‘BSV’ se André ʼn ‘toe boek’, maar nou oop vir liefde

André. (Foto: Verskaf)

André, ʼn 31-jarige boer van Modimolle (Nylstroom), is een van die tien boere wat in die 16de seisoen van kykNET se maatsoekreeks, Boer soek ʼn vrou, ʼn kans op die liefde gaan waag.

Hy is ʼn Pretoriase boorling en boer deesdae naby Modimolle met vee, wild en pekanneute. Hy vertel hy het elke mylpaal tot dusver in sy lewe met sukses behaal, maar dat dit nou tyd is vir die volgende belangrike mylpaal: trou en met ʼn gesin begin.

Marciel Hopkins sal vir die vierde keer as aanbieder van die program die boere bystaan in die soektog na ware liefde. Die nuwe seisoen van Boer soek ʼn vrou sal in Julie 2024 op die kassie wees.

André vertel sy oupa het ʼn plaas by Bokfontein gehad en dit is waar hy as kannetjie feitlik elke naweek deurgebring het. Dit is ook daar waar sy liefde vir die Bosveld ontstaan het.

André het vier jaar gelede saam met sy pa begin boer nadat hy sy graad in ingenieurswese behaal het. Hy benut steeds sy graad en het boonop saam met sy pa ʼn internet-tegnologiemaatskappy tot stand gebring.

Tussendeur kry hy ook kans om sy gunstelingsport, gholf, te beoefen, en visvang en reis hou hom ook aan die gang.

Hy het onlangs oom geword en voel hy is nou op die regte plek om alles in die lewe met iemand anders te deel.

“Dinge val mooi in plek vir my, maar my volgende groot mylpaal is om te trou en kinders te kry,” vertel André.

André. (Foto: Verskaf)

“Ek het nie ʼn vooropgestelde idee van hoe my perfekte pasmaat moet lyk nie, maar ek weet dat sy vir my mooi sal moet wees. Ek hoop dat sy my sal kan aanvaar deur vir my te kan lag, maar ook vir haarself te kan lag. Sy moet gemaklik wees in haarself en geduldig met ander.”

André erken dat hy soms koppig en ook hard op homself kan wees. “Ek kan partykeer ʼn toe boek wees, en ek maak nie maklik oop nie.”

Daar is egter ook ʼn ander kant van dié doelgerigte jong boer: hy is betroubaar, hardwerkend en eerlik. André sê voorts hy sal ʼn gelukkige mens wees as hy net die helfte so ʼn goeie mens en man is as wat sy ouma hom vertel hy is.

“Ek is iemand wat familie- en vriendgedrewe is. Dit was juis danksy my vriende se aanmoediging dat ek uit my gemaksone getree het deur vir Boer soek ʼn vrou in te skryf.

“Hulle het vir my gesê ʼn meisie gaan nie sommer net by die voordeur op die plaas opdaag nie. Nou hoop ek hierdie stap gaan my help om liefde te vind.”

André. (Foto: Verskaf)

Hy verklap dat hy nog nooit verlief was nie. “Tog glo ek wel dat ek romanties kan wees as die geleentheid hom voordoen. Op die plaas is daar baie geleentheid en plekke om romanties te wees.”

Dit sal vir André lekker wees as sy pasmaat ook ʼn liefde vir die plaas het en belangstel om in die plaaslewe te deel.

“Maar ʼn mens soek iemand wat ook ambisie het, ʼn plan vir die lewe en hul eie mylpale. Kinders is definitief op die horison. Ek het altyd gesê as ek nie ʼn vrou kry nie, sal ek ʼn kind aanneem, want ek het ʼn groot liefde vir kinders.”

André is baie seker dit is nou die regte tyd om iemand te vind.

“Ek het myself lank genoeg in ʼn hok toegesluit – as ʼn mens dit so kan stel – en ek is nou reg om uit te klim. Ek is reg om oop te maak en indien dit gebeur, is ek reg om seer te kry ook.”

Wil jy vir ʼn boer skryf?

Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:

  • Skryf in op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv.
  • Besoek die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER.
  • Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229.
  • Stuur ʼn e-pos na [email protected]
  • Let wel: Die sluitingsdatum vir briewe is teen middernag op 30 November 2023.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.