.

S ·

Die liefde is mooi en hulle is pragtig saam. Hul persoonlikhede komplimenteer mekaar goed.
Mag ons hemelse Vader julle verhouding en toekomstige huwelik seën.
Ps. Mense sal altyd skinder en praat – laat hulle maar praat…you do you.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.